Bonusverhaal: Bonusverh ’n Ware Troebadoer Troebadoe
Van ‘mouth whistle’ tot ‘harmonica’ kom Hermaans deur die internet eindelik weer by ’n mondfluitjie uit
ROEG in die lente, ’n jaar ná sy vrou se heengaan, staan Hermaans Verwey een sonnige oggend op en kyk na die tekens van lewe in sy aftreehuisie se tuin. ’n Lus vir die lewe bruis onverwags deur sy are, nes die plantsap deur die stingels van die blomme wat oral kop uitsteek. Voëls kwetter vrolik. Opeens, ná byna vyf dekades, hoor Hermaans in die geveerdes se sang die geluid van ’n . . . mondfluitjie. Sy glimlag verbreed hoe langer hy meegevoer luister.
Hoekom nie? Petronella, wat die sogenaamde “hartseer klanke” verpes het, sal dit immers nie hoor waar sy nou is nie. Vir haar, sy geliefde eggenote, moeder van hul drie kinders en ouma van hul sewe kleinkinders, het hy sy Hohner prysgegee.
“Het jy mondfluitjies?” vra hy toe hy ’n uur later Fazal se winkel in die onderdorp binnestap.
“Mondfluitjies?” herhaal die gryskopIndiër fronsend.
“Yes, man, a mouth whistle,” verduidelik Hermaans met bakhande wat hy heen en weer voor sy lippe beweeg. “Mouth organ? Mouth whistle?”
“Nee,” skud Fazal sy kop en wys na die kitare en tromme.
Teleurgesteld ry Hermaans daar weg. Hoekom het hy nie maar destyds sy bekfluitjie iewers weggesteek nie? Waarom het hy dit weggegee? Dalk word die goed nie eens meer gemaak nie. LLES, ek sê jou alles, kan ’n mens oor die internet bestel,” hoor hy Dina Maritz die vrou langs haar aan die etenstafel vertel.
Dina is die nuutste inwoner van die aftreeoord; hy hou haar reeds ’n geruime tyd onderlangs dop. Sy ore sluit dadelik af vir die pratery langs hom. Hy draai sy kop effens skuins in ’n poging om die gesprek aan die oorkant beter te volg.
“Binne dae lewer ’n koerier jou bestelling af. Verby is die dae van stad toe ry om klere, boeke of wat ook al te gaan koop,” borduur Dina voort.
’n Rekenaar het Hermaans nie, en nog minder enige benul hoe die goed werk. Is Dina nie dalk die antwoord nie?
Ná middagete gaan slaap die meeste van die inwoners. Teen halfdrie skraap Hermaans sy moed bymekaar. Hy loer hierdie en daardie kant toe voor hy flink na woonstel 12 stap. Dina lyk vir hom nog heeltemal te hups om lid te wees van die dagslaperbrigade. Hy lui die klokkie.
“Mnr. Du Preez,” glimlag sy toe sy oopmaak. “Verwey,” korrigeer hy. “Hermaans.” “Kom binne,” nooi sy. “Koffie?” “Sal lekker wees,” aanvaar Hermaans, al het hy kwalik ’n halfuur tevore koffie gedrink. Hy wil nie buite met haar praat waar almal kan sien nie. Dit kan maklik ’n geskinder afgee.
“Ek het jou van internetaankope hoor praat,” verduidelik hy die rede vir sy besoek terwyl hy die teelepel versigtig terugsit in die piering.
“O, ja,” knik sy, “ek geniet dit werklik om op dié maklike manier te koop.”
Voor Hermaans besef wat hy doen, blaker hy sy hele verhaal uit. “Op my dag was ek nogal ’n mondfluitjiespeler van faam. Eintlik net in die distrik waar ek grootgeword het,” voeg hy beskeie by, “maar ek was regtig nie te sleg nie. Saterdagaande het ek dikwels saam met ’n
paar van die ander jong manne van die omgewing op partytjies musiek gemaak.”
“Haai, maar dis wonderlik, Hermaans! Speel jy nog? Ek sal jou graag wil hoor.”
“Nee, jy sien, Dina, dis juis die ding. My oorlede vrou kon die klank nooit verdra nie en toe hou ek op speel.”
“Ag, siestog, Hermaans. Wat ’n jammerte,” sê sy en klik haar tong simpatiek.
“Maar wel, Petronella is reeds ’n jaar gelede dood en . . . ”
“Nou keer niks jou om weer te speel nie,” voltooi Dina sy sin begrypend.
“Ag, jy moet tog nie dink ek het nie respek nie,” gooi Hermaans vinnig wal. “Al die jare het dit my nie gepla nie. Dis net nou die oggend toe die voëltjies so mooi sing dat ek weer van my ou Hohnertjie onthou het.”
“My liewe mens, ek dink glad nie lelik van jou nie. Nee, haal jou mondfluitjie uit en begin speel. Niks fout daarmee nie.”
Dankbaar dat Dina hom nie veroordeel nie, glimlag Hermaans in haar rigting en sien vir die eerste keer hoe helder haar bruin oë is.
“Die ding is: Ek het nie meer ’n mondfluitjie nie en Fazal hier onder in die dorp verkoop dit ook nie. Vir my het dit gelyk hy weet nie eens waarvan ek praat nie,” verduidelik Hermaans.
