WOEDEND OOR SAAK NÁ VISDAM-RAMP
SSewe jaarj nadattd SaloméS l é se ddogtert weens ’n’ amper-verdrinkingd i ki gestremt gelaat is, het haar eksman haar suster en swaer gedagvaar
SY IS nie kwaad dat haar kind gestrem is nadat sy as baba byna verdrink het nie. Sy is ook nie kwaad omdat haar huwelik die traumatiese tyd ná haar kind se ongeluk nie kon oorleef nie. Maar waaroor Salomé Strydom van Pretoria wel kwaad is, nee woedend, is dat haar eksman haar suster en swaer sewe jaar ná haar dogtertjie se amperverdrinking vir miljoene rande gedagvaar het omdat hy glo dit was hul skuld.
Die hofsaak het haar suster en swaer, Alet* en Pieter*, onder verskriklike druk geplaas, selfs al het die hof eindelik beslis hulle kan nie aanspreeklik gehou word vir die amper-verdrinking net omdat dit in die visdam by hul huis gebeur het nie.
Dit is ’n jaar sedert die appèlhof in Bloemfontein beslis het dit was Salomé en haar eksman, Gert*, se verantwoordelikheid om na hul dogter, Bennemie, om te sien op die dag waarop sy in Junie 2005 op 14 maande by haar tannie se huis in die visdam geval het. (Die hooggeregshof in Pretoria het ten gunste van Alet en Pieter bevind. Gert het die saak op appèl geneem en ook daar verloor.)
Terwyl Salomé en Bennemie moedig met hul lewe aangaan nadat die meisietjie gestrem gelaat is, spartel Alet en Pieter steeds om kop te hou. Hulle verkies om naamloos te bly deels weens die finansiële druk op hulle.
Die hofsaak het haar hele familie emosioneel afgetakel, vertel Alet.
Sy was geskok en seergemaak toe sy hoor Gert dagvaar haar en haar man vir meer as R10 miljoen. Selfs al is die eis van die hand gewys, moet hulle honderd- duisende rande vir regskoste opdok.
Vir haar is dit nog moeilik om te praat oor die hofsaak wat die familie stukkend geskeur het. “My gesin was onder geweldige stres. Ons was toe reeds emosioneel geraak deur Bennemie se ongeluk.”
Ook Salomé sukkel om die nadraai van die ongeluk te verwerk. Sy het teen haar eksman in die hofsaak getuig, maar voel skuldig oor die gelddruk waaronder haar suster nou verkeer. “Ek wil vir my sussie jammer sê, want al het ek vir hulle getuig in die saak en teen Gert, is hy my eksman en hy het dit aan hulle gedoen.”
OP DIE rusbank in die sitkamer van Salomé, wat by die Reserwebank werk, se huis in Montana, Pretoria, sit Bennemie langs haar ma. “Gee my ’n soen, toe,” sê
‘Die dokters het gesê sy sou blind en doof wees en dat sy sou sterf voor haar derde verjaardag’
Salomé vir haar 13-jarige dogter met die pragtige glimlag en bokkie-oë.
Dit was ’n Sondag in Julie 2005 toe Bennemie as baba byna sterf en haar verstandelike ontwikkeling tot stilstand kom. Die Strydoms het destyds by Alet en Pieter in Pretoria gekuier.
“Ons het by die swembad wors gebraai,” vertel Salomé. “Bennemie het op Nicholis Louw se liedjie Ek Wil My Baby Hê Vanaand gedans. Sy was so vrolik en oulik en besig. Ek’t haar gevra om die musiek (in die huis) sagter te gaan sit en toe kom sy nie terug nie.
“Daai dag was dit warm en ons het om die swembad gesit. Ek’t die swembad soos ’n valk dopgehou. Toe besef ek sy’s nie by ons nie. Dit was sekondes.”
Salomé het opgespring om haar dogter in die huis te gaan soek. Maar toe sien sy haar met haar gesiggie na onder in die visdam dryf. “Sy was al blou toe ek haar uithaal.” Ná al die jare wel die trane steeds op in haar oë.
Bennemie se lewe kon gered word, maar sy sal nooit ’n gewone lewe lei nie.
Nadat Salomé haar dogter in die visdam aangetref en uitgehaal het, het Gert kunsmatige asemhaling toegepas voor hulle met haar na die Montana-hospitaal gejaag het.
