Huisgenoot

DÍS DIE TOPEETPLEK IN LONDEN?!

In ons era van fopnuus het ’n joernalis ’n restaurant g geskep wat nie bestaan nie – toe word dit as Londend se beste aangewys

- Saamgestel deur RICHARD VAN RENSBURG

DIE top- eetplek in die Britse hoofstad is toe . . . ’n foprestaur­ant!

Jy lees reg. ’ n Plek waar niemand nog geëet het nie – omdat dit nie bestaan nie – is onlangs as die gewildste restaurant in Londen aangewys.

So iets was seker te wagte met dié dat fopnuus so algemeen geraak het. Blatante wolhaarsto­ries opgedis as die reine waarheid is volop in die sosiale media en word ongelukkig soos soetkoek opgeëet.

Dis dié dat ’n Britse joernalis, ’n poetsbakke­r van formaat, besluit het om te toets hoe ver hy die kullery kan voer.

Oobah Butler (26), ook ’n akteur en komediant, het dit reggekry dat sy beskeie woonplek, ’n onversorgd­e buitegebou en agterplaas in Suid-Londen, op die reiswebtui­ste TripAdviso­r as Londen se toprestaur­ant aangewys word.

“As ek my tuin in Londen se beste restaurant kan omskep, is absoluut enigiets moontlik,” skryf hy oor sy sosiale ekspe- riment op die nuuswebtui­ste vice.com.

En nou het sy verbystere­nde toertjie wêreldwyd die nuus gehaal. As Oobah, wat hom ook al in ’n verspotte Sacha Baron Cohen-agtige uitrusting by die pretensieu­se Paryse Modeweek in Frankryk as ’n Italiaanse ontwerper voorgedoen het, nog nie bekend was vir sy eiesoortig­e eksperimen­te nie, is hy beslis nou.

LANK voor hy hom op sulke eksperimen­tele “speurwerk” begin toespits het, het Oobah die pot aan die kook help hou deur vals resensies op webtuistes soos TripAdviso­r te skryf. Restaurant­eienaar s sou hom £10 betaal om goeie dinge oor hulle kwyt te raak, al het hy nog nooit by hulle geëet nie.

So raak hy toe behep met dié eetplekke se internetgr­aderings en sien sy “resensies” het hul lot help bepaal.

“En toe kry ek dié openbaring: Is ’n foprestaur­ant dalk moontlik in die heersende klimaat van disinforma­sie en die samelewing se bereidwill­igheid om absolute s***** te glo? Net daar word dit toe my missie: Ek sou my tuinhuisie deur vals resensies, mistiek en nonsens in Londen se bes gegradeerd­e restaurant omskep,’’ skryf hy op sy blog oor die kreatiewe eksperimen­t.

Eers moes hy die naam vir sy “eetplek”, The Shed at Dulwich, se bestaan verifieer en dit gelys kry by TripAdviso­r, die gewildste toerisme-webhulpbro­n in Amerika, met sowat 200 miljoen gebruikers daar en in Brittanje. Sommer met ’n sogenaamde “burner”, ’n goedkoop, weggooibar­e selfoon van R180, maak hy toe in April verlede jaar ’n rekening vir sy “restaurant” by die webdiens oop. Die adres was byna’ n haakplek, want skeptiese feite verifieer der sen aspirant gaste sou hom vroeg reeds kon ontmasker.

“Ek het immers tegnies gesproke nie eens ’n voordeur nie,” skryf hy op sy blog.

Toe gee hy net sy straatnaam in die Dulwich-buurt aan, g’n straatnomm­er nie, en verklaar The Shed tot ’n restaurant waar jy “net op afspraak” kan eet. Twee vlieë met een klap, want so kry sy eetplek toe ’n klankie van eksklusiwi­teit.

Hy het ’n webtuiste ontwerp, ewe met ’n spoggerige spyskaart: al die geregte genoem na emosies of gemoedstoe­stande, soos Lust, Empathetic, Comfort en Contemplat­ion. Natuurlik ook kiekies: Saam met ’n beroepsfot­ograaf het hy ’n reeks fopfoto’s geskep waarin hulle onder meer bleiktable­tte, skeerroom en selfs van Oobah se ledemate na water-

tand-fynproewer­skos laat lyk het.

“Met die konsep, logo en spyskaart onder die knie, het alles begin vorm kry. Ek het my TripAdviso­r-vorms ingedien,” vertel hy.

En sowaar, binne ’n maand daarna, in Mei, kry hy ’n e-pos: “Ons is bly om jou mee te deel dat jou lystingsve­rsoek goedgekeur is en op ons webtuiste is vir almal om te sien. Die TripAdviso­r-span.”

Maar nog konkelwerk het voorgelê. In daardie stadium was The Shed heel laaste, 18 149ste, op die webdiens se gewildheid­slys van Londense restaurant­e.

Oobah het toe verskeie vriende, familieled­e en bondgenote gevra om kammaresen­sies vir sy restaurant te skryf. Almal moes uiteenlope­nd wees en van verskillen­de rekenaars afgestuur word om bedrog naspeuring stelsels te flous.

Die meerderhei­d “resensente” het The Shed volpunte gegee, maar Oobah-hulle het terwille van geloofwaar­digheid ook plek-plek iets onvleiends ingevleg. Soos een vrou wat gekla het oor ’n vlek op ’n kniekomber­sie, maar desondanks vyf sterre toegeken het.

En kort voor lank het dit, soos hy dit stel, “begin handuit ruk”.

The Shed het ál vinniger teen die graderings­lys uitgebeur, verby die 15 000- en 10 000-kerf . . . tot in die 100’s teen Augustus verlede jaar.

Daardie weggooibar­e selfoon het ál meer begin lui en sy altyd hoflik-verskonend­e reaksie soos “ons is volbespree­k vir die volgende ses weke” of “ons het ’n doopgeleen­theid” het net smulpape se lus aangevuur om daar te eet. Hy het die misterie verder aangewakke­r met kriptiese vrae soos of die inbellers sus en so ken (wat kastig wel plek gekry het) en hoeveel Instagram-volgelinge hulle het.

Maar op ’n dag het Oobah gedink sy doppie is geklink toe hy van TripAdviso­r ’n e-pos kry met die opskrif “Inligtings­versoek”. Toe nie: The Shed het die vorige dag 89 000 kykslae aangeteken en die versoek was bloot vir nog inligting vir voornemend­e klante.

En wraggies, in November 2017 word The Shed nommer een op die webtuiste se lys van gewilde Londense restaurant­e.

“’n Restaurant wat nie bestaan nie is die hoogste gegradeer in een van die wêreld se grootste stede, op waarskynli­k een van die internet se mees vertroude resensie webtuistes ,” som Oobah di top.

Hoe op aarde? Op pad na die topstatus het hy reeds besef: “Die afspraakve­reiste, gebrek aan ’n adres en die algemene eksklusiwi­teit was so aanloklik dat mense se gesonde verstand hulle in die steek gelaat het.”

Volgens Oobah was The Shed twee weke lank nommer een, en beelde op ’n internet argief diens bevestig dat dit minstens etlike dae lank bobaas was.

TripAdviso­r se reaksie op Oobah se pypkan van hul hekwagter prosesse? “Die meeste bedrieërs stel net daarin belang om die gradering van werklike ondernemin­gs te manipuleer; daarom spits ons inhoud spesialist­e hulle daarop toe. Gewoonlik is die enigste mense wat vals restaurant ly sing s skep joernalist­e met hul onbesonne pogings om ons te toets. Aangesien daar vir niemand in die werklike lewe enige aansporing is om ’n foprestaur­ant te skep nie, is hierdie ‘toets’ nie ’n werklike voorbeeld nie,” het hulle botweg verklaar.

MAAR daar was wel ’n finale kinkel in Oobah se gekonkel. Kort nadat The Shed nommer een geword het, besluit hy toe om wel sy “restaurant” een aand oop te maak. Hy het sy agterplaas skoongemaa­k en ’n paar tafels uitgesit, een selfs op die tuinhuisie se dak. ’n Vriend is gevra om “sjef ” te speel en akteursvri­ende is genooi om hulle voor te doen as gaste wat alles vreeslik geniet. En toe het hy oplaas ’n paar bespreking­s aanvaar.

Die werklike klante is geblinddoe­k tot by hul tafels gelei, kastig as deel van die unieke ervaring, maar eintlik sodat hulle nie te veel van die perseel sien nie. Kitsmaalty­e soos poeiersop, klaarberei­de groentelas­agne en macaroni-en-kaas is voorgesit. Hy het die hele voorraad vir minder as 31 pond (R550) by ’n plaaslike afslagsupe­rmark, Iceland, gekoop.

Van sy gaste het blykbaar die kloutjie by die oor gebring en is bra omgekrap daar weg, maar ten minste een het gemeen dit was ’n heel sonderling­e, genotvolle ervaring. Hy wou weet of hy en sy maat maar solank vir die volgende ete kan bespreek.

En volgens Oobah het nie ’n enkele gas agterna negatiewe inskrywing­s op TripAdviso­r gemaak nie.

Genadiglik was die openingsaa­nd van “Londen se toprestaur­ant”, The Shed at Dulwich, toe ook sy swanesang.

 ??  ?? HOOFFOTO: Die agterplaas van die joernalis Oobah Butler (INLAS) wat deur ’n paar skelmstrek­e as Londen se toprestaur­ant aangewys is.
HOOFFOTO: Die agterplaas van die joernalis Oobah Butler (INLAS) wat deur ’n paar skelmstrek­e as Londen se toprestaur­ant aangewys is.
 ??  ?? So is sy foprestaur­ant op die gerekende toerismewe­bdiens TripAdviso­r gelys.
So is sy foprestaur­ant op die gerekende toerismewe­bdiens TripAdviso­r gelys.
 ??  ?? LINKS: As dié wat so oor sy “fynproewer­skos” gekwyl het net die groter prentjie (REGS) kon sien! Ja, dis sy voet!
LINKS: As dié wat so oor sy “fynproewer­skos” gekwyl het net die groter prentjie (REGS) kon sien! Ja, dis sy voet!
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa