Deon Meyer Meye gesels oor sy nuwe misdaadroman misdaadro
Deur DEON MEYER (Human & Rousseau, R159*)
As ’n mens soos Deon Meyer daaraan gewoond is om boeke van meer as 100 000 woorde te skryf, is ’ n korter boekie dan ’ n aangename vingeroefening of ’n inspanning?
“Die korter formaat was inderdaad ’n uitdaging wat soms groot konsentrasie geverg het,” verduidelik hy sy jongste pennevrug, Die Vrou in die Blou Mantel. “Dit is makliker ( en vinniger) om langer te skryf. Dit was eers toe ek snap dat die struktuur en lengte baie soos ’n filmdraaiboek is, dat dit ’n aangename vingeroefening geword het.”
Hy vertel die Nederlandse uitgewer wat hom gevra het om die boek te skryf, kies die formaat suiwer om ekonomiese redes. “Daar word meer as 400 000 eksemplare gedruk. As dit 100 000 woorde was, sou hulle dit eenvoudig nie kon bekostig nie.”
Deon en Donna Tartt het nou albei ’n storie gebou om die Nederlandse skilder Fabritius. Was haar beroemde Goldfinch die impetus vir Blou Mantel? “Nee, maar dit was die impetus vir my leeswerk oor Fabritius, wat heerlike materiaal vir die novelle opgelewer het.”
Die storie draai om ’ n kosbare Fabritius-skildery van ’ n pragtige vrou, kaal met net ’n blou mantel om haar en oë vol geheime. Alicia Lewis, ’n kunskenner uit Londen, dink dis die vonds van haar loopbaan en kom soek dit in Suid-Afrika, waar dit in ’n boer van Villiersdorp se kluis is. Maar ander spring haar voor.
Soos al Deon se boeke wemel die storie van plekke wat werklik bestaan. Daar is die klipmuurtjie by die uitkykpunt bo-op Sir Lowryspas, ’n pandjieswinkel in Goodwood, die hotelbalkon wat uitkyk op die miljoenêrswoonstelblokke in die Waterfront . . . Hy het die gewoonte gehad om met sy motorfiets te gaan soek na sulke plekke, maar nie meer nie.
“Laat ek dit maar beken: Ek het die motorfiets ’n jaar of wat gelede verkoop omdat daar nie meer tyd was om dit ordentlik te benut nie. Ek het dus met die motor al die plekke gaan verken,” vertel Deon.
Sy karakters is nie net sleg of net goed nie, eerder menslik, soos blyk uit ’n eintlik amusante toneel waar ’n voortvlugtige wat vir Bennie weghardloop net voor hy finaal verdwyn, omdraai en “hoflik en simpatiek vir hom wuif”.
Deon verduidelik dat hy nie ’ n spesifieke resep of aanslag met sy karakters volg nie. “Dalk is dit bloot ’n weerspieëling van my eie siening dat ons almal maar voete van klei het.”