Huisgenoot

‘Die mense het kwaai gedrink. Hulle sê die kleintjie skree en hy maak stink’

-

Verstommin­g. Toe breë glimlagte. Die man help die vrou en baba agterin. Hy kom sit voor. “Ai tog. Baie dankie.” “Ek is Hannes Tredoux.” “Ek is Petrus Booi,” sê die man. Hy wys na agter. “Daardie is Susanna. Die kleintjie is baie klein. Hy moet nog naam kry. Môre se Kersfees gaan hy naam kry.”

“Dis mooi,” sê Hannes. ’n Skielike deernis laat hom sluk. Hy begin wegtrek, maar moet ’n rukkie wag dat drie motors roekeloos verbyjaag voor hy weer deel word van die verkeer.

Petrus skud sy kop. “Die mense . . . Hulle ry of hul lewe nooit gaan einde kry nie.”

“Ja,” knik Hannes, “mense gee nie om nie. Nie eens vir hulself nie. Sê my, waarom het hulle julle uit die taxi gesit?”

“Ai tog, die mense het kwaai gedrink. Hulle sê die kleintjie skree en hy maak stink.”

Toe lag Hannes. En ruik dit. Hy trek weer af. “Susanna, jy kan hom gou skoonmaak as jy wil.” “Ek wil. Dankie.” Hannes loop tot voor die kar en strek sy arms. Hy sou wat wou gee om hom nou op ’n bed uit te strek, maar vanaand sal hy moet wakker bly. Die hele tradisie van die Tredouxs se Kersboomse­remonie sal uitgespeel word. Eers die koue kalkoen, skaapboud en slaaie. Sy pa wat uit Lukas lees en ’n gebed doen, dan verdwyn om ’n Kersvaderp­ak aan te trek, agter die wattebaard verskuil binne te kom en in ’n dik stem eers die kinders se name op die geskenkkaa­rtjies te lees en dan die grootmense s’n. Tot die vertrek vol verkreukel­de geskenkpap­ier lê en almal op die stoep roomys gaan eet. “Ek is klaar,” sê Susanna. “Mooi,” antwoord Hannes en glip terug agter die stuur. Dis toe hy aanskakel dat hy die kermklank uit die enjin hoor. Hy probeer weer. Die kar staan. “Hy wil nie,” sê Petrus bekommerd. Die baba begin weer snik, maar Susanna maak troostende klikgeluid­e, druk die leë bottel se tiet in die kind se mond. Hy suig so dringend dat Hannes dit kan hoor.

Petrus hou ’n sigaretaan­steker na Hannes uit. “Om te kan sien.” Hannes klim sugtend uit en gaan maak die enjinkap oop. Hou die vlammetjie hoog. En vermoed wat hy nie wil nie: Iets is fout met die huurkar se verkoeler. Stoom trek sissend uit. Hannes buk laag grond toe, sien die nat kol, druk sy vinger daarin en ruik. Daar is waarskynli­k ’n gaatjie in die verkoeler. Loop sal hy nie loop nie. Die huurmaatsk­appy het natuurlik nie die motor gereeld genoeg versien nie.

Hannes gaan klim in en draai skuins. “Ek is jammer. Ons is hier vir die nag.”

Petrus kyk verby Hannes na motors wat verbyblits. “Wat sal ons doen?”

“Wag.” Op wat of wie weet hy self nie. Hy kan net hoop. En bid, het Suné se WhatsApp mos gesê. Ag, liewe Here.

Hannes haal sy selfoon uit en sug diep. Hy weet van die stuk pad waar meestal nie ’n sein is nie.

Hy skakel die kar se radio aan. ’n Koor sing Kom Herwaarts, Getroues. Die baba se suig-en-sanik hou stadigaan op. Af en toe blits ’n motor verby. Meestal lyk dit of die mense hulle nie sien nie. Dié wat wel sien, is vanselfspr­ekend te bang om stil te hou. Hy skakel die radio af. Netnou is die battery ook nog daarmee heen.

Toe die kind weer ernstig huil, begin sy kop werk. Maar hy vra eers: “Is die kind se melk op?”

“Ja,” sê Susanna. Petrus verduideli­k: “Sy het nie self melk nie. En ons kom al van Pretoria af. Die kind het alles gedrink.”

Dis nie dinge wat Hannes ken nie. Maar dis nag en die kind is dors. Hy klim uit en gaan soek in die bagasiebak. Hy kry die plastieksa­k met die bottels in. Die water sal dalk help. Veral as ’n mens dit met ’n bietjie vrugtesap geur. Dis lietsjie en behoort nie te kind se maag om te krap nie. Dit kan dalk die water ’n bietjie smaak gee. Hy stel die saak aan Susanna. Sy lag. “Die Coke is beter, maar skud hom eers.”

Hannes maak so om die gas uit te kry. Amper die helfte spuit uit. Hy geur die water net so effens daarmee en Susanna gooi dit in die kind se bottel oor. Die kind proe-proe en drink toe tevrede. Wat die kafeïen gaan doen, weet Hannes nie.

Hy klim terug in die kar, gee die sap vir die dankbare ouers en neem self ’n sluk Coke. Die res gee hy weer vir Susanna aan.

Petrus sê meteens: “Dis Kersfees. Kom ons sing Stille Nag.”

Hy trek weg in ’n sterk bariton. Susanna val in. Toe Hannes ook.

Die laaste noot sterf weg in die suiwer stilte wat die motor omvou.

“Dis baie mooi,” sê Hannes. “Kom ons slaap nou.” “Ja,” sê Petrus en leun met sy kop agteroor.

Susanna en die kind vroetel nog. Hannes hoor vir laas hoe die water plus ’n knertsie Coke in die kind se bottel geskink word. Hy raak al sittend weg. ULLE moes lank geslaap het. Sy kop voel dik toe iemand aan die bestuurska­nt se venster tik. Hy draai versigtig oop. Dis ’n jong boer, so lyk dit. Agter hom staan sy vragmotor. “Goeienaand,” sê die man. “Of liewer, goeiemôre. Dis al drieuur.”

“Liewe land.” Hannes vryf die slaap uit sy oë en klim uit. “Ek is Hannes Tredoux en op pad na ’n plaas anderkant Bethlehem.”

“Jan Botha. Ek kom van Johannesbu­rg. Ek het vragte goed gaan aflaai en toe eers laat my ry gekry. Gekuier by familie. Nou weer terug plaas toe naby Slabberts. Toe sien ek julle.”

Hannes verduideli­k hul situasie. Jan knik net en buk om in die motor te loer waar Susanna en Petrus tjoepstil sit.

“Ek het voor by my in die kajuit sitplek vir die vrou en kind en agterop vir julle manne. Nie gerieflik nie.” “Dis reg so. Baie dankie.” ’n Uur later probeer Hannes agterop die bak ’n sein opvang. Suné antwoord dadelik. “Waar is jy tog?”

“Op pad na jou toe. Lang storie. Stel my ouers ook gerus. Ek kom.”

Petrus en sy mense word by Bethlehem se stasie afgelaai nadat hy ook huis toe gebel het. Sy broer sal hulle daar kom oplaai. Hulle groet Hannes plegtig en sê die Here sal hom seën.

Toe hy en Jan die dorp uitry, sê Hannes: “Nog so vier kilometer. Dan sal ek by die indraaipad afklim. Ek wil die laaste entjie stap.” Jan maak so. “Geseënde Kersfees,” sê hy toe hulle groet.

Hannes stap met sy rugsak deur die laning sipresse. Bo hom begin die sterre vervaag. Net die môrester bly hang.

Op die opstal se stoep sien hy Suné wag. Toe sy hom gewaar, kom sy snikkend aangehardl­oop. Hy vang haar teen sy bors vas. Toe sy wil begin praat, sit hy sag ’n vinger op haar mond.

“Kyk, daar is die blink môrester. Dis al wat nou nodig is om te weet.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa