Huisgenoot

’N DRUK – TOE WEET EK MY MAN IS TERUG

Drie maande nadat Stephen jare deur Al-Kaïda vrygelaat is, praat hy en sy vrou oor die vreugde en uitdagings van hul ‘nuwe’ lewe

- Deur JANA VAN DER MERWE

DIE skraal, bebaarde man se krullerige skouerleng­tehare is styf agter sy nek in ’ n poniestert getem. Hy lyk broos toe hy langs sy fyn, blonde vrou buite op die stoep van sy ouerhuis in Sandton, Johannesbu­rg, kom sit. Dit is dieselfde stoep waar Stephen (42) en Catherine (39) McGown mekaar drie maande gelede die eerste keer weer gesien het nadat Stephen in Wes-Afrika ontvoer en vyf jaar en agt maande lank deur die terreurgro­ep Al-Kaïda in die Sahara-woestyn gevange gehou is.

“Ek was altyd bang dat die mens wat sou terugkom nie my man sou wees nie,” erken Catherine in haar eerste onderhoud sedert sy terugkeer eksklusief aan Huisgenoot. “My grootste kommer was dat die man met wie ek getrou het in sy wese sou verander het.”

Die man wat voor haar gestaan het, was inderdaad vir haar ’n vreemdelin­g. Met sy lang, welige baard het sy hom byna nie herken as die avontuurlu­stige beleggings­bankier wat sy meer as ses jaar tevore in Engeland gegroet het nie. Dit was voor hy vertrek het om ’n jare lange droom te bewaarheid – om met ’n motorfiets deur Frankryk, Spanje en Marokko en al langs die Weskus van Afrika te ry tot in Suid-Afrika. Boonop was hy vuil en het ’n lang kleed gedra.

“Maar toe hy glimlag en my vasdruk, was al my onsekerhei­d weg,” onthou Catherine die oomblik waarop sy so lank gewag het. “My man was weer terug.”

SY HET elke dag vir Stephen se veilige terugkeer gebid, vertel Catherine, ’n toegewyde Christen. Sy en sy ouers, Malcolm (71) en wyle Beverley, het vir sy lewe gevrees nadat Stephen en nog twee buitelande­rs op Vrydag 25 November 2011 by hul herberg in Timboektoe in Mali ontvoer is. Sy 69-jarige ma kon nie die blye dag beleef dat haar seun eindelik teruggekom het huis toe nie, want ’n longsiekte het haar lewe twee maande tevore geëis.

Tydens sy jare lange swerftog saam met sy ontvoerder­s deur die Saharawoes­tyn terwyl Al-Kaïda vergeefs vir hom ’n losprys probeer eis het, het Stephen Arabies leer verstaan en lees. Al leesstof wat hy gehad het, was die Koran. Dit het daartoe gelei dat hy die Islam-geloof aangeneem het.

Dit het haar nie onkant betrap nie, sê Catherine, want terwyl Stephen aangehou is, het Suid-Afrikaanse staatsampt­enare haar daarop voorberei dat dit dalk sou gebeur. Sy en Stephen werk steeds deur die geloofskwe­ssie, erken sy. Hulle wil nog nie daaroor praat nie; dit is te sensitief.

Albei is Suid-Afrikaners, maar hulle het mekaar in 2006 in Engeland ontmoet waar Catherine toe as spraaktera­peut gewerk het en Stephen in die bankwese. Ná vyf jaar het die paartjie, wat in 2007 getroud is, besluit om terug te keer Suid- Afrika toe en hier met ’n gesin te begin.

Maar eers wou Stephen sy epiese tog deur Afrika met ’n motorfiets aanpak. Hy het gereken dit sou hom vyf maande neem, min wetend hy sou eers byna ses

 ??  ?? Stephen McGown en sy vrou, Catherine, glo dis ’n wonderwerk hulle is vandag weer bymekaar. Hulle het tydens sy aanhouding van vyf jaar en agt maande nie geweet of hulle mekaar ooit weer sou sien nie.
Stephen McGown en sy vrou, Catherine, glo dis ’n wonderwerk hulle is vandag weer bymekaar. Hulle het tydens sy aanhouding van vyf jaar en agt maande nie geweet of hulle mekaar ooit weer sou sien nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa