Huisgenoot

G’N VUURWERK IN SLAAPKAMER NIE

-

Ek is 30 en was nog nooit getroud nie. Ek gaan nou uit met ’n man van amper 38 wat al getroud was. Hy is die jaloerse soort. Ons liefdesess­ies lewer nou nie juis vuurwerk op nie, en ek weet nie hoe om dit met hom te bespreek nie. Wanneer ek die saak aanroer, weet ek hy gaan begin uitvra oor my eertydse kêrels omdat hy so jaloers is. Ons is goeie vriende en ek kan my ’n lewe saam met hom voorstel. Hoe moet ek maak? AN op MB Vervullend­e seks verg geduld. Die liefde is niks anders as ’n uitgerekte leerkurwe nie. ’n Mens kan nie ’n goeie verhouding prysgee oor liefdemaak­sessies wat ’n bietjie werk nodig het nie.

Jy is sensitief genoeg om te weet hoe broos die manlike ego is, of jaloesie nou ’n rol speel of nie. Dit is onsinnig om te probeer meeding met mense uit iemand se verlede, maar dis nou maar hoe sommige mans bedraad is. Minnaars kan ook in verbeeldin­glose gewoontes verval en het aansporing nodig om te verander.

As jy nie jou frustrasie verwoord nie, sal dit teenproduk­tief wees. Dis nie net sy skuld as die slaapkamer­sessies nie te waffers is nie; jy het ook ’n aandeel daarin. Wat seks betref, kan net ’n uitsonderl­ike man ’n vrou se kop lees. Jy sal hom liefdevol leiding moet gee.

Maar hoe praat bedmaats hieroor? Die kuns is om hom subtiel te lei sonder dat hy agterkom jy leer hom om presies te doen waarvan jy hou. As iets vir jou werk, sorg dat hy dit weet deur hom aan te moedig om dit weer te doen. Doen hy iets waarvan jy nie hou nie, sal jy sy hande moet wys om liewer iets te doen waaroor jy wel mal is. Dit help om soms vooraf te sê: “Ek is in die sewende hemel wanneer jy . . .”

Kies die regte tyd en lewer versigtig kommentaar. Hy moenie voel hy doen iets verkeerds nie; net dat jy iets anders verkies.

Sê byvoorbeel­d ná ’n liefdemaak­sessie in die stort: “Dit was goed. Miskien kan ons volgende keer ook dit (jou voorkeur) probeer.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa