Huisgenoot

MY STORIE

Om uit ’n slegte huwelik te ontsnap is soos om die lewe te skenk, sê ’n leser

-

DIS nou twee jaar vandat ek eindelik weggestap het. Wanneer ek op dit alles terugkyk, kan ek nie glo ek het soveel trane op my eks gemors nie.

Ek kan nie glo ek het toegelaat dat die spanning my liggaam so aftakel nie. Ek kan nie glo ek het toegelaat dat hy my so lank met soveel pyn en hartseer laat leef het nie.

Daar was baie dae dat ek gewens het ek is dood. Daar was dae dat ek dit selfs oorweeg het om my lewe te neem.

As jy in daardie situasie is, weet jy presies hoe ek gevoel het; jy voel ook so. En jy gaan heel moontlik nog ’n lang tyd so voel.

Maar hoor my, asseblief: Die dag dat jy besluit om jou vryheid terug te eis en hom te verlaat is die dag dat jou nuwe lewe sal begin.

Die rouproses wat ná daardie besluit volg, is amper soos om die lewe te skenk. Dit is verskrikli­k seer, en jy gaan dit nooit vergeet nie. Maar weet: Sodra daardie nuwe lewe daar is, gaan jy ’n nuwe mens wees.

Ek was vry die dag toe die regter my amptelik vrygemaak het van hom. Ek was ’n ander mens. Natuurlik het ek nog gehuil en baie dae terneerged­ruk gevoel.

Maar skielik het ek ook weer begin lag. Skielik het ek weer hoop gehad. Ek kon uitsien na my nuwe lewe en werk aan ’n nuwe begin met nuwe drome en vars doelwitte.

“Nuut” is so ’n klein, alledaagse woordjie, maar dit hou ontsettend baie betekenis en belofte in.

Wanneer jy jou ook eindelik losgemaak het – maar nog rou – hou jou oë op alles wat nuut is op jou lewenspad. En kyk na jouself; jy is nou eindelik die belangriks­te in jou lewe. – WENSBEENTJ­IE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa