SO BOER EK
Op Swart Maandag, toe duisende Suid-Afrikaners respek aan vermoorde plaasslagoffers betoon het, het ’n boer in sy eie woorde vertel hoe dit voel om daagliks met die onsekerheid en angs saam te leef
SWART Maandag. So word die dag genoem toe duisende SuidAfrikaners onlangs die kleur van rou gedra het om hul respek aan die slagoffers van plaasmoorde en landelike misdaad te betoon. Dit het begin met die skietdood op 24 Oktober van die 47-jarige Joubert Conradie op sy plaas, Uitkyk, naby Klapmuts in die Boland – en die roerende videoboodskap van sy vriend Chris Loubser kort daarna – wat ’ n vlaag protes ontketen het.
In ’n land waar almal oor alle grense heen onder misdaad deurloop, het Joubert, wat sy vrou, Marlene, en hul kinders, Hannes (15) en Jana (11), agterlaat, oornag die gesig geword van die emosionele kwessie van plaasmoorde en ’n boeregemeenskap wat beleërd voel.
Volgens die staat het ons nasionale moordsyfer toegeneem van 18 673 in 2016 tot reeds 19 016 vanjaar. Dis 343 moorde meer, oftewel ’n toename van 1,8%. Die polisie teken geen afsonder- like statistieke oor plaasmoorde aan nie, maar talle organisasies hou hul eie statistieke wat van mekaar kan verskil.
Volgens die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het plaasmoorde tussen 2012 en 2016 met 33% toegeneem. In 2017 het 70 mense reeds hul lewe in plaasmoorde verloor, reken die ISS.
Die burgerregteorganisasie AfriForum se statistieke wys daar was vanjaar landwyd reeds 74 plaasmoorde en volgens die landbouorganisasie TLU SA 66.
Die politieke ontleder Piet Croucamp maan dat moord ’n misdaad is wat almal raak en nie verpolitiseer moet word nie. “Die groot probleem is dat die statistieke en data wanaangepas word vir politieke doeleindes of ’n spesifieke politieke agenda. So dra dit nie werklik by tot ’n oplossing vir misdaad of plaasmoorde nie.”
Ook dr. Louis Meintjies, TLU SApresident, sê plaasaanvalle is nie ’n rassevraagstuk nie. “Dit raak swart en wit boere en plaaswerkers en almal se naasbestaandes.”
Maar dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings, sê ras- sespanning en die kwessie van grondbesit kan wel bydra tot die gewelddadigheid van plaasaanvalle. “Boere word daarvan beskuldig dat hulle hul werkers sleg behandel en die grond gesteel het.”
Grondbesit sou kort ná ons druktyd weer in die kollig wees met die bekendmaking van Agri SA en ons sustertydskrif Landbouweekblad se nasionale grondoudit. Rapport het berig dié verslag sou onthul 26,7% van landbougrond is nou in swart en bruin besit.
Op Maandag 30 Oktober, die dag toe duisende stedelinge en dorpenaars swart gedra het of saam met boere in voertuigkonvooie na saamtrekke in Kaapstad, Bloemfontein en Pretoria opgeruk het, het Huisgenoot by ’n boer gaan aanklop om te hoor: Hoe voel dit om vandag ’n boer in Suid-Afrika te wees?
Dit is toe dat ’n 47-jarige boer van Limpopo, wie se pistool altyd op sy heup of onder sy kopkussing is, hart oopmaak oor die vrese wat boere vandag ervaar.
Hier deel hy in sy eie woorde hoe dit voel om daagliks op ’n plaas met onsekerheid en angs saam te leef.