Huisgenoot

Wewenaar bedroef omdat dogter haar onttrek toe hy weer liefde vind

- ANONIEM

ONS

was ’n hegte gesin. Ek het lang, ongereelde ure gewerk; daarom het ek vir ons kort wegbreke en vakansies beplan. Ons het gehaltetyd saam gehad.

Uit ons huwelik van 35 jaar is ’n seun en dogter gebore. Ek het my bes gedoen om ’n bogemiddel­de leefstyl te verseker. Ons het in ’n goeie buurt gewoon en ons motors en meubels was van die beste.

Vroeg in my vrou se lewe is hoë bloeddruk en diabetes by haar gediagnose­er. Weens ’n motorongel­uk in 1998 het haar gesondheid verder verswak en in 2013 is sy oorlede. Ek het nooit gedink ek sou weer trou nie, maar die lewe was bitter eensaam. Eindelik het ek ’n besonderse vrou ontmoet en ons beplan om binnekort te trou. My vriende en familie is gaande oor my verloofde – almal behalwe my getroude dogter.

Al wat ek kan dink, is dat jaloesie ’n rol speel. My verloofde het twee dogters wat albei ver van ons woon. Een is getroud en het twee pragtige kinders.

My verloofde se kinders en kleinkinde­rs is vir my soos my eie, maar dis blykbaar ’n bedreiging vir my dogter, wat self ’n seun en dogter het. Sy verbied enige kontak tussen my, hul bloedoupa, en hulle. Die oudste, my kleindogte­r, is gek oor my verloofde, maar mag nie met ons kontak hê nie. Die jongste, my kleinseun, is nou amper twee jaar oud, maar ons het geen verhouding met hom nie. Ons word nie betrek by verjaardae en ander spesiale vierings nie.

Van my kant af het ek alles probeer om dinge te herstel, maar verniet. Bel of stuur ek vir my dogter boodskappe, word dit nie beantwoord nie. Nou wonder ek of alle kinders so moeilik is met die nuwe vrou in hul pa se lewe. Gun hulle hom dit nie om weer geluk te vind nie?

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa