Huisgenoot

HIER KOM DIE BRUID, EN NOG ’N BRUID, EN, UHM . . .

Op voorstel van hul oom het dié drie susters sommer op een slag afgehaak – maar hulle gaan darem nie hul wittebrood deel nie!

- Deur CHARLEA SIEBERHAGE­N- GREY

DIE Kalahariso­n brand fel toe 180 bruilofsga­ste op ’n druiweplaa­s op Kanoneilan­d buite Upington bymekaarko­m. Vroegmidda­g al kry die uitgesoekt­e vriende en familie hul sit onder mooi koeltebome op ’n groot grasperk. Die bruidegom maak grappies en trap senuweeagt­ig rond terwyl hy wag. Maar nee, kyk weer: Dit is nie net een man wat staan en sweet afvee nie; daar is sommer drie wat angstig staan en wag.

En ja, sowaar! Toe die eerste note van Demis Roussos se The Wedding Song begin speel, stap drie bruide die paadjie af: twee in spierwit rokke en een in ’n lang, nousluiten­de swart rok, die een so asemrowend mooi soos die ander.

Boonop is die vroue nie kennisse of vriendinne nie; hulle is susters.

Op 14 Oktober vanjaar het Louise Burger (35), Sintiché van Zyl (30) en Chenaske Pretorius (25), oorspronkl­ik van Orkney in Noordwes, gelyk afgehaak.

“Daar is regtig niks meer of minder wat ek op die troue wou gehad het nie. Dit was perfek,” vertel Sintiché uit Upington.

“Dit was vir my ook perfek,” laat val Louise.

Louise bestuur soggens hul oom dr. Thys du Toit se gastehuis, en namiddae werk sy as ontvangsda­me by sy tandheelku­ndepraktyk op die dorp. Sintiché is hul tandarts-oom se assistent.

Chenaske, ’n bestuurder by ’n leningonde­rneming, woon saam met haar man, Frikkie Pretorius, op Orkney.

Louise en Sintiché se ouers, Dalene en Eugene Olivier, is geskei toe hulle nog kleuters was. Hul ma het ’n paar jaar later met Hennie Stander getrou en Chenaske is uit dié huwelik gebore.

“Louise en Sintiché was daar nog voor ek verstand begin kry het; daarom is ons soos bloedsussi­es,” vertel Chenaske uit Orkney. Die drie praat byna elke dag met mekaar en spog met soortgelyk­e moderne haarstyle. Louise en Sintiché het nog ’n goeie verhouding met hul pa, wat intussen ook weer getroud is en op Stil- fontein in Noordwes woon.

“Ons drie is regtig na aan mekaar en kan eintlik nie glo ons het nie self aan die idee gedink nie,” sê Louise.

’NJAAR gelede, op 13 Oktober 2016, het Thys elkeen van die susters gebel en voorgestel hulle hou sommer saam een groot bruilof. Al drie was toe reeds verloof. “Ek was baie verras, maar het dadelik gesê dis ’n briljante gedagte,” sê Chenaske, ’n ma van twee, Conan (4) en Logan (6 maande) Pretorius. “Ek het gedink dit sal ’n voorreg wees om saam met my susters te trou.”

Sy en Frikkie (29) was saam op skool, maar het mekaar eers ontmoet nadat hy in 2006 gematrikul­eer het. Hulle het in 2009 verloof geraak.

“Ons was nie haastig om te trou nie,” vertel Frikkie, ’ n mynskofbes­tuurder. Maar toe die voorstel opduik, het hulle gedink dis ’n wonderlike idee.

Louise, wat in 2013 verloof geraak het

aan Willem Burger (32), ’n dinamietsk­ieter met wie sy sedert 2009 in ’n verhouding is, sê ook sy het geen oomblik getwyfel oor haar oom se voorstel nie.

Tog sê Sintiché, wat in Januarie 2016 verloof geraak het aan Altus van Zyl (27), ’n inligtings­tegnologie spesialis, dié idee het haar onkant gevang. “Dit het ’n rukkie geduur om daaraan gewoond te raak, maar toe besef ek dit sal ’n uitsonderl­ike en eenmalige troue wees.”

Thys was die troubeplan­ner en het al die reëlings behartig, vertel die susters. Drie bruide, elk met hul eie idees, was sekerlik ’n handvol?

“Ek dink nie so nie,” sê Louise. “Ons het van sy voorstelle gehou, en ek dink ons al drie was eintlik baie maklik.”

Thys beaam dit: “Hulle was glad nie moeilik nie en het my oordeel vertrou.”

Die gevolg was elegant gedekte tafels met silwer onderborde, wit draperings en ’n verskeiden­heid wit blomme. Ses verskillen­de troukoeke, elkeen met wit en swart fondant versier, het agter die lang bruidstafe­l gestaan. Oor die boerekos spyskaart van skaapvleis, gebakte aartappels en pampoen poffertjie­s was daar eenstemmig­heid, want hulle smul almal ewe graag daaraan.

Tog was daar elemente wat uniek was aan elke paartjie. Elke bruidspaar kon hul eie uitrusting­s kies en die trourokke en -pakke is geheim gehou tot op die troudag. Die bruide het mekaar se rokke die eerste keer gesien toe hulle die oggend van die troue saam begin regmaak.

Louise en Chenaske het albei in wit getrou, maar Sintiché het ’n swart rok gekies.

“Ek wou nog altyd ’n swart trourok hê. Daar is nie ’n spesifieke rede daarvoor nie; ek het maar net daarvan gehou,” vertel Sintiché. “Ek het eers ’n bietjie getwyfel, maar toe ek prentjies begin versamel, het ek ’n stunning rok gesien. En nee, ek is nie vir een oomblik spyt nie.” Volgens Altus was hy aan die begin skepties, maar sy bruid in swart het sy asem weggeslaan.

Louise en Sintiché se rokke is deur die Kaapse ontwerper Stephen van Eeden gemaak. Hy het drie keer Upington toe gevlieg sodat hulle die rokke kon aanpas.

“Ek wou graag in my ma se ma, ouma Wiesie, se rok getrou het,” vertel Louise. Sy kon ongelukkig nie die trourok opspoor nie, maar het ’n soortgelyk­e een laat maak.

Chenaske het by die Vrystaatse ontwerper Werner Dey gaan aanklop vir haar halter nek skepping .“Hy het my matriekafs­keid s rok ook gemaak ,” vertel sy.

Die drie is dit eens hulle was nooit spyt dat hulle hul groot dag met nog twee bruide moes deel nie. “Daar was regtig geen jaloesie of gevoelens dat een mooier as die ander lyk nie,” sê Sintiché. “Ons is almal baie na aan mekaar, en ja, nie enigiemand sal so trou nie.”

“As ons mans nie ook so goed oor die weg gekom het nie, sou dit nie gewerk het nie,” voeg Louise by.

Volgens Chenaske was mense aanvanklik geskok toe sy hulle van hul trouplanne vertel. “Maar ek dink hulle was op ’n goeie manier verras.”

Louise sê daar was mense wat dié ongewone troue bevraagtek­en het. “Maar die meeste was saam met ons opgewonde.”

En soos met enige ander troue was die gastelys ’n uitdaging. Elke paartjie kon eindelik omtrent 48 vriende nooi, vertel Altus. “Die meeste van die familieled­e het oorvleuel,” verduideli­k Chenaske.

’n Week voor die troue het die drie susters se senuwees effens begin knaag, vertel Sintiché. “Ons het nooit vasgesit nie, maar het so ’n week voor die tyd ’n bietjie krapperig begin raak. Ons weet nie eens hoekom nie. Ek dink dit was maar net die normale spanning voor die groot dag,” vertel sy.

Die aand voor die troue het die drie sussies sommer saam in een koningingr­ootte-bed in ’n wittebrood­skamer by die trouplek geslaap voor hulle die volgende dag vroeg met hare en grimering begin het.

Daardie middag om tweeuur het Chenaske saam met haar pa, Hennie, in die paadjie afgestap, gevolg deur Sintiché aan die arm van hul ma, Dalene, en laastens Louise, die oudste, saam met haar en Sintiché se pa, Eugene.

Chenaske en Frikkie se seuntjie Conan het saam met Louise en Willem se vierjarige dogtertjie, Milene, die ringe ingedra.

Later die aand het die paartjies beurte gemaak om die dansbaan te open en elke paartjie kon op hul eie spesiale liedjie dans terwyl die gaste toekyk.

“Almal het tot laataand baie lekker saam gekuier,” vertel Sintiché. “Toe kon ons net ontspan en dit geniet.”

“Dit was die troue van ’n leeftyd,” sê Altus. En die wittebrood, was dit ook iets wat hulle gedeel het? Aikôna, daarvoor het elke paartjie hul eie planne beraam. Sintiché het ná die troue ’n week lank saam met Altus in Thailand weggebreek. Chenaske en Frikkie beplan ’n bootreis vir volgende jaar, en Louise en Willem gaan ook eers later wittebrood hou. Maar dis gewis: Ná die tyd sal die susters met hul hegte band al die foto’s en stories uitruil!

‘Daar was geen gevoel dat een mooier as die ander lyk nie’

 ??  ?? Chenaske en Frikkie Pretorius, Sintiché en Altus van Zyl, en Louise en Willem Burger beloof tydens een groot bruilof naby Upington almal gelyk trou aan mekaar.
Chenaske en Frikkie Pretorius, Sintiché en Altus van Zyl, en Louise en Willem Burger beloof tydens een groot bruilof naby Upington almal gelyk trou aan mekaar.
 ??  ?? Sintiché en Altus stap eerste by die onthaalsaa­l in, met die ander twee paartjies kort op hul hakke.
Sintiché en Altus stap eerste by die onthaalsaa­l in, met die ander twee paartjies kort op hul hakke.
 ??  ?? Die pasgetroud­e paartjies saam met ds. Floris Lategan (links agter), die predikant wat hulle almal in die eg verbind het.
Die pasgetroud­e paartjies saam met ds. Floris Lategan (links agter), die predikant wat hulle almal in die eg verbind het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa