MY STORIE
Ruim in die lewe tyd in vir vriende en familie pleks van met hul afsterwe
is een van daardie “tannies” wat op begrafnisse tee skink vir die bedroefde vriende en familie van die oorledene. Met die jare het die aard van hierdie hartseer geleenthede verander. Terwyl almal eens van die kerk na die graf is, word baie mense deesdae veras en is daar dus net ’n gedenkdiens.
Maar een ding het nie veel verander nie, en dis iets wat ek nie heeltemal kan kleinkry nie. Wanneer ek so deur die loop van die oggend met die rouklaers gesels, tref dit my hoe baie van hulle die oorledene ’n lang tyd voor hul dood glad nie gesien het nie. Baie van die oorledenes was lank siek aan byvoorbeeld kanker of ’n hartkwaal, maar hulle het hom of haar nooit besoek nie.
Seer sekerlik sou dit vir die oorledene van meer waarde gewees het as hulle hom of haar in die lewe besoek het? As hulle nie toe die tyd kon afstaan nie, hoekom is hulle vandag hier op die begrafnis? Vir die oorledene of hulself? Om skuldgevoelens te besweer, om ander te vertel hulle het ’n groot vriend of familielid verloor, om te wys hulle was gewaardeerde vriende of familie?
Knyp liewer ’n tydjie af om almal te besoek terwyl hulle nog leef. Dit sal baie meer waardeer word.
Onthou tog, ’n begrafnis is net die afsluiting van ’n lewe. En of dit nou deur 10 of 100 of 1 000 mense bygewoon word, is totaal irrelevant. Die mens is nie meer daar nie. Hy of sy weet nie of jy teenwoordig is nie – en dit maak ook nie meer saak nie.
Neem asseblief die sêding “gee die blomme terwyl iemand nog leef ” ter harte en pas dit toe – sodat jou geliefdes die dood tegemoetgaan met die wete jy was in die lewe daar vir hulle.