1STE TREE NA TOT SIENS
Teen Kerstyd sal Jacob Zuma nie meer die ANC se president wees nie – so lyk sy nalatenskap
DIT klink amper te goed om te glo: Pres. Jacob Zuma se dae as leier van die ANC is getel. Teen Kerstyd behoort ons omstrede president se leierskap van die regerende party iets van die verlede te wees. Kort voor druktyd was dit nog onseker wie op die ANCleierskonferensie in Gauteng as sy opvolger aangewys sou word. Adj.pres. Cyril Ramaphosa was die voorloper om die nuwe ANC- leier te word, maar met Nkosazana Dlamini-Zuma se uitgeslape eksman, JZ, in haar hoek kon sy nie as moontlike opvolger uitgeskakel word nie.
Zuma kan tot in 2019 president bly, maar sy invloed sal waarskynlik nou toenemend begin taan. In hul nuwe boek, Enemy of the People: How Jacob Zuma Stole South Africa and How the People Fought Back, gee die joernaliste Adriaan Basson en Pieter du Toit, onderskeidelik redakteur van News24 en van Huffington Post in Suid-Afrika, ’n oorsig van Zuma se verwoestingstog sedert hy aan die bewind gekom het.
ZUMA het ons samelewing en ekonomie geweldige skade berokken sedert sy inhuldiging as staatspresident in Mei 2009, skryf Adriaan en Pieter. Hy het ons staatsinstellings stelselmatig ondermyn, die oppergesag van die reg en die gees van demokrasie verontagsaam en ’n netwerk begunstigdes en kultuur van strafloosheid gevestig.
Die doel? Grootskaalse plundering van ons openbare hulpbronne. Dís die nalatenskap van die staatshoof wat SuidAfrika so roekeloos bestuur het en dís hoe hy onthou sal word, soos uiteengesit in Enemy of the People.
AAN DIE BEGIN
In Desember 2007 word die polities geslepe Zuma in Polokwane ANC-leier. Sy strategie was om hom valslik voor te doen as ’n slagoffer van ’n sameswering deur die destydse pres. Thabo Mbeki.
Tydens die uitspraak in die korrupsieverhoor van sy vriend Schabir Shaik is Zuma se swakhede blootgelê: sy vatbaarheid vir manipulasie en onvermoë om met geld te werk en baie kinders te onderhou.
Maar Zuma se sogenaamde “koalisie van gewondes” het nietemin volgehou aantygings van korrupsie en verkragting teen hom was Mbeki se handewerk.
Regter Chris Nicholson het in September 2008 die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se korrupsieklagte teen Zuma rakende sy verhouding met Shaik verwerp op grond van beweerde politieke inmen- gery in die vervolgingsproses. Nicholson se beslissing is begin 2009 op appèl omgekeer. Maar toe het Zuma reeds gewen. Weke ná die Nicholson-uitspraak het die ANC Mbeki as staatspresident herroep.
Ná die algemene verkiesing in 2009 word Zuma staatshoof. Sy allesoorheersende ingesteldheid sou op homself en sy begeertes wees, veral om latere vervolging weens korrupsie te vermy.
ONDERWERP DIE ANC-ALLIANSIE
Die politieke koalisie agter Zuma se Polokwane-triomf het uiteenlopende belange en ideologieë gehad. Hul eenheid was kortstondig. Zuma het nooit ’n duidelike ANC- en landsvisie gehad nie.
Die oud-Cosatu-leier Zwelinzima Vavi was die eerste een wat van Zuma sou wegbreek. “Ons stuur af op ’n roofstaat waar ’n magtige, korrupte elite van politieke hiënas toenemend die staat misbruik om ryk te word,” het hy in Augustus 2010 gesê.
Julius Malema (nou EFF-leier) se verhouding met Zuma het ook versuur. In Februarie 2012 is hy as ANC-jeugleier uitgeskop. Zuma het hom met groot ywer daarop toegespits om sy party te onderwerp en teenstanders te isoleer.
HERKIES
In Desember 2012 op die Mangaungkonferensie in Bloemfontein verslaan Zuma Kgalema Motlanthe oortuigend en word tot ANC-president herkies. Dis enkele weke ná onthullings dat die staat meer as R240 miljoen vir opgraderingswerk aan sy privaat woning by Nkandla