IN TAMATIESTRAAT IN DIE KUBERRUIM
Jou aanlyn gedrag kan jou in groot moeilikheid bring. In ’n nuwe boek verduidelik kenners die velerlei maniere waarop ’n mens in die digitale wêreld in die verleentheid of aan die verkeerde kant van die wet kan beland
ELKE dag sien sy bekommerde, bang mense in haar kantoor. Hulle het almal een ding gemeen: In ’n oomblik van woede of ondeurdagtheid het hulle iets aanlyn aangevang wat hulle nou bitterlik berou. Dikwels is dit kinders wat in die verknorsing beland en dan kom vra hul radelose ouers hulp by Emma Sadleir, Suid-Afrika se voorste sosialemediaprokureur. Maar dit is dikwels te laat.
Die probleem is ’n mens kan op so baie maniere aanlyn in die moeilikheid beland – kuberafknouery, ’n onbesonne plasing, ’n flirterige teksboodskap met ’n suggestiewe selfie daarby . . . Geen wonder so baie kinders beland in situasies waarvoor hulle nie opgewasse is nie.
In ’ n nuwe boek, Selfies, Sexts and Smartphones, skets Emma en dr. Lizzie Harrison, ’ n dokter met ’ n graad in neurowetenskap en sielkunde, ’n taamlik skokkende prentjie van wat alles kan skeefloop. Hulle sê voor kinders hul eerste selfoon kry of die eerste keer toegang tot die internet gegee word, moet hul ouers hulle teen die slaggate waarsku. En natuurlik geld hierdie lesse ook vir hul ouers, wat soms self nie dink voor hulle klik nie!
In hierdie geredigeerde uittreksel uit hul boek deel dié kenners insigte en raad wat jou en jou kind groot moeilikheid of verleentheid kan spaar.
DIE INTERNET VERGEET NIE
Plaas iets aanlyn en dit bly daar – vir altyd. Selfs al vee jy dit uit, sit daar waarskynlik steeds ’n kopie daarvan op ’n bediener iewers. En wanneer jy dit in die sosiale media geplaas het, maak dit nie saak of jy ’n tegnotowenaar is nie, jy het geen hoop om dit te verwyder nie. Selfs al vee jy dit uit, hoeveel mense het nie reeds ’n skermgreep daarvan geneem of jou foto’s afgelaai nie? Jy kan onmoontlik almal opspoor en vra hulle moet dit uitvee.
As jy ’n dwase opmerking maak en mense reageer daarop, kan jy die opmer- king uitvee, maar jy kan nie al die plasings uitwis waar mense jou slegsê oor wat jy kwytgeraak het nie. As dit aanlyn is, kan/ sal dit opgespoor, afgelaai, afgeneem, gekopieer en geplak word. Privaatheidsverstellings verander elke dag. Om iets daaragter weg te steek is geen waarborg dit sal nie binnekort openbaar word nie.
DIS ’N RISIKO AL STUUR JY DIT NET AAN EEN PERSOON
Al stuur jy iets net aan een mens wat jy vertrou, pleks van dit deel met almal wat jy ken, hou dit ’n reuserisiko in. Tieners moet hulle afvra: Sal jou beste vriendin oor vyf jaar steeds jou beste vriendin wees? Of sal jy dalk ’n nuwe beste vriendin hê wat die oue jaloers genoeg maak om die snedige privaat boodskappe te deel wat jy jare gelede aan haar gestuur het?
Ons is gevra om ’n meisie te help wat dae voor haar matriekeksamen geskors is. Haar “vriendin” het ’n skermgreep geneem van ’n onvanpaste opmerking wat die meisie op WhatsApp teenoor
haar gemaak het en dit toe op die klas se WhatsApp-groep geplaas. Daar was niks wat ons kon doen om haar te help nie.
Wanneer inhoud eers digitaal bestaan, kan dit later by jou kom spook.
Selfs al stuur jy niks, is dit die moeite werd om te onthou fone word elke liewe dag gesteel. Ons is gevra om te praat by ’n vooraanstaande skool in Johannesburg waar tot 12 fone per week gesteel is. Dit is interessant om daarop te let dat dit nie oor die foon self gesteel is nie, maar sodat die foto’s, video’s, boodskappe en notas gebruik kon word om geld van die kinders af te pers.
JY IS NOOIT ANONIEM NIE
Moenie dink jy kan jou “anonieme” profiel gebruik om te boelie, haatspraak te gebruik of seksboodskappe te stuur sonder dat jy gevang kan word nie. Elke keer dat jy aanlyn is, kry jy iets wat ’n IP(internetprotokol-)adres genoem word. Dit is soos ’n ID-nommer en verklap allerhande inligting, soos waarvandaan jy aangeteken, wat jy aanlyn gedoen en watter toestel jy gebruik het.
Wanneer die polisie of ’n woedende mens al daardie inligting het, word dit dadelik baie maklik om jou op te spoor.
Onthou jy toe jy by ’n sosiale netwerk aangesluit en hulle al daardie persoonlike besonderhede gegee het? Geen platform skuld jou enigiets nie, en as die polisie begin vrae vra, sal hulle heel waarskynlik al jou persoonlike, privaat en identifiserende inligting oorhandig.
PASOP VIR DIE KETTING VAN PUBLIKASIE
Dink aan plasings wat in die sosiale media uitgeruil word as die speletjie gee-diepakkie-aan. In Suid-Afrika sê die wet elke mens wat aan die speletjie deelneem, is net so verantwoordelik vir die pakkie as die mens wat die speletjie begin het. Dit maak nie saak dat jy niks by die pakkie gevoeg of dit net aangestuur het sonder om te dink nie. Deur net aan die speletjie deel te neem is jy net so verantwoordelik soos die mens wat die oorspronklike inskrywing gemaak het.
So kan jy in die moeilikheid beland:
1. Jy deel iemand anders se inhoud
Of dit nou haatspraak of ’n seksistiese skimp is, as jy iemand anders se inhoud deel, kan aangeneem word jy het dit gelees en besluit om dit te publiseer (altans, dit is hoe die reg dit beskou). Jy is dus daarvoor verantwoordelik.
2. Jy deel iets wat iemand verneder
As jy ’n skokkende plasing wil deel, maak absoluut seker diegene wat dit sien, sal net deur na die plasing te kyk weet jy stem nié saam met die mening wat in die plasing uitgedruk word nie.
’n Hartseer of kwaai emoji of ’n “Ek kan nie glo hulle het dit gesê nie” is nie duidelik genoeg nie. Jy moet jou sterk uitdruk om jou afkeur te toon, byvoorbeeld: “Dit is aaklig. Ek kan nie glo hulle sê dit nie. Walglik!”
3. As jy dit kan verhoed en dit nie doen nie, is jy in die knyp
Gestel jy plaas ’n foto op Instagram en skryf daarby: “Dit is my meisie, Sarah. Sy is so #pragtig.” Maar iemand anders lewer kommentaar op die foto en sê: “Hoe kan jy met daardie meisie uitgaan? Sy is so vet. Sy is so lelik. Sy is so ’n slet.”
Jy het die vermoë om die kommentaar uit te vee. As jy jou van die inhoud kan distansieer en jy doen dit nie, moet jy jou gereedmaak vir moeilikheid.
’n Man en vrou in Suid-Afrika het geskei. Die man het toe weer getrou. Sy nuwe jong vrou het dwaaslik aanlyn iets aakligs oor die eksvrou geskryf. Die eksvrou het die nuwe jong vrou én haar eksman gedagvaar.
Hoe kon sy die eksman dagvaar? Wel, die nuwe jong vrou het hom gemerk in die inskrywing, en hy het dit nie van sy profiel verwyder nie. So was hy “in die ketting van publikasie”. Hy was dus net so verantwoordelik vir die kommentaar. Skakel waar moontlik die verstellings aan wat jou laat besluit wie jou in inskrywings mag merk sodat foto’s nie outomaties sonder jou toestemming op jou profiel verskyn nie. En moenie vergeet om enige bestaande merke te verwyder wat onvanpas is nie. As jy nie weet hoe om dit te doen nie, google dit.
4. Pas op in WhatsApp-groepe
As jy in ’n WhatsApp-groep is en al neem jy nie aktief aan die groep deel nie (jy plaas nie kommentaar of enigiets anders nie) en iets twyfelagtigs, beledigends, onvanpas of onwettigs word geplaas, is jy ook daarvoor verantwoordelik.
Die rede is dat jy met WhatsApp ’n keuse het: Jy kan jou distansieer, hetsy deur die groep te verlaat of te sê: “Haai, ouens, dit is nie koel nie. Ek wil nie hiervan deel wees nie.”
As jy nie een hiervan doen nie, kan dit vertolk word dat jy die inhoud goedkeur en tevrede is om daarmee vereenselwig te word. Dit maak jou net so verantwoordelik daarvoor as die mens wat dit oorspronklik geplaas het. S ’N GEREDIGEERDE UITTREKSEL UIT SELFIES, SEXTS AND SMARTPHONES DEUR EMMA SADLEIR EN LIZZIE HARRISON, PENGUIN ( R150) BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYS OP TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUK TYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAF KENNISGEWING.
As die polisie begin vrae vra, kan die netwerk al jou inligting oorhandig