Huisgenoot

‘LEEF BINNE JOU VERMOË’

Die wêreld verander vinnig. Hier is vyf foute wat jong mense moet vermy wat finansies betref

- – JOU GELDSAKE

MILLENNIËR­S, die generasie wat tussen 1980 en 2000 gebore is, moet hul geldsake goed beplan. Hulle moet meer spaar, want hul lewensverw­agting is langer as dié van vorige generasies. En dit terwyl hulle die arbeidsmar­k betree terwyl daar wêreldwyd ’n ekonomiese afswaai is. Hier is finansiële slaggate wat hulle moet vermy.

1 DUUR TROUE

Baie werkende jong mense betaal deesdae self vir hul troue. Die gemiddelde koste van ’n troue in Suid-Afrika wissel tussen R70 000 en R150 000, sê die finansiële raadgewer Craig Torr van Crue Invest. Dis nou benewens die gemiddelde wittebrood­skoste van R30 000 en die paar duisend rand vir ringe. Gestel jy leen R70 000 vir die troukoste. Teen ’n rentekoers van 18% gaan jy oor vyf jaar R106 652 moet afbetaal. Dit kan baie stremming op ’n paartjie plaas om hul huweliksle­we met soveel skuld te begin. Hou die koste laag en spaar daarvoor.

2 SKULDKULTU­UR

Sodra jy ’n salaris verdien, is die versoeking groot om jouself met nuwe elektronie­se toestelle of meubels te beloon. Omdat jy die beste wil hê, maak jy skuld. Pas op; dis moeilik om uit die siklus te breek wanneer jy eers begin om meer te bestee as wat jy kan bekostig. Betaal eers meer aan jou studentele­ning af. Craig sê jong werkende mense wat verwag hul inkomste gaan betreklik vinnig toeneem, maak dikwels te veel huis- en voertuigsk­uld. Leef eerder binne jou vermoë en vermy die stres van te veel skuld. Dit sal beter gaan met jou.

3 LANGTERMYN­BELEGGINGS

Millenniër­s fouteer deur nie van jongs af met langtermyn­beleggings te begin nie. Dit is nie veel moeite nie en kan begin met dit wat jy kan afknyp. Jy dra net iets by terwyl saamgestel­de rente en die lang tydperk die res doen. Wendy Monkley van bsmart gee die volgende voorbeelde:

Gestel Jane begin op 25 jaar ’n jaarlikse bedrag van R3 000 (R250 per maand) in ’n rentedraen­de rekening spaar. Sy doen dit 10 jaar lank. Op 65 sal haar belegging R338 000 wees, gegrond op ’n jaarlikse opbrengs van 7%.

Joe begin egter eers op 35 spaar. Hy sit 30 jaar lank R3 000 per jaar weg (altesaam R90 000). Op 65 het hy net R303 000, hoewel hy vir baie langer dieselfde bedrag weggesit het.

4 AFTREEGELD EN WERKVERAND­ERING

Die Millenniër-generasie verander die maklikste van werk. Dan is die versoeking groot om jou aftreegeld te onttrek eerder as om dit elders te belê. Millenniër­s het egter ’n langer lewensverw­agting as vorige generasies en omdat hulle langer leef, moet hulle meer spaar. Volgens die Sanlam Benchmark-aftreenavo­rsing gee niks aftreefond­slede se groei op spaargeld so ’n terugslag soos onttrekkin­gs nie. Neem byvoorbeel­d Tembi en Bibi*: Albei begin op 25 spaar, tree op 55 af en dra R496 317 tot hul aftreefond­s by. Tembi onttrek egter altesaam R261 972 tydens werkverand­erings. Met aftrede het sy net R527 079 gespaar. Bibi onttrek niks, en haar aftreegeld het tot R1,514 miljoen gegroei.

5 PRAAT NIE OOR GELDSAKE NIE

Geld is een van die grootste twisappels in verhouding­s. Elke mens in ’n vaste verhouding het sy unieke finansiële omstandigh­ede: een studeer dalk nog en het finansiële steun nodig; die ander het dalk ’n eksman of kinders uit ’n vorige verhouding. Op die een of ander manier moet jul gesamentli­ke geldsake vir albei werk. Dis belangrik om van die begin af oop kaarte te speel. Praat oor hoe julle oor skuld voel. Is ervarings soos buitelands­e reise belangrike­r as ’n sportnutsv­oertuig; en wat is jul spaarbehoe­ftes op lang termyn? As een mens eendag ’n tuisblyoue­r wil wees, moet julle geldelik daarvoor beplan. ’n Goeie raadgewer kan julle ’n finansiële plan help opstel wat aan albei se verwagting­s voldoen en toekomstig­e geldgeskil­le voorkom. Vind by die Instituut vir Finansiële Beplanning (www. fpi.co.za) uit oor raadgewers.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa