DIE GESIGTE IN DIE HOF
André du Toit, Henri se oorlede ma se broer, is soms al familielid van hom wat die verhoor bywoon. Hy skuif elke keer alleen by dieselfde plek op die openbare galery in. Wanneer Henri die hof binnestap, kyk hy altyd op na sy oom en knik vir hom. Soms tydens teepouse gesels hulle vinnig in die gang. André en sy vrou, Sonja, is as Henri en Marli se voogde aangewys. Marli woon by hulle en mag geen kontak met haar broer hê nie.
Sy familie aan moederskant glo in Henri se onskuld, soos sy tante Leenta Nel, wyle Teresa se suster wat in Kanada woon, tevore aan Huisgenoot gesê het.
Lede van die Van Breda-familie, soos Bailey en André, Henri se oorlede pa se tweelingbroers, het ook al die verhoor bygewoon, maar het dan ver van André du Toit gesit.
Adv. Pieter Botha, Henri se regsverteenwoordiger, maak gereeld bril op die neus en met ’n bulderende stem beswaar teen die staat se vrae. Hy benadruk dit ook gereeld in die hof dat Henri onder finansiële druk is.
Hy en Marli is die enigste erfgename van hul ouers se boedel van sowat R200 miljoen, maar sou hy skuldig bevind word, mag hy kragtens die regsbeginsel van “die bloedige hand’’ niks erf nie. Tot die moordsaak afgehandel is, mag hy ook geen geld uit die boedel ontvang nie.
Die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, en haar assistent, adv. Megan Blows, sit elke dag agter die ondersoekbeampte, sers. Marlon Appollis. Susan het Henri meer as vier dae ondervra oor die presiese gebeure op die moordnag. Met die skud van haar kop of frases soos “wil jy regtig vir my sê . . . ” laat sy soms blyk sy stem nie saam met sy antwoorde nie.
Tydens sy getuienis staan Henri dikwels in die getuiebank, want hy vind dit te klein om daarin te kan sit. Desai vra gereeld of hy gemaklik is en vra ook sy assistent om vir Henri ’n glas water te bring.
Die regter onderbreek die staatsaanklaer gereeld terwyl sy Henri kruisondervra om self vrae aan Henri te stel, soos waarom hy nie tydens die aanval sy pa en broer probeer help het nie. Wanneer die spanning oplaai, maak die regter soms ’n grappie en lag dan saam met die hofgangers. Toe Henri verduidelik hul hond, Sasha, blaf nie vir vreemdelinge nie omdat sy nie gevaar ken nie, het die regter opgemerk sy is “’n hoërmiddelklashond”.
(Blaai om)