WOLWEDANS IN DIE VRYSTAAT
Naby Reitz is ’n veilige hawe vir meer as 200 wolwe – en hulle is so mak soos lammetjies
DIE vlaktes lê wyd gestrek, welig groen ná die reën. Skielik skeur ’ n senutergende gehuil oor die plat aarde. Dan volg nog een, en dan nog een, tot die stilte hier naby Reitz in die Oos-Vrystaat vervang is met ’n koor van wolwesang. Dit kom van die meer as 200 wolwe in ’n veilige hawe vir dié viervoetiges buite die dorp. Hoe kan dit wees dat ’n gemeenskap van veeboere sulke ongediertes in hul midde duld? Jy verwag tog dat ’n boer hier met sy roer sal gereed staan om kuddes teen ’n roofdier soos mnr. Wolf te beskerm.
Maar soos op menige plattelandse dorp heers hier vrede en harmonie, selfs tussen die boer en die onheilspellende ondier van feëverhale.
“Jou ma het gejok toe sy vir jou Rooikappie en die Drie Varkies vertel het,” sê Larry Paul (59). “Wolwe is die vredeliewendste diere wat jy kan kry.”
Larry is die eienaar van HuskyRomi Rescue and Wolf Sanctuary, waar hy die afgelope dekade ’ n veilige heenkome bied vir poolhonde en wolwe wat deur hul eienaars verwerp en mishandel is.
Op sy plaas van 86 ha versorg hy nou 214 wolwe en 53 poolhonde. In SuidAfrika is nie ’n beperking op hoeveel wolwe ’n mens mag aanhou nie, en jy het ook nie ’n spesiale permit nodig om dit te doen nie.
En volgens die eienaar van ’n koffiekroeg op die dorp is daar geen klagtes oor die wolwe nie. “Larry kyk mooi na die wolwe en daar was nog nooit ’n geval waar een van die wolwe ontsnap en van die vee bygekom het nie.”
Maar waar kom al hierdie wolwe vandaan, wonder jy dalk, want die diere is tog nie inheems aan ons land nie? “Daar bestaan nie iets soos ’n wilde wolf in Suid-Afrika nie,” bevestig Larry. “Al hierdie wolwe is gewoond aan mense. Hulle word geteel vir onder meer die jagbedryf of as troeteldiere.”
Hy neem ons na ’n kamp waar vier wolwe al stertswaaiend aangedraf kom. Hulle groet ons met uithangtonge, maar net ’n paar maande gelede was die twee Kanadese wolwe onder hulle erg gehawend en hul lewe in gevaar. Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het hulle op Lichtenburg by ’n klein dieretuin weggeneem en hulle sou uitgesit word. “Ek moes hard baklei om hulle hier te huisves,” vertel Larry.
So het elke dier hier ’n storie. Dat hulle in dié veilige heenkome beland het, is alles te danke aan Larry en ’n poolhond met die naam Romi.
LARRY, ’n meganiese ingenieur van beroep, het sy wolfliefde so 10 jaar gelede met ’n ompad deur Romi ontdek. Romi, die hond van sy destydse buurvrou, het eendag weggehardloop na Larry toe, wat toe die hele dag met hom gespeel het voor hy hom teruggeneem het.
“Namate Romi ouer geword het, het hy oor die muur na my erf toe gespring. My buurvrou het my later toestemming gegee om met hom te gaan draf. Wolwe en poolhonde het verskriklik baie aandag nodig, en as hulle dit nie kry nie, raak