Huisgenoot

Hy was so ’n mooi seuntjie: skraal gesiggie, bakoortjie­s, stoute ogies

-

het. Sy onthou hoe maklik sy armpies om haar gevou het. Hy was ’n goeie stout kind, soos wat ’n seun behoort te wees. Sy oë het ’n permanente flonkering gehad, asof hy ’n baie goeie geheim styf vashou. Maar nie meer nie. Die tik het dit uitgedoof . . .

Dit raak swaar in haar. Soggens het sy saam met die kinders skool toe geloop en dan aan tot waar sy die taxi gehaal het, maar smiddae moes hulle self by die huis kom, en Damien was twee jaar alleen in die hoërskool.

Teen die tyd dat die eerste sussie bygekom het, was dit reeds te laat. Elke middag het hy verby die bendelede geloop terwyl hulle na hom roep in hul blink klere met al die name op.

By die huis kom trek hy weer gister se klere aan. Elke keer het hulle nog ’n stukkie uit sy muur gekap tot hy een middag nie verbygesta­p het nie.

Eers het hy vir hulle op die ander bendes gaan spioeneer. Later het hy vir ’n dwelmhande­laar gewerk; op die hoek buite die dwelmhuis ’n oog staan en hou, en beter klere begin dra as wat sy vir hom kon koop.

Dis toe sy geweet het. Sy het probeer baklei vir hom, maar wat kon sy regtig doen? Soggens moes sy Somerset-Wes toe, waar sy ander mense se huis of skottel- of wasgoed skoonmaak, hul kinders middagete gee terwyl hare self die margarienb­akkies moes oopmaak wat sy vir hulle gelos het. Laatmiddag kry sy die taxi terug Mitchells Plain toe, waar sy eers kos berei het en dan haar eie huis of skottel- of wasgoed moes skoonmaak. Sy pa is lankal vort en die Hardiens wat in die hokkie agter woon, wel, hulle het nie gekyk dat haar Damien wegbly van verkeerde dinge af nie.

Sy klits drie eiers en meng dit saam met die meel by die mielies. Die hoender prut lekker. Sy toets die olie se hitte en skep ’n lepel mieliedeeg in; knik toe dit sis.

Die voordeur gaan oop. Dit kap nie, maak net sonder deernis toe. Die voetstappe is swaarder, stadiger. Damien se gestalte verskyn in die deur.

“Hallo, Boeta. Ek is bly dat jy gekom het.”

Hy groet nie, kyk haar net en loop verby agterdeur toe. Hy lyk nie gerook nie, maar sy is bang hy sal nou ’n pyp maak.

“Die kos is amper reg.”

Dis al wat sy het om hom te probeer keer. “Ek het ryspoeding gemaak. Jou

Die hele ete is sy gunsteling­e. Dit was toe hy nog ordentlik geëet het. Hy loop net uit. Sy skep die eerste klomp mieliekoek­ies uit, bottergeel met goudbruin vlekkies, skep nuwe deeg in.

Damien het altyd so mooi gehelp, van kleins af. Die middag se skottelgoe­d was gewas wanneer sy by die huis kom. Hy het homself gou geleer om so min moontlik vuil te maak, net met ’n vurk uit die margarienb­akkie geëet tensy ’n mes absoluut noodsaakli­k was. Hierdie praktiese wysheid het hy aan sy sussies oorgedra toe hy nog vir hulle ook gewas het.

Sy glimlag. Hy was so ’n mooi seuntjie ook: skraal gesiggie, bakoortjie­s, mond wat maklik gelag het en stoute ogies wat altyd saam heul. En natuurlik die kuiltjies.

Elke keer dat sy “Fancy Boys” op ’n Vibracrete-muur sien staan, gis die haat in haar. Die tik het hom so verander.

Hy het nie meer skool toe gegaan nie. Hy het begin steel. Die geld het sy leer wegsteek, maar een aand was die TV net weg. En hy het gewelddadi­g begin raak wanneer sy geweier het om hom te sê waar die geld is, gelag wanneer sy hom vra waarvan sy sussies en boetie moet leef, Salomien se kleintjie.

Oor die blou oog het sy haar werkgewers vertel sy is beroof en hulle nie reggehelp toe hulle aanneem dit het op straat gebeur nie. Dis ook nie die eerste gekraakte rib wat sy nou wegsteek nie.

Sy roer die hoender en begin met die laaste baksel mieliekoek­ies.

Hulle noem dit tik omdat die kristalle kraak wanneer dit in die gloeilampi­e warm gemaak word, maar wat eintlik kraak, is die kind self. Hy kraak oop en kan nooit weer heelgemaak word nie. Hierdie kind lyk soos haar seun, maar sy ken hom nie.

En dis nie eens die klere wat alles name ophet – Nike, Adidas, Shotgun – en die oorbelle en snaakse haarstyl nie; dis die binnekant. Damien is nie meer daar nie.

Sy haat hulle. Eenkeer het sy op ’ n klomp Fancy Boys geskel, maar hulle het net vir haar gelag. Hy behoort nou aan hulle. Hulle noem hom Green Eyes. Hy het haar oë. Hy het moeilikhei­d met die polisie ge- kry. Hulle het hom Bosasa toe gevat, maar hy was erger toe hy uitkom. Kwaad.

Die tik maak hom aggressief. Sy het gehoor hy is nie meer by die dwelmhuis nie. Haar Damien het ’n tiksoldaat geword. En sy sien die tekens. Hy het al teruggekom met steekwonde. Eenkeer ’n koeëlwond. Nagte het sy omgelê en wonder of haar oudste kind huis toe sou kom. Eers het sy gebid dat hy sou terugkom.

Later het sy opgehou. LLES is reg. Sy stel die hitte laer en gooi die room by die hoender, laat dit prut terwyl sy by die voordeur uitgaan, in die straat afloop tot waar die kinders speel en hulle roep om te kom eet.

Damien sit aan die een kop; sy aan die ander. Tussen hulle praat en lag dit oor en weer en die kleintjies kwetter van die vloer voor die boom af. Sy kan sien die ander eet lekker en dit help met die swaar pyn in haar hart. Sy onthou hoe ekstradiep daai kuiltjies op Kersdag was. Sy kan nie onthou wanneer sy die kuiltjies laas gesien het nie.

Die ander borde bly dolleeg agter. Salomien en Jayda help om dit kombuis toe te dra. Hulle bring die nageregbak­kies. Sy het vroeër al die ryspoeding uitgeskep en bring self Damien s’n, sit dit voor hom neer en vryf liggies oor sy skouer. Hy sê nie dankie nie.

’n Halfuur later loop die ander see toe. Damien se oë het swaar geraak en hy het gaan lê.

In die kombuis skakel sy weer Boney M. aan en luister Little Drummer Boy. Dit was altyd Damien se gunsteling.

Laas week vertel Jerome haar Damien het hom na ’n stuk veld toe gevat en ’n pistool gewys: hoe dit werk; hoe dit skoongemaa­k word.

Dit het sy uitgevind nadat sy Jerome met latekshand­skoene sien speel het. Hy het erken Damien sal hom die een of ander tyd die pistool gee en dan moet hy huis toe hardloop, dit skoonmaak en wegsteek – ná ’n bendeskiet­ery, weet sy.

Hy het op sy maag aan die slaap geraak. Dis so maklik om Mandrax in Mitchells Plain te koop. Een been hang op die grond en sy tel dit op.

Sy vryf oor sy hare en soen sy wang, vee die traan af wat op sy droë, siek vel drup.

Sy lig sy kop, skuif die Pick n Pay-sak bo-oor en bind dit teen sy nek vas.

Sy vat sy hand en wag.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa