Graça vertel van Madiba se beste jare
Met die verskyning van Madiba se nuwe boek oor versoening gesels Graça Machel oor hul lewe saam en die bewaring van sy nalatenskap
TYDENS die jaarlikse Verenigde Nasies-samekoms van staatshoofde wemel Manhattan van presidente en premiers. Dis ’n omgewing wat die vrou in die pienk-en-rooi blommerok goed ken. Nie net is Graça Machel die weduwee van oudpres. Nelson Mandela nie; sy is ook al mens in die geskiedenis wat met die staatshoofde van twee verskillende republieke getrou het. Dié beskrywing irriteer haar.
“Ek het nie met twee staatshoofde getrou nie,” help sy my reg. “Ek het met twee uitsonderlike mense getrou.” Die eerste was haar mede-Mosambieker Samora Machel, wat die land ná onafhanklikheid gelei en in 1986 in ’n geheimsinnige vliegongeluk gesterf en haar met twee jong kinders agtergelaat het. Sy was so verpletter, sy het vyf jaar lank swart gedra. En toe, terwyl sy ’n nuwe lewe vir haarself uitgekerf en haar bewyer het vir kinders wat in konflik vasgevang is, vind sy onverwags liefde by Suid-Afrika se eerste swart president. Madiba het gesê sy het hom “laat blom”.
Graça is skugter om oor haar gevoelens te praat. “Ek het Madiba ontmoet en in die beste jare van sy lewe met hom saamgeleef,” sê sy en glimlag teer. “Hy het al soveel bereik toe ek hom ontmoet dat hy hom nie hoef te bewys het nie, selfs nie teenoor my nie. Mense sê ek het met ’n staatshoof getrou. Ek het nie. Ek het met Nelson Mandela getrou. Ek het soos enigeen met ’n man getrou.”
Behalwe dat Mandela nie enigeen was
nie. Nou is sy die bewaker van sy nalatenskap – geen maklike taak nie met dié dat die hele wêreld dink hulle ken hom. Die uitdaging is nog groter met ’n president aan die bewind wat baie meen Mandela se visie van ’n vrye, vooruitstrewende en nierassige Suid- Afrika bedreig. Daarby is daar soveel onmin in die Mandela-familie oor die verdeling van erfgoed dat Graça (72) gedwing is om te trek uit die huis in Johannesburg wat sy met hom gedeel het.
“Ek is net ’ n huisvrou,” hou sy vol toe ek oor die huidige situasie in Suid-Afrika uitvra. “Wat het ek met politiek uit te waai?”
Ons ontmoet mekaar omdat sy ’n wakende oog gehou het oor die voltooiing van Mandela se laaste projek: sy vertelling oor die eerste nierassige verkiesing in 1994 en sy jare as president. Dié opvolg van sy eerste memoires, Long Walk to Freedom, was veronderstel om in sy eie stem te wees, maar hy het te veel verswak en gesterf voor hy dit kon klaarmaak.
“Hy wou dit op dieselfde manier as met die eerste boek doen, maar kon nie omdat hy daardie een snags in die tronk geskryf het,” verduidelik Graça. Met die tweede een “was hy as staatshoof baie besig, en ons het hom van Johannesburg of Kaapstad weggeneem na ’n baie stil plek, ’n plaas in Limpopo, waar hy kon fokus”.
Sy lag toe ek vra of hy ’n rekenaar gebruik het. “Nee.” Hy was nie rekenaargeletterd nie; hy het met die hand geskryf.
Hy het sowat 70 000 woorde neergepen voor sy dood in Desember 2013 aan longontsteking. Graça het Mandla Langa, ’n Suid-Afrikaanse digter en romanskrywer, aangestel om “dit te omskep op ’n manier dat dit lekker sou lees” en mense wat die nouste met hom saamgewerk het, betrek om dit in perspektief te stel. “Madiba was baie goed met notas hou, sy persoonlike dagboek,” vertel sy. “Ek het sy raadgewers gebel, want hulle het geweet van die besluite wat hy geneem het en waarom.”
Die boek is ’n handleiding oor versoening, met volle besonderhede oor sy pogings om eertydse vyande in ’n regering te laat saamwerk. “Jy moet onthou: Die wit gemeenskap het nooit ’n voet in Soweto gesit nie,” sê sy laggend. “Hulle het geen idee gehad wat aan daardie kant gebeur nie, en skielik moes hulle ’n kabinet met daardie mense deel.”
Die boek heet Dare Not Linger. Die titel kom uit die slotparagraaf van Madiba se eerste boek, waarin hy skryf oor hoe hy die kruin van ’n groot heuwel bereik en ’n bietjie rus voor hy sy reis voortsit. “Ek kan net ’n oomblik rus. Want saam met vryheid kom verantwoordelikhede en ek durf nie talm nie, want my lang staptog het nog nie geëindig nie.”
GRAÇA het uit eie reg ’n merkwaardige reis onderneem: van ’ n familie van kleinboere tot die eerste Afrikavrou wat ’ n Britse dame geword het – waarskynlik die enigste dame wat ’n AK-47 kan uitmekaarhaal.
Sy is gebore aan die kus van Mosambiek, toe ’n Portugese kolonie, as Graça Simbine, die dogter van ’ n weduwee. Danksy ’n beurs kon sy gaan na ’n hoërskool in Maputo, waar sy die enigste swart meisie in haar klas was. Nadat sy in Lissabon tale bestudeer het, het sy by die Front vir die Bevryding van Mosambiek aangesluit en is sy as guerrillavegter opgelei.
Daar het sy Samora, die beweging se charismatiese leier, ontmoet en die twee het tydens die revolusionêre oorlog minnaars geword. Toe Mosambiek in Junie 1975 onafhanklik word, het Samora die president en sy die minister van onderwys en kultuur geword. Hulle is twee maande later getroud.
Ná Samora se dood het Mandela uit die tronk met haar gesimpatiseer. “Ons moet glo dat sy dood jou sal versterk en ook jou vasbeslotenheid om eindelik vry te wees,” het hy geskryf. “Ons stryde was nog altyd verbind, en ons sal saam seëvier.” Graça het geantwoord: “Vanuit jou gevangenis het jy in my uur van donkerte ’n ligstraal gebring.”
Dit was profetiese woorde. Nadat Mandela in 1990 uit die tronk vrygelaat is, het hy Maptuo besoek en Oliver Tambo, sy sieklike medevryheidsvegter, se plek ingeneem as peetpa vir die Machel-kinders.
Graça was nog altyd vaag oor wanneer hul verhouding begin het, dalk omdat
‘Mense sê ek het met ’n staatshoof getrou. Ek het nie. Ek het met Nelson Mandela getrou’
Mandela toe nog getroud was met sy tweede vrou, Winnie Madikizela. Sy het eenkeer vir my gesê vir haar was dit nie liefde met die eerste oogopslag nie; sy beskryf dit eerder as “iets dieps, soos ’n klok wat van binne lui”. Ander vertel dit was Mandela wat haar eindeloos soos ’n tiener gebel het.
Sy het eindelik ingestem toe Mandela aanhou vra dat sy by hom in Suid-Afrika kom kuier, en hul romanse het geblom. Dié nuus het bekend geword toe hulle naby sy huis gaan wandel en hy haar ’n pienk roos gee.
Ná sy egskeiding in 1996 het sy hom op sy reise begin vergesel. Eers na Parys, Frankryk, en toe na Zimbabwe, vir pres. Robert Mugabe en sy tweede vrou, Grace Marufu, se spogtroue.
Op Mandela se 80ste verjaardag in 1998 het Graça tydens ’n privaat seremonie by sy huis die derde mev. Mandela geword, ’n geleentheid so beskeie dat selfs sy woordvoerder nie daarvan geweet het nie. Maar sy verjaardagpartytjie daarna, ook hul huweliksonthaal, was allesbehalwe beskeie. Sowat 2 000 gaste het dit bygewoon, onder wie Michael Jackson en Stevie Wonder. Aartsbiskop Desmond Tutu het die preek behartig.
Graça glo sy was die gelukkigste van Mandela se drie vroue (hy was van 1944 tot 1958 met Evelyn Ntoko Mase getroud). “Wanneer jy ’n jong man en vrou is, moet julle elkeen jul eie basis in die verhouding bou. Maar toe ons mekaar ontmoet, was Madiba in die 70 en ek in die 50.
“Dit was ’ n verhouding tussen volwasse mense wat geweet het wat hulle uit die lewe wil hê. Op daardie tydstip in jou lewe wil jy kameraadskap en wedersydse begrip geniet.
“Die ander vroue het hom ontmoet toe hy baie besig was met die struggle. Maar hy kon baie tyd saam met my deurbring, en ons het die plesier gehad om na plekke te gaan waarheen ons graag wou en om te doen wat ons wou.”
Mandela word dikwels as ’n heilige beskou, en ek wonder of hy ooit dinge gedoen het wat haar geïrriteer het. “Hy het sy eie swakhede gehad, nes enigeen,” antwoord Graça. “Gelukkig was hy by sy vriende en familie ’n baie eenvoudige, toeganklike en nederige man; daarom was daar nie ’n kloof tussen wat die publiek dink en die werklikheid nie.”
Glansmense was altyd tot hom aangetrokke, van koninklikes tot die room van Hollywood. Een van sy gunstelingmense was die koningin van Brittanje, wat hy Elizabeth genoem het. Toe Graça hom daaroor berispe, het hy geantwoord: “Wel, sy noem my Nelson.”
“Hulle het baie respek vir mekaar gehad; hulle het mekaar met elke verjaardag en met ander geleenthede gebel.”
TOE ek haar oor Mandela se laaste jare uitvra, skud sy haar kop. “Ek dink nie ek is gereed om daaroor te praat nie. Dis al vier jaar, maar maak nog seer.”
Sy is so privaat, haar enigste aanhaling in die boek is ’ n opmerking oor hoe gesteld hy was oor sy drag en roetine, hoe hy elke oggend sou opstaan om te oefen, sy pajamas opvou en sy bed opmaak, tot sy huishoudelike personeel se ergernis.
“Hy was buitengewoon gedissiplineerd. Selfs die dissipline om ’n inskrywing in sy dagboek te maak – hy sou dit elke dag doen, al was hy moeg.
“Ek dink hy het dit in die tronk ontwikkel. Dit was deel daarvan om die morele krag op te bou om die vyand te kon konfronteer; daarom het hy verwoed boeke gelees wanneer hy dit toegelaat is, en hy het homself opgevoed sodat hy nooit onverhoeds betrap sou word nie. Een ding wat baie mense verbaas het toe hy uit die tronk kom, was dat hy die ontwikkeling in die wêreld – op politieke en ekonomiese vlak – verstaan het asof hy nooit weg was nie.”
Die boek herinner ’n mens aan wat met ware leierskap bereik kan word. Sy regering was een van nasionale eenheid. Nie net het oudpres. FW de Klerk sy adjunk geword nie; lewenslange ANCvryheidsvegters was in dieselfde kabinet as die wit politici wat hulle vroeër in die tronk gestop het.
“Madiba wou almal betrek om te kon sê: ‘Die nuwe era in Suid-Afrika behoort ook aan my, en ek het ’n verantwoordelikheid om te sorg dat dit slaag,’ ” sê Graça.
“Natuurlik het almal nie saamgestem nie. Soms was daar spanning en moord, maar die unieke ding omtrent hom was dat almal sy morele gesag aanvaar het. Selfs wanneer hulle nie saamgestem het nie, het hulle geweet hy is die beste mens om in daardie posisie te wees, om al die magte saam te snoer.”
Ek vra hoe Madiba sou gevoel het oor vandag se gebeure in Suid-Afrika, waar pres. Jacob Zuma – te midde van bewerings oor korrupsie, baantjies vir boeties en wanbestuur van die ekonomie – in Augustus ’n sesde mosie van wantroue in die parlement oorleef het.
‘Dit was ’n verhouding tussen volwasse mense wat geweet het wat hulle uit die lewe wil hê’
Die twee mans was medegevangenes op Robbeneiland, en Mandela gee ’ n gloeiende beskrywing van hom in die boek as ’n “sprekende voorbeeld van ’n leier wat deurgaans die land se welstand bo persoonlike of partybelange stel”. Dit het onlangs aan die lig gekom Mandela het hom in 2005 R1 miljoen gegee om sy skuld af te betaal. Dit was toe oudpres. Thabo Mbeki Zuma as adjunkpresident uitgeskop en aanklagte van korrupsie en verkragting hom in die gesig gestaar het.
Mandela sou sekerlik met afgryse gevul gewees het oor Zuma se optrede vandag? “Ek dink nie enigeen kan daarop antwoord nie,” sê Graça. “Hy het besluit om nie in te meng met die leierskap ná hom nie. Hy sou die nuus kyk, en wanneer hy hom oor enigiets bekommer het, sou hy ’n baie diskrete manier vind om daardie kwessies met die leiers aan te roer.”
Later het sy Mandela teen ontstellende inligting beskerm. “Toe hy oud en moeg was, wou ek nie hê hy moet swaarkry nie. Wanneer daar iets was wat hom sou ontstel, sou ons ’n manier vind om nie die koerant te lees of nuus te kyk nie.
“Soms was dit familienuus,’’ voeg sy by. “Wanneer daar probleme in die familie was, sou ons besluit om dit sonder sy medewete op te los. As hy daarvan geweet het, sou hy as hoof van die familie betrokke wou gewees het.”
Een van die tragedies van sy latere jare was die Mandela-familie se onsmaaklike rusies oor geld en oor wie hom as die hoof daarvan sou vervang. Toe hy ernstig siek was in die hospitaal, het sy oudste dogter, Makaziwe (uit sy huwelik met Evelyn), sy oudste kleinseun, Mandla, hof toe gesleep omdat hy heimlik die liggaam van drie van Mandela se kinders op familiegrond laat opgrawe het.
Graça sê Mandela se 27 jaar in die tronk het sy tol van die familie geëis. “Sy kinders was klein toe hy tronk toe is. Hulle het sonder hom grootgeword. Toe kom hy uit, en hulle is volwassenes met ’n gesin en hy wil sy gesag uitoefen. Die tyd daarvoor was nie reg nie.”
Sy wil nie uitwei oor gerugte van ’n vete met Winnie nie – dié het glo al na Graça as “die houvrou” verwys – of oor bewerings dat die res van die Mandela-familie bande met haar verbreek het.
Maar toe ’n boek deur Mandela se dokter, die voormalige luitenant-generaal van die Suid-Afrikaanse Weermag Vejay Ramlakan, in Julie vanjaar verskyn, het Graça opgetree.
Sy het dit as ’n “aanval op my oorlede man se vertroue en waardigheid” bestempel en gesê sy win regsadvies in. Kort daarna het die uitgewer, Penguin Random House, die boek onttrek uit respek vir Mandela se familie.
Om haar man se nalatenskap te beskerm is nie al uitdaging wat Graça die hoof moes bied nie. Sy het twee jaar gelede op haar 70ste verjaardag gehoor haar enigste dogter, Josina, is in die hospitaal nadat dié se kêrel haar so erg aangerand het dat haar regteroog oopgeskeur het. Ondanks verskeie operasies kon die sig daarin nie gered word nie, en ma en dogter het begin met ’n regstryd teen die man, Rufino Licuco. Hy is ’n sakeman van Mosambiek.
Licuco is in Februarie beveel om skadevergoeding te betaal en drie jaar tronkstraf opgelê, maar sy vonnis is vir vyf jaar opgeskort.
Graça glo haar eie toekoms draai om vroueregte. Die voormalige guerrillavegter pak ’n nuwe bevrydingstryd aan. “Afrika het ’n nuwe era van bevryding nodig, een wat aangedryf word deur die ekonomiese bemagtiging van die vasteland se vroue,” sê sy.