KINKELS SOOS IN MY EGOLI
Franz Marx, skepper van SuidAfrika se eerste sepie, het sy eerste roman geskryf – en dis ’n woeste storie!
DIE familietwiste van die Vorsters en Edwardse. Tim en Kimberley se gekonkel. Nenna, Nora en die res se lewensdramas. Die man wat met dié intriges in Egoli, SuidAfrika se eerste sepie, vorendag gekom het en ook met die stories in ouer dramareekse soos Agter Elke Man, moet seker hope sappige stories hê.
Dit is dus verbasend om te hoor toe Franz Marx agter die lessenaar inskuif om sy eerste spanningsroman, ’n bielie van 352 bladsye, op papier te kry, het hy soms maar gesukkel.
“Met Egoli was alles in my kop. Ek het ’n assistent gehad wat dit uitgetik en taalkundiges wat daarna gekyk het,” vertel Franz terwyl sy jongste skepping op die houttafel voor hom in sy aftreehuis op Stellenbosch lê.
“Maar met die skryf van ’n boek moes ek ure lank agter die lessenaar sit en skryf. Dit was moeilik.”
Soms het dit vir hom gevoel hy haak vas. Dan het hy klassieke musiek kliphard op die agtergrond vir inspirasie gespeel. Soms het dit gewerk; soms nie.
Die eindproduk, Spieëlbeeld, verskyn eersdaags. Dit handel oor Dolf Eksteen, ’n sakemagnaat wat in weelde in Johannesburg woon en die straatslim skiewie Joe aanstel om hom te beskerm toe hy doodsdreigemente ontvang.
’n Koelbloedige moord en heelwat kinkels volg, nes ’n mens van Franz sou verwag.
ONS ontmoet Franz in die aftreeoord waar hy die afgelope ses jaar woon saam met sy kat, Katriena, en bostonterriër, Bakkies. Dit is moeilik om te glo die lang gryskopman op die donker leerbank is al 75 jaar oud. Sy debuutroman is ’n woeste storie, vertel hy.
“As die mense hier in die ouetehuis my boek lees, sal hulle my sekerlik uitskop,” sê Franz tong in die kies.
“Aftrede is nie vir sissies nie. Dis nie maklik om jou lewe af te skaal, jou mooiste goed wat jy jare lank by jou gehad het weg te gee of op die een of ander verkoping te sit omdat jy bloot nie meer plek het vir alles nie.”
Franz het in 2011 die groot trek van Sandton in Gauteng na Stellenbosch aangedurf. “Ek mis Sandton vreeslik, maar dink nie ’n mens moet in Johannesburg aftree nie.
“Jy sal in daardie sakestad heeltemal uitgeskuif word. Ek het dit al te veel kere sien gebeur.”
Gelukkig het Spieëlbeeld vir hom hope opwinding in sy aftrede meegebring.
Met die skryf van die roman het Franz vir navorsingsdoeleindes nagklubs en lykshuise besoek en met regsgeleerdes, ontkleedanseresse, lyfwagte en sakemense gesels om ’n beter idee van hul wêreld te kry. Hy wou al sy inligting eerstehands kry en nie bloot op die internet vertrou nie.
En dan verklap Franz hy is ondanks al dié gesukkel nie klaar met die boekewêreld nie. Hy werk reeds aan sy tweede boek.
“Ek wil nog skryf voor dit te laat is, voor ek heeltemal vergeet wat die karakters se name is, voor ek met Pietie begin en met Sarel eindig,” lag hy.
HY DINK min terug aan sy dae by Egoli, sê hy. Dit is ’n hoofstuk in sy lewe waarmee hy klaar is. Hy kyk ook nie enige heruitsendings van die televisiereekse wat hy geskep het nie. “Ek was nog nooit ’ n sentimentele mens nie,” vertel hy. Nadat Egoli se laaste aflewering ná 18 jaar op 31 Maart 2010 uitgesaai is, was hy vir goed klaar met die televisiebedryf.
“Weet ’n mens ooit werklik of jy gelukkig is?” filosofeer hy. “Ek dink nie so nie. ’n Mens weet wel wanneer jy ongelukkig is, ja.
“En ek is tevrede met hoe my lewe verloop het. Ek dink die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval,” sê Franz.
En dan klim hy in sy rooi SL400 Mercedes-Benz op pad na die Paarl vir ’n volgende afspraak, dié enigmatiese skepper van die onvergeetlike Egoli – Plek van Goud.