Terwyl die dokters binne besig was met Bennemie, het Salomé buite op die gras voor die hospitaal gaan staan en die Here gesmeek om haar kind te spaar. “Twintig minute later het hulle my laat weet sy haal asem.”
Weke lank was Bennemie in ’n koma. Daarna het sy spasmas gekry, longontsteking ontwikkel en geen reaksie op haar omgewing getoon nie. “Die dokters het gesê sy sou blind en doof wees en dat sy voor haar derde verjaardag sou sterf. Maar ek het nooit moed verloor nie. Ek het geglo die Here het my kind vir ’n rede gered,” vertel Salomé.
Ná nege weke kon sy huis toe gaan. Daar het Bennemie mettertyd beperkte reaksie op haar omgewing en mense begin toon. “My sussie het eendag na haar omgesien en ons opgewonde gebel om te vertel Bennemie het gelag toe sy Peekaboo met haar speel. Ons het dit later ook gesien; daai lag uit die magie was die mooiste klank wat ek al gehoor het.”
Ook Alet sal dié oomblik nooit vergeet nie. “Die dokter het gemeen Bennemie sou nooit weer emosies beleef nie. Toe sy skielik uit haar magie lag, was dit ongelooflik mooi,” onthou sy.
Nog jare daarna het Bennemie twee keer per dag terapie ondergaan om met haar rehabilitasie te help.
Salomé vertel sy was nooit vir haar suster-hulle of selfs vir haarself kwaad oor die visdamongeluk nie.
In 2009, vyf jaar ná die ongeluk, is sy van Gert, die eienaar van ’n veiligheidsmaatskappy, geskei. “Ek dink nie dit was net oor Bennemie nie, maar dit was die spyker in die doodskis,” vertel Salomé.
En toe, in 2012, bel Alet haar: Gert het hulle vir meer as R10 miljoen gedagvaar.
“Ek was woedend. My sussie-hulle het nie daardie soort geld nie. Ek het keer op keer vir Gert gevra hoekom hy dit doen. Hy het gesê hy doen dit vir Bennemie.”
Sy sê sy het polisse wat haar help om vir Bennemie te sorg en dat Gert onderhoud betaal. Sy en Gert het ook elk dogters uit ’n vorige huwelik.
In dokumente wat by die hof ingedien is, het Gert aangevoer Alet en Pieter se visdam is sonder toestemming van die munisipaliteit gebou en dat hy (Gert) hulle voorheen gewaarsku het dis nie beveilig nie. Die skoonsus en swaer se verweer was hulle het die Strydoms gewaarsku oor die visdam.
In 2015 het die hooggeregshof in Pretoria beslis Alet en Pieter kan nie aanspreeklik gehou word nie. Gert is gelas om die regskoste te betaal, maar kan dit na bewering nie bekostig nie, en Salomé vertel haar suster en swaer moet nou daarvoor opdok.
“Ek verstaan nie hoe Gert dit so ver kon voer nie,” vertel Salomé.
Sy sê sy sou nie ná die ongeluk en egskeiding kon oorleef sonder haar suster se steun nie. Alet het telkens na Bennemie gekyk of haar na terapiesessies geneem.
“Ek sal altyd lief wees vir my sussie. Maar ek het my ’n bietjie onttrek van haar weens die hofsaak. Ek voel skuldig omdat hulle nou onder soveel druk is.”
Maar Alet sê sy het niks om oor skuldig te voel nie. “Sy kan nie verantwoordelik gehou word vir wat Gert doen nie.”
SALOMÉ se groot vrees is dat sy voor haar rooikopdogter sal sterf. Sy bid elke dag dat Bennemie sal herstel of dat sy altyd na haar sal kan omsien.
Terwyl ons gesels, kruip Bennemie op die mat rond. Sy sal waarskynlik nooit kan loop nie. Haar ma tel haar weer op die bank.
Salomé treur steeds oor die dogter wat sy sou kon hê. “Wanneer ek rokkies sien, word ek hartseer; sy kan dit nie dra nie. Ek vertel haar soms ek is jammer oor alles wat sy nooit sal beleef nie.” * Skuilname. Salomé se eksman se naam word op regsadvies weerhou; hy wou ook nie kommentaar lewer nie.