Huisgenoot

FAMILIE FRONS OOR NUWE LIEFDE

-

Ek is ’n paar jaar gelede ná ’n moeilike huwelik geskei. Nou het ek ’n lewensmaat ontmoet vir wie ek lief is. Ons is van verskillen­de rassegroep­e. Ek wens mense en my familie kan by iemand se velkleur verbykyk en sien ons is net twee mense wat gelukkig is. Ek kan nie met my familie hieroor gesels nie. Hulle is bang oor wat mense gaan dink. Hulle weet nog nie eens ons is al ’n jaar lank in ’n verhouding nie, al vermoed hulle dit. Ek is nie bereid om my geluk op die spel te plaas om my familie se keuses en voorkeure te “eerbiedig” nie. Moet ek oop kaarte speel?

DK op KS

Ek is so bly jy het iemand gevind vir wie jy kan lief wees ná jou teleurstel­lende huwelik. Al wat saak maak, is hoe julle twee oor mekaar voel.

Sit koppe bymekaar met jou lewensmaat oor hoe julle die saak kan aanpak. Julle sal ’n strategie moet bedink. Hoe het sy ouers jou as sy maat aanvaar, en watter pad stap julle met hulle?

As jou maat daarvoor te vinde is, moet jy reël om alleen en privaat met jou ouers daaroor te gesels. Dinge kan dalk gesê word waaroor almal later spyt gaan wees; daarom is dit beter dat jy eers ’n oop gesprek met hulle daaroor voer sonder dat hy by is.

Jou ouers gaan dalk verraai voel omdat jou standpunt so drasties van hulle s’n verskil. Die vertroue tussen julle kan ook geskend wees omdat jy die verhouding eers geheim gehou het.

Hulle kan dalk met vervreemdi­ng dreig, maar jy sal kalm en geduldig moet wees en ferm by jou standpunte bly. Wys hulle daarop dat jy nie volgens hul waardes kan leef nie en verseker hulle jy is volwasse genoeg om die eise en uitdagings van so ’n verhouding die hoof te bied.

Aanvaardin­g gaan nie oornag gebeur nie. Vra tydens hierdie gesprek en ook opvolggesp­rekke of jy ’n geleenthei­d kan skep waar hulle jou maat kan leer ken en waardeer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa