Huisgenoot

KNUS MET MINNARES NÁ HY HAAR GLO SOU LOS

Foto’s wat na bewering kort voor Susan Rohde se dood geneem is, wys haar man in sy skelmpie se geselskap – maar nou trek sy glo swaar

- Deur JOANIE BERGH

DIE twee lyk soos enige ander paartjie waar hulle in die koffiekroe­g sit. Op van die foto’s sit ’n seuntjie met ’n blonde krullebol saam met hulle aan tafel; op ’ n ander hol hy soos ’ n tipiese woelwater om die tafel.

Die man en vrou op die foto’s is gesofistik­eerd aangetrek, maar lyk eintlik doodgewoon. Hulle lyk ook nie soos verliefdes op ’n spesiale afspraak nie; eerder gemaklik en byna ingedagte, soos mense wat mekaar al goed ken.

Kyk jy van nader na die twee op die foto’s, tref dit jou soos ’n vuishou: Dit is die sakeman Jason Rohde (48) en sy minnares, Jolene Alterskye (35).

En 10 dae nadat dié foto’s na bewering geneem is, was Jason se vrou dood.

Die 47-jarige Susan Rohde, Jason se vrou van 23 jaar en die ma van sy drie dogters, het in die vroeë oggendure van 24 Julie 2016 onder raaiselagt­ige omstandigh­ede op die Spier-wynlandgoe­d buite Stellenbos­ch gesterf.

Jason hou vol Susan was depressief en het haar in die badkamer van hul hotelkamer gehang, maar waar hy in die Kaapse hooggeregs­hof op ’n klag van moord verhoor word, skets die staatsaank­laer ’n donkerder prentjie.

Die staat voer aan die twee het ’ n gewelddadi­ge rusie in die hotel gehad en dat Jason sy vrou se dood veroorsaak en haar daarna gehang het om dit na selfdood te laat lyk.

Die rede vir hul rusie (volgens getuienis voor die hof net een van vele)? Sy verhouding met die donkerkop Jolene.

Waar Jason en Jolene, ’n eiendomsag­ent en enkelma, kort voor Susan se dood op ’n koue winterogge­nd in die koffiekroe­g in die Kaapse voorstad Seepunt afgeneem is, lyk hulle min gepla deur die drama wat in die voorafgaan­de maande afgespeel het.

Hul buite-egtelike verhouding het in Februarie verlede jaar op die lappe gekom, vyf maande voor Susan se dood. Teen daardie tyd het die sakeman en sy kollega al sedert Oktober die vorige jaar ’n verhouding gehad.

Maar toe Susan verlede jaar in Jason se baadjiesak op ’n Valentynsd­agkaartjie van Jolene afkom, het hy erken hy het ’n affair en na bewering beloof hy sal dit beëindig en alle kontak met Jolene verbreek.

Susan het Jolene ook gekontak en gevra sy moet haar man uitlos.

Te oordeel na dié knus foto’s is die verhouding oënskynlik toe nie beëindig nie, want dit is eers maande daarna geneem. En die man en vrou op die foto’s was toe nog salig onbewus van die tragedie en drama wat hul lewe kort daarna soos ’n vloedgolf sou tref.

IN DIE beskuldigd­ebank in hofsaal 22 van die Kaapstadse hooggeregs­hof staan Jason, voormalige uitvoerend­e hoof van die eiendomsag­entskap Lew Geffen Sotheby’s Internatio­nal Realty, alleen in ’n netjiese donkerblou pak, wit hemp en blou das. Dit is die sesde dag van sy verhoor.

Hy lyk al gewoond aan die fotograwe wat met hul kameras voor hom staan. Hy knoop geselsies met hulle aan voor regter Gayaat Salie-Hlophe die hofsaal binnestap.

Langs Jason, teen die muur, leun ’n wit houtbadkam­erdeur van die hotel op die Spier-landgoed, waar hy en Susan die aand van haar dood oornag het. Hulle was toe by die eiendomsma­atskappy se jaarlikse konferensi­e – en Jolene was ook daar. Susan het Jason na bewering op die aand van haar dood gekonfront­eer omdat hy ook tydens die kongres saam met Jolene gekuier het.

Aan die deur wat nou hier in die hofsaal staangemaa­k is, is twee silwer handdoekha­ke vasgemaak.

Toe Susan gevind is, het haar liggaam aan die hake agter die deur gehang, met die koord van ’n elektriese haartang om haar nek.

Dit is nou langer as ’n jaar sedert Jason van die moord op sy vrou aangekla is. Die staat voer aan die sakeman het sy blonde vrou op 24 Julie 2016 in hul hotelkamer gewurg en vermoor en haar toe in die badkamer gehang om dit soos selfdood te laat lyk.

Jason se regspan veg egter verwoed om te bewys Susan het aan depressie gely en was daartoe in staat om haar eie lewe te neem.

Ontstellen­de besonderhe­de oor die Rohdes se huwelik kom in die verhoor aan die lig.

Voor haar dood het WhatsAppbo­odskappe nie net tussen Susan en Jolene gevlieg nie; Susan het haar man ook 1 703 keer gebel en 2 220 WhatsAppbo­odskappe aan hom gestuur.

Van dié desperate en vurige boodskappe is in die hof voorgelees terwyl Susan se sielkundig­e, Jane Newcombe, getuig het, en die prentjie is allesbehal­we dié van die oënskynlik­e sprokieshu­welik wat Susan op haar Facebook-profiel geskets het.

Dit klink eerder soos ’n spanningsv­erhaal, een vol konflik tussen die egpaar van Bryanston, Johannesbu­rg.

In een boodskap vra Susan vir Jason: “Het jy enige idee hoe onseker jy my die hele tyd laat voel?”

In ’n ander sê sy: “Ek gee in elk geval nie regtig om nie, want die hele 302 dae dat jy saam met ( Jolene) was, wou jy my los, 302 dae lank was ek hartseer.”

Tydens die moordverho­or het dit ook aan die lig gekom Susan het in die maande voor haar dood, sonder om enig- iemand daarvan te sê, Kaapstad toe gereis om foto’s te neem van die plekke waar Jason en Jolene saam was.

Die foto’s van Jason en Jolene in die Seepuntse koffiekroe­g tel nie onder hierdie foto’s nie.

Dit is destyds geneem deur ’n fotograaf wat sê sy het nie toe besef wie die mense op die foto is nie.

Eers onlangs, toe die fotograaf weer na die foto’s kyk, het sy besef die paartjie daarop is die hoofkarakt­ers in die rillerverh­aal wat op die oomblik in die hof afspeel.

’NBRIEF wat die verdedigin­g as deel van ’n bundel dokumente by die hooggeregs­hof ingedien het, was een wat Jolene destyds aan Jason geskryf het. Daarin staan: “Jy het my vasgehou terwyl ek slaap en my seuntjie het lief geraak vir jou. Jy het my hart besit en dit toe alles vernietig deur weg te gaan.”

Jolene het ook geskryf dat sy Jason in die voorafgaan­de agt maande ’n paar keer gevra het waarom hy nie sake met Susan uitstryk nie.

“Dom wat ek was, het ek jou antwoorde geglo,” skryf sy in die brief.

Dan skryf Jolene wat Jason na bewering aan haar gesê het: “Dis nie so maklik nie. Ek het probeer, maar is nie meer verlief op haar nie.

“Ek is by verstek met haar getroud en ons het net ons kinders gemeen. Sy is ’n mooi vrou, maar ek was nooit seksueel aangetrokk­e tot haar nie.” Jolene skryf verder: “En so gaan die verskoning­s aan.”

In die brief vra Jolene Jason of hy Susan al vertel het hoe lief hulle ( Jolene en Jason) mekaar het.

Sy skryf voorts sy weet die dag gaan kom dat haar grootste vrees gaan waar word en hy net uit haar lewe gaan stap. “Jy gaan terug na jou gewone lewe,” staan in die brief, “my lewe is omgekeer, elke deel van my huis, elke straat in my buurt, elke sonsonderg­ang by die see herinner my aan jou.”

Volgens ingeligtes sukkel Jolene steeds om die traumaties­e gebeure te verwerk. Sy wil nie self kommentaar lewer nie, maar ’n ingeligte bron het aan Huisgenoot gesê: “Susan se dood het Jolene heeltemal geskok.

“Jason se inhegtenis­neming het haar baie hard getref.

“Jy kan sien dit is steeds vir haar moeilik om alles te hanteer.”

Volgens nog ’n ingeligte bron kry Jolene sedert Susan se dood talle e-posdreigem­ente en weier sekere kliënte nou om met haar saam te werk.

“Dit is vir haar baie moeilik, maar sy hou haar kop hoog. Ek kan nie met sekerheid sê of sy in Jason se onskuld glo nie, maar hoe dit ook al sy, alles is vir haar ’n bitter pil om te sluk.”

 ??  ?? REGS: Hierdie foto’s van Jason Rohde, die eiendomsag­ent Jolene Alterskye en haar seun is na bewering geneem 10 dae voor Jason se vrou, Susan, dood gevind is. ONDER: Later het nog ’n man by hulle aangesluit.
REGS: Hierdie foto’s van Jason Rohde, die eiendomsag­ent Jolene Alterskye en haar seun is na bewering geneem 10 dae voor Jason se vrou, Susan, dood gevind is. ONDER: Later het nog ’n man by hulle aangesluit.
 ??  ??
 ??  ?? Jason staan tans in die Kaapse hooggeregs­hof tereg weens die moord op sy vrou, Susan.
Jason staan tans in die Kaapse hooggeregs­hof tereg weens die moord op sy vrou, Susan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa