BEELDSTAWER VAN MENSE SE SIEL
Van Lady Gaga tot die koningin van Engeland – Annie Leibovitz is die voorste fotograaf van die bekendes van ons tyd. Noudat ’n nuwe boek met haar werk verskyn, gesels die fotograaf en enkelma oor foto’s, projekte en mense wat haar bybly
SY IS ’n lenige, aantreklike vrou met weerbarstige grys hare wat gesag uitstraal. Annie Leibovitz som dit nog meer reguit op – soms, erken sy, kan sy “onmoontlik” wees. ’n Mens kan jou maklik voorstel ’n mate van onmoontlikheid, of minstens wilskrag en oorredingsvermoë, is nodig om foto’s soos hare vas te vang. Langer as 45 jaar al is sy deur haar werk die voorste fotoboekstawer van mag en roem in die Amerikaanse lewe.
’n Nuwe versameling van haar werk, Annie Leibovitz: Portraits 2005-2016, is pas op die rakke. ’n Eksemplaar lê op die lessenaar in haar ateljee in New York.
Met 150 beelde is die boek formidabel wat sy grootte en gewig betref. Annie is geneig tot gewigtige boeke: A Photographer’s Life (2006) het meer as 4 kg geweeg. Sy kla: “Ek kon dit nêrens heen dra om vir mense present te gee nie.”
Haar jongste bied als wat aanhangers sou verwag: rolprent- en musieksterre, politici en magsbemiddelaars, die onvermydelike naakstudies – Lady Gaga op ’n bed uitgestrek k – en minder bekende karakters en stillewes llewes uit haar Pilgrimage-reeks van voorwerpe orwerpe en plekke met geskiedkundige betekenis.
Dit is ’n opgawe we – van Annie se lewe as ’n fotograaf raaf die afgelope 11 jaar én die Amerikaanse merikaanse lewe. Toe sy die boek beplan, eplan, het sy geweet hoe sy wou ou hê dit moes eindig. Tydens die ie presidensiële veldtog in 2016 6 het sy Hillary Clinton talle alle kere afgeneem. Die laaste foto sou sy, y, triomfantelik, , die eerste vrouli- ke president van an die Verenigde Statate wees. Annie het
selfs oorweeg watter lessenaar in die Withuis die aangewese president vir die portret sou kies. En toe wen sy nie.
“Dis verpletterend,” sê Annie. “Waar ons ons nou bevind, is veronderstel om die werklikheid te wees, maar dis . . . ongelooflik.” Sy bly ’n oomblik stil voor sy van pres. Donald Trump sê: “Elke dag vra ek myself: ‘ Wat het hy vandag gedoen? Op watter vertrapte groep pik hy vandag?’ ” Sy sug. “Die man is waansinnig.”
Ná Hillary se nederlaag het dit haar ’n ruk geneem “om my af te stof en weer op te staan”. Sy het dit selfs oorweeg om die boek heeltemal te los. Maar op die ou end, ná baie beraadslaging, het sy besluit om voort te gaan. Die laaste foto is nou van die kunstenaar Robert Smithson se kollosale aardwerk Spiral Jetty, met sy sterk ooreenkoms met ’n vraagteken. “Dit sê: Wie is ons? Wat doen ons?” verduidelik Annie.
HAAR pa, Sam, was ’ n luitenant-kolonel in die Amerikaanse lugmag; haar ma, Marilyn, ’n modernedansinstruktrise. Terwyl sy aan die San Francisco- kunsinstituut skilderkuns bestudeer het, het Annie aandklasse in fotografie geloop en in 1970 vir Rolling Stone begin werk. Haar eerste opdragwerk vir die tydskrif was om John Lennon af te neem. In 1980 het sy die laaste portret ooit van hom geneem, enkele ure voor hy doodgeskiet is.
In haar Rolling Stone-jare het sy haarself as ’n dokumenteerder beskou. Sy het saam met joernaliste gereis en musiekgroepe afgeneem (die noemenswaardigste is The Rolling Stones in 1975).
Toe sy in 1983 na Vanity Fair is, toe die Bybel van hoëglansbekendheidskultuur, het dinge verander. Die begrotings was groter; die portrette meer gestileer.
Twee foto’s in die nuwe boek is ’n toonbeeld daarvan: Angelina Jolie, in silwer lamé toegedraai, aan die voorkant van ’n mikrovliegtuig vasgemaak, soos ’n boegbeeld aan die voorstewe van ’n skip; en George Clooney, uitgevat soos ’n Hollywoodse regisseurtiran van die 1920’s. Hy dryf op ’n platform, omring deur vroue in bleek onderklere wat kameras en kliegligte rondswaai – ’n beeld wat boekdele spreek oor Hollywood se selfverheffing en oordaad.
Annie sê dit was die modeontwerper en rolprentregisseur Tom Ford se idee toe hy gasredakteur was van ’n Hollywood-uitgawe geskoei op ’n foto van die rolprentmaker Cecil B. DeMille aan die werk. “George is regtig ’n wonderlike ou. Hy snap ’n grap,” voeg sy by.
In haar nuwe boek maak die Hollywood-glans plek vir meer peinsende foto’s van kunstenaars en musikante. Ook is daar die menseregteaktivis Malala Yousafzai, die feministiese menseregteprokureur Andréa Medina Rosas en die voormalige Amerikaanse Verenigde Nasies-ambassadeur Samantha Power wat haar seun op haar knie wieg terwyl sy op haar BlackBerry kyk – ’n uitbeelding van die teenstrydige eise van moederskap en mag in die beroepswêreld.
“Dit maak my verleë,” sê Annie, “maar ek dink aan myself as deel van ’n tradisie van portretfotograwe wat mense van hul tyd afneem. Daar sal altyd mense wees wat ek wil afneem, en ek hou daarvan dat daar iets geskiedkundigs aan die stof is. Dis kragtig. Dis my plig.”
Sy het koningin Elizabeth van Brittanje al twee keer afgeneem: eers in 2007 in volle koninklike gewaad in Buckinghampaleis om die monarg se staatsbesoek aan Amerika te vier. “Ek het katalogusse gekry om deur te kyk om haar tiara en klere te kies. Ek is ’n halfuur gegee. En sy was ongelooflik. Ek onthou ná die sessie het ek gedink: ‘My vader, sy is so vurig.’ Ek is eenvoudig dol oor haar.”
Maar Annie wil graag die feite gee oor van die omstredenheid wat op die sessie gevolg het. “Die BBC het ’n dokumentêr oor die koningin gemaak. Die lokprent het dit laat lyk of sy by die fotosessie uitstorm. Die waarheid is, sy het daarby ingestorm. En sy het heeltyd aanhou werk. Sy het hierdie wonderlike pligsbesef en was baie seergemaak en kwaad dat ’n ander indruk enigsins geskep is.”
In 2016 het Annie weer met die koningin saamgewerk. Sy sê sy “kon dit nie glo”
toe sy gevra is om die amptelike portrette met die monarg se 90ste verjaardag te skiet nie. Dié keer is die foto’s by die Windsorkasteel geneem en was dit baie informeler: die koningin saam met haar corgi’s, saam met haar agterkleinkinders en saam met haar dogter, prinses Anne.
“Dis wat sy wou doen – en dis wat ek gedoen het,” vertel Annie. “Geen melding is van prins Charles gemaak nie.” Sy lag.
Die portret saam met haar dogter is veral veelseggend. Op die foto rus Anne se arm beskermend om haar ma se skouer. “Daardie foto laat my huil,” sê Annie.
AL LYK dit of Annie oorloop van selfvertroue, erken sy sy bekommer haar oor fotosessies. “Ek neem vandeesweek (die voormalige visepresident) Joe Biden af en is senuagtig daaroor, want ek bewonder sy leefstyl. Dis wonderlik om mense te bewonder en in hulle belang te stel en hierdie verantwoordelikheid te hê om ’n foto te neem wat hulle pas.”
Sy het elke Amerikaanse president sedert Richard Nixon afgeneem, en geniet ’n besonderse verstandhouding met oudpress. Bill Clinton en Barack Obama. Haar nuwe boek sluit ’n reeks foto’s van die Obama-administrasie in, onder meer een van die voormalige president op sy laaste dag in die amp, van agter geneem, terwyl hy by die venster van die Ovaal Kantoor uittuur, asof in ’n onsekere toekoms in. “Ek het geweet ek sou die laaste portret neem,” vertel Annie, “en ons het ’n datum probeer vasstel. Eindelik het die Withuis gesê: ‘Tweeuur, 19 Januarie.’ Ek het gevra: ‘Ekskuus, is dit nie die laaste dag dat hy in die amp is nie?’
“Dit was wonderlik. Ek het ingegaan en hy het gesê: ‘Annie, jy het vyf minute, en ek doen dit net omdat ek vir jou lief is.’ Ons het daardie foto geneem en ek het ’n paar ander geneem van hom wat agter sy lessenaar sit, maar hulle is vir my net ’n bietjie te hartseer.”
En wat van sy opvolger? Sy het Trump al baie afgeneem. “Ek dink,” sê sy gevat, “saam met elkeen van sy vroue.” En hoe het dit gegaan? Sy haal haar skouers op. “Jy weet hy maak altyd ’n ophef.”
Op ’n foto wat in 2006 vir die Amerikaanse uitgawe van Vogue geneem is, was Trump, anders as gewoonlik, met ’n ondersteunende rol tevrede. Hy sit in ’n sportmotor terwyl sy vrou, Melania, by die trap afstap wat van die agterkant van die Trump-vliegtuig af lei – swanger en in ’n goue bikini geklee. “Ons presidentsvrou . . .” sê Annie uitdrukkingloos.
Sy huiwer toe ek vra of sy hom as president sal afneem – ’n huiwering wat te kenne gee dis vir Annie, pligsbesef ten spyt, ewe veel ’n kwessie van etiek as geleentheid.
Graydon Carter, uittredende redakteur van Vanity Fair, het eenkeer van haar buitengewone vermoë gepraat “om verveli- ge wit mans met lessenaarwerke epies te laat lyk”. Annie sê: “Namate ek ouer word, wil ek hê mense moet so goed lyk as wat hulle kan. Ek glo in die siel, en om die mens hulself te laat verteenwoordig. Dis vir mense ’n vreesaanjaende ervaring om hul foto te laat neem.”
Vir min van Annie se onderwerpe kon dit skrikwekkender wees as vir Caitlyn – voorheen Bruce – Jenner, die Olimpiese atleet wat in 2015 haar gender-oorgang in ’n Vanity Fair-onderhoud aangekondig het. Met die voorbladportret het Annie “gevoel ek is op ’n sending” om Caitlyn te help besluit hoe sy haar aan die wêreld moes voorstel.
As sy haar gang gegaan het, sê Annie, sou Caitlyn “soos ’n fopdosser” gelyk het. “Ek moes dit terughou. Net haar hare nader aan haar kop hou – ’n eenvoudige ding soos daai. Sy wou ’n groot haredos gehad het. Ons het na baie verskillende foto’s gekyk van hoe om te lyk.
“Vir my kon dit enige rigting ingeslaan het. Ek het wel een idee gehad dat jy na die voorblad moes kyk en nie weet watter rolprentster dit is nie, en jy moet ’n tweede keer kyk om te besef wie dit is.
Maar eintlik was die hele idee om haar iets te gee waarmee sy sou kon saamleef, en ek was baie bly dat ons dit kon doen.”
Die Caitlyn-uitgawe was een van die grootste verkopers in die geskiedenis van Vanity Fair. Annie vergelyk die aandag en omstredenheid wat haar foto’s ontlok het met dié rondom haar portret van ’n swanger Demi Moore. “Ons was verstom, maar ek dink dit was soort van ’n mooi ding. Sy (Caitlyn) het oopgemaak en iets aangeroer wat ons samelewing net op die rand was om te probeer verstaan.”
Vyftien jaar was die belangrikste verhouding in Annie se lewe waarskynlik die een met die literêre resensent en intellektueel Susan Sontag. Annie het Susan in 1989 ontmoet toe sy gestuur is om haar vir haar boek Aids and Its Metaphors af te neem. Annie was 40; Susan 56.
Annie het eenkeer ’n onthullende ding oor hul verhouding gesê: Sy het geweet as sy by Susan betrokke raak, sou sy “’n beter fotograaf, ’n beter mens” moes wees. Nou sê sy: “Dit was destyds ’n baie bewuste keuse. Ek het geweet waarvoor ek my inlaat, maar nie hoe ek met Susan sou kon tred hou nie. Toe ek die eerste keer saam met haar gaan uiteet, het ek The New York Times deurgelees en deur my klere gesweet, bekommerd oor waaroor om te praat. Maar sy kon my nie meer op my gemak gestel het nie.”
In ’n sekere sin was Susan ewe veel ’n mentor as ’n lewensmaat of vriendin. Sy het Annie se horisonne verbreed. “Sy het daarop aangedring dat mense goed ervaar, dat ons reis – en ons het. Sy het aangedring op meer diepte. Ek het haar eenkeer gevra: ‘Gee my 10 boeke om te lees.’ Sy het ’n lys gemaak, maar ek is ’n swak leser. Sy’t altyd vies geraak daaroor.”
Al was Susan die skrywer van ’n versameling essays, On Photography, was dit vreemd genoeg ’n onderwerp wat hulle selde bespreek het. “Sy het nooit eintlik vir my gesê hoe om ’n foto te neem nie, maar wel eenkeer gesê: ‘Hou op foto’s neem van mense in die bed – hou net op! Ek wil nie nog ’n bed sien nie!’ ”
Annie lag. “Ek dink sy het daarvan gehou dat ek by populêre kultuur betrokke was en daardie werk gedoen het. Dit was vir haar vermaaklik. En op sy eie manier was dit ’n groot invloed op haar, maar ek dink nie op die lange duur kon ek die mens wees wat sy gehoop of voorgestel het ek kon wees nie. Sy was net grootser en groter as ek.” Sy bly ’n oomblik stil. “Sy was net ’n baie wonderlike mens.”
En het sy Annie ’n beter mens gemaak? “Ek is nie te seker sy het geslaag nie,” sê Annie. “Luister, sy was baie om aan te voldoen. Ek dink toe ek daarby instap, het ek gedink ek het my gebied en sy hare. Dit was gaaf, maar het moeiliker geword . . . Toe sterf sy. En dit was moei- lik. Sy het nie ’n mooi dood gesterf nie.”
Susan is in 2004 aan kanker dood. Jy mis haar seker baie, sê ek. “Wat ek nou oor haar mis, is dat hierdie tyd regtig ’n stem soos hare kon gebruik het. Ek onthou goed het gebeur en dan sê sy iets wat heeltemal reg lyk, en so vanselfsprekend, en wat niemand anders raakgesien het nie. Haar sin van tydsberekening en waarneming – ek mis dit alles.”
Annie het nie ’n lewensmaat nie. Sy het drie dogters, Sarah (15), en die tweeling Susan en Samuelle (12), wat in 2005 deur middel van ’n surrogaat gebore is, vyf maande ná Susan se dood.
Enkelouerskap is “nogal moeilik”, erken sy. “Dit is ’n tweemanwerk, en ek het nie heeltemal ingeneem wat dit beteken om hulp te hê nie. Ek werk so baie, maar die meisies is wonderlik. Skoolgaan is ’n voltydse beroep en hulle werk deur die skooljaar hard. En ek het ’n wonderlike familie – ek is een van ses kinders – en hulle het hul ooms en tantes, en almal help baie. Hulle sal piekfyn wees, maar ek wens wel ek kon meer daar wees.”
Kan sy haar saam met ’n lewensmaat indink? “Ek sluit dit nie uit nie, maar ek is baie besig. Ek was altyd so aan die hardloop dat ek nooit gevoel het enigiemand hou van my nie.” Sy bly ’n oomblik stil. “Dis ’n baie vreemde ding om te te sê, maar weet jy wat ek bedoel? Dit sou interessant gewees het, maar ek is ’n handvol. Ek kan my nie voorstel dat iemand my verdra nie.” Sy lyk onsekerder, sê ek, as wat mense dalk dink. “Sjt.” Sy hou haar vinger voor haar lippe en lag. “Dis my geheim.”