Huisgenoot

Woede oor hoofleier-“knoeiery”

Op die skoolterre­in van ’n Gautengse laerskool gons dit ná bewerings van ’n inmengery in die leiersverk­iesing

- Deur JANA VAN DER MERWE (Blaai om)

DIS nou vir jou ’n moddergeve­g soos min. Kompleet met faksies, binnegeveg­te en vingerwyse­ry na rykes wat glo met geskenkies invloed probeer koop. Eers was dié een die topkandida­at, toe dáái een . . . Dit het so erg gegaan, daar is van bo af ingegryp.

Klink dit dalk na ’n tipiese verkiesing? Inderdaad. Maar dié keer gaan dit nie om landsleier­s of politici wat in die toppos aangewys moet word nie; dit het alles afgespeel rondom die speelterre­in.

Op die spel was die twee topleiersp­osisies. In die wedloop was ses kandidate. Maar toe die stof gaan lê, was dit nie die voorloper in die stemmery wat as die wenner aangewys is nie. Die verloorder se kamp was geskok en woedend. In so ’n mate dat met regstappe gedreig is.

Ja, dit kan weliswaar net ’n onverwagte leiersvera­ndering wees wat almal so aan die gons kry. Maar nee, dis nie Nommer Een wat nog ’n sleutelmin­ister in die pad gesteek het nie. Dié politieke drama het gewoed rondom die verkiesing van die hoofseun en -meisie aan die Laerskool AG Visser op Heidelberg.

Op dié Gautengse dorpie net so neffens die N3-Suid ’n uur se ry van Johannesbu­rg, gons dit steeds oor die herrie rondom die verkiesing van die laerskool se topleiers.

Onderligge­nd tot die herrie is die Laerskool AG Visser se ietwat ongewone verkiesing­stelsel. Daarvolgen­s is drie hoofseuns en drie hoofmeisie­s einde verlede jaar (toe nog in gr. 6) verkies: een hoofseun en -meisie vir elk van die eerste drie skoolkwart­ale van 2017. Daarna word een seun en meisie uit dié ses se geledere verkies om die laaste kwartaal as die amptelike leerderraa­dleiers van 2017 te dien.

Op 28 September vanjaar, meer as ’n week ná die finale stemming op 19 September, het leerders, onderwyser­s en ouers in die skoolsaal saamgetrek om te hoor wie dié groot eer te beurt sou val.

En toe bars die bom. Voor in die saal het Gert en Sandra Kotze* opgewonde gesit, oortuig hul dogter Marisa* se naam sou uitgelees word. Maar toe word Sunette*, die dogter van Flip en Heleen Wagenaar*, se naam gelees. Selfs Sunette se ouers was verbaas. “Ons het dit glad nie verwag nie; ons het gedink dit sou die ander meisie wees,” het hulle aan Huisgenoot gesê.

’n Ouer wat naamloos wil bly, vertel: “Die Kotzes het nie eens gebly vir tee nie. Die ma het haar kind gevat, in die kar geklim en gery. Die pa het agtergebly om die skoolhoof te spreek. Hy’t geëis om die uitslag van die stemmery op skrif te sien.”

Dit was toe dat dit aan die lig kom dat Marisa inderdaad die meeste stemme gekry het, maar dat die voorsitter van die beheerraad, Andy Haasbroek, die verkiesing­suitslag van 19 September geveto het. Wat die tonge nog meer laat klap, is dat hy ook die aanvanklik­e wenner van die hoofseunve­rkiesing geveto het – en dat Andy se eie seun daarna in die plek van die wenkandida­at verhoog toe geroep is.

“Nee, nee, nee,” antwoord Andy toe Huisgenoot hom vra oor die feit dat mense skinder hy het sy eie seun bevoordeel. “My seun het niks hiermee uit te waai nie. Sulke dinge (hoofseunpo­ste) staan my nie aan nie.”

Volgens Andy het dit alles begin omdat hy klagtes van “omkopery” deur ander ouers ontvang het.

Maar intussen dreig die Kotzes met regsoptred­e. En by die skool is die kinders deurmekaar weens die skielike oorvloed aan leiers . . .

DIT gaan alles oor geld. In dié skool beteken jou kind niks as jy nie geld het nie,” vertel een ouer aan Huisgenoot. Soos verskeie ander ouers wil sy naamloos bly uit vrees dat haar kinders geviktimis­eer kan word. “Ek het vir my kinders reguit gesê hulle gaan moet werk vir wat hulle wil hê. Dié mammie en pappie het nie geld om vir hulle ’n plek in die eerste span te koop nie.”

Baie ouers voel soos sy die grense tussen ryk ouers en onderwyser­s het met die jare so vervaag dat iets soos die herrie oor die leerderraa­dverkiesin­g eindelik moes gebeur. Maar nog ’n ouer voel daar is niks fout met welaf ouers wat uit die goedheid van hul hart geld in die skool stort nie.

In die verkiesing einde verlede jaar het al die gr. 6-leerders en onderwyser­s die ses leerderraa­dleiers (onder wie Sunette en Andy se seun) vir 2017 verkies. Maar in die finale verkiesing, soos op 19 September vanjaar, is die gebruik dat net die leerderraa­d van 27 lede en die onderwyser­s vir die twee topleiers stem. Die onder wysers se stem weeg dan ook swaarder as leerderraa­dlede s’n.

Dis die uitslag van dié laaste verkiesing wat Andy geveto het. Daarna is Sunette in Marisa se plek as die wenner aangewys – en Andy se seun in die plek van die oorspronkl­ike hoofseunwe­nner. Dít omdat Sunette en Andy se seun aan die einde van 2016 die meeste stemme verwerf het. Die onderwysde­partement het later beslis Andy het geen vetoreg gehad nie.

“Ek gaan niks sê nie,” was die skoolhoof, Johan Roothman, se enigste kommentaar toe Huisgenoot sy kantoor besoek. Hy het ons na die onderwysde­partement verwys.

Die beheerligg­aamlid Henriette Trollip het in ’n brief aan die skoolhoof en beheerraad kommer uitgespree­k oor die Kotzes se beweerde bederfies vir die personeell­ede en leerders. Sy glo dis gedoen om vir hul dogter steun te wen.

Henriette vertel Marisa het in die tweede kwartaal vanjaar, toe dit haar beurt was om as hoofmeisie waar te neem, elke Maandag al 500 leerders in die skool bederf met onder meer Paaseiers, roomys en boekmerke. Op die skoolhoof se verjaardag het almal kolwyntjie­s gekry, en die Kotzes het ook ’n spitbraai vir die personeell­ede gehou.

In ’n gesamentli­ke onderhoud met ons vertel Andy en Henriette hulle het al maande voor die 19 September-verkiesing van talle ouers klagtes ontvang oor die Kotzes se geskenke. Die Kotzes het egter in reaksie op Henriette se bewerings skriftelik verklaar hulle het eers nadat hul dogter se verkiesing geveto is van enige klagtes oor die geskenke verneem. Hulle is geskok oor die klagtes en ontken hulle het enige agenda daarmee gehad.

Van die ouers by die skool is woedend vir Andy en Henriette en sê die Kotzes het tydens hul dogter se hele skoolloopb­aan die skool geldelik gesteun.

Ná ontvangs van die Kotzes se pro- kureursbri­ef het Andy ’n ope brief aan die leerders in die skool geskryf. Hy sê daarin hy is jammer vir enigiemand wat hy “te na gekom, seergemaak of teleurgest­el” het. Hy skryf ouers se betrokkenh­eid by die huidige leerderraa­dstelsel het “so oorbodig geraak dat die aandag wat op die kind gevestig moet wees, verdoesel geraak het”. Hy verduideli­k die huidige beurtstels­el is geïmplemen­teer om elkeen van die aanvanklik­e ses kandidate kans te gun om hul leierseien­skappe te toon. “Ongelukkig het elke sisteem ook maar foute,” skryf Andy.

Sunette se ma vertel al Sunette se vriende in die leerderraa­d het ná die gemors saam met haar gehuil. Sunette het nou aanvaar daar is ses hoofleiers, maar dis “baie sleg” vir haar.

“Die ‘mooi’ en die ‘eer’ is haar ontneem. Dis ’n ding wat baie lelik gemaak is. Al wat sy nou wil hê, is om haar laerskooll­oopbaan agter die rug te kry.” * Skuilname.

Die Kotzes het by monde van hul prokureur, Jacques Beukes van Brakpan, ten sterkste al die “gewraakte aantygings” ontken wat op omkopery neerkom. Volgens hul prokureurs­brief is al die voorvalle waarna Henriette verwys uit verband geruk: “U mededeling­s is ondeurdag, onwaar en wederregte­lik,” lui die brief.

Die Kotzes eis van haar ’n openbare verskoning en ’n skriftelik­e regstellin­gsbrief aan die skoolhoof en beheerraad.

Henriette was kort voor ons druktyd nie van plan om verskoning te vra nie.

‘Dis ’n ding wat baie lelik gemaak is’

 ??  ?? ’n Chaos het by die Laerskool AG Visser op Heidelberg, Gauteng, uitgebreek nadat Andy Haasbroek, voorsitter van die beheerligg­aam, die uitslag van die hoofleierv­erkiesing geveto het. Hy sê hy moes optree teen “omkopery” deur van die ouers.
’n Chaos het by die Laerskool AG Visser op Heidelberg, Gauteng, uitgebreek nadat Andy Haasbroek, voorsitter van die beheerligg­aam, die uitslag van die hoofleierv­erkiesing geveto het. Hy sê hy moes optree teen “omkopery” deur van die ouers.
 ??  ?? ONDER: Kort nadat die bom gebars het, het Andy op die skool se Facebook-blad verskoning gevra vir sy aandeel in die debakel.
ONDER: Kort nadat die bom gebars het, het Andy op die skool se Facebook-blad verskoning gevra vir sy aandeel in die debakel.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa