ONDERWYSERS MOENIE SKREE NIE
Ek verwys na Liewe Elize se antwoord aan die ouer van ’n dogter onder die opskrif “Kwaai juffrou ontstel dogter” (26 Oktober).
Ek is ’n afgetrede onderwyser met 41 jaar ondervinding as skoolhoof. Die laaste 23 jaar daarvan was ek hoof van ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.
Graag deel ek sewe punte na aanleiding van die leser se vraag:
1. Onderwysers is nie veronderstel om op kinders te skree nie. Dis ’n teken van emosionele onvolwassenheid by die onderwyser en wys hy of sy kan nie dissipline handhaaf nie.
2. Kinders kan dit vertolk as aggressie. Die ervaring het my geleer die kinders begroet die onderwyser se aggressie met aggressie, wat nog dissiplineprobleme veroorsaak.
3. Ek sou graag wou weet wat die aard van die onderwyser se uitlatings is, maar onder geen omstandighede behoort ’n leerkrag kwetsende aanmerkings te maak nie.
4. Kinders gaan skool toe om onderrig en opgevoed te word, nie om op geskree, verneder of ontstel te word nie.
5. Skole is kinders se “tweede” tuiste; ’n omgewing van liefde en geborgenheid moet daar geskep word. Dit moenie ’n plek wees waarvoor die kind naderhand bang is nie.
6. My raad aan die ouer is om die skoolhoof te gaan spreek en in die hoof se kantoor ’n oplossing te vind. As dit nie slaag nie, moet die ouer die betrokke onderwysdepartement nader om hulp deur spesialiste, soos opvoedkundige sielkundiges en terapeute.
7. Ek is terdeë bewus van die druk waaronder onderwysers werk en die eise wat aan hulle gestel word, maar hulle moet te alle tye ’n voorbeeld stel.
Ek kan nie insien hoe ’n onder wyser wat op kinders skree en dinge kwytraak wat die kinders ont stel ’n rolmodel kan wees nie.