“Aha,” lag Dina, “nou verstaan ek! Jy wil hê ek moet jou help om een deur die internet te bestel.”
Hierdie Dina is vlug van begrip. Hy hou daarvan.
“Sal jy?” vra hy. “Ek weet niks van rekenaars nie.”
“Met die grootste graagte,” antwoord sy sonder huiwering. “Het jy ’n kredietkaart?”
Hermaans haal dadelik sy beursie uit sy broeksak. “Dis nie gevaarlik nie, is dit? Hulle vat nie dalk jou geld en jy sien nooit die goed wat jy bestel het nie?”
“Moenie jou daaroor bekommer nie. Daar is allerhande veiligheidsmaatreëls om die koper te beskerm. Kom ons gaan bestel jou mondfluitjie,” verseker Dina hom en sit haar leë koppie neer.
Hermaans volg haar na haar slaapkamer, waar haar rekenaar op ’n lessenaartjie voor die venster staan. Hy doen sy bes om sy oë weg te hou van die roomkleurige duvet op haar dubbelbed, wat welig en sag lyk.
“Dis ’n soekenjin hierdie,” sê Dina en wys na die rekenaarskerm. “Hier tik ’n mens in waarna jy soek.”
“Mondfluitjie,” doen Hermaans aan die hand.
“Engels werk beter,” laat Dina oor haar skouer hoor en tik flink “harmonica” in. “Harmonica?” frons Hermaans. “Ja, dis die Engelse woord vir mondfluitjie.”
Geen wonder Fazal het nie ’n benul gehad wat hy soek nie, besef Hermaans en voel ’n effense hitte onder sy hempskraag opstoot.
Binne minute duik die een ná die ander prentjie van mondfluitjies op die skerm op. “Daar’s hy,” wys Hermaans en besef Dina ruik soos rose toe hy nader leun. “Hohner. Lyk kompleet nes myne. Dit moet in die C- sleutel wees,” voeg hy ietwat skor by, onseker of sy stem hom oor haar geur of die mondfluitjie in die steek laat.
Betower oorhandig hy sy kredietkaart en staar gefassineer na die spoed waarteen haar pienk vingernaels oor die toetsbord beweeg. “Jy is oor drie dae die trotse eienaar van jou nuwe C-sleutel-Hohner-mondfluitjie, Hermaans,” sê sy met ’n lag toe sy die kredietkaart teruggee.
“Hoe gaan ek jou ooit genoeg kan bedank, Dina?” laat Hermaans ingenome hoor. “Ek sou nooit kon dink dis so maklik nie.”
“Dis ’n groot plesier, Hermaans. Jy kan as jy wil en sodra jy jou mondfluitjie weer bemeester het dalk een aand, of een dag, vir my ’n ietsie kom speel.”
“Dit is ’n afspraak,” onderneem Hermaans voor hy haar groet.
MET bewende hande teken Hermaans toe hy die pakkie presies drie dae later in ontvangs neem en vinnig na binne verdwyn om die verpakking met die kombuisskêr af te knip. Hy lig die begeerde mondfluitjie met sy bonkige vingers uit die boksie. Draai dit om en om voor hy sy lippe deeglik natlek en die Hohner byna eerbiedig na sy mond lig.
Hy trek sy asem in en blaas sag die een noot ná die ander. Herinnerings aan skuurdanse en kampvuuraande meld die een ná die ander aan. Is daar enige instrument, wonder hy, waarmee ’n mens emosie so gevoelvol kan oordra? Elke asemteug in daardie klein gaatjies laat musiek leef. Hoe kon hy so lank daarsonder geleef het?
Hoe wonderlik is die menslike brein nie, skud hy sy kop toe hy die liedjies eeneen onthou en dit sonder te veel van ’n gesukkel kan speel.
Hy wil nie die hele aftreeoord lok nie; daarom oefen hy ’n week lank sag. Veral een liedjie duik voortdurend in sy gedagtes op, en hy speel dit oor en oor en veel sagter as die res terwyl ’n opwindende plan in sy kop gestalte kry.
Vrydagmiddag om halfvyf ry hy na die bloemiste. Kort ná skemer waag hy dit om na Dina se woonstel te gaan. Die bos lelies sit hy voor haar deur neer. Hy tree terug tot buite haar tuinhekkie, haal diep asem en stuur die eerste akkoorde van Ek Soek na My Dina helder die lug in.
Algaande raak Hermaans so meegevoer dat hy vergeet waar hy is. Al sy bekommernis dat hy dalk ’n bespotting van homself maak, verdwyn. Halfpad deur die herhaling van die wysie hoor hy ’n deur klik en sien hy Dina die lelies optel voor sy nader stap.
“Naand, Hermaans,” groet sy soos ’n skugter tiener toe sy die tuinhekkie oopswaai en hom met ’n kopknik binnenooi. “Jy speel baie mooi.”
“Dankie,” prewel hy kortasem en sluit sy oë vir ’n oomblik om die lieflike prentjie van die vrou met blomme in haar arms deeglik in sy geheuebank te bêre.
Daardie kortstondige oomblik was ’n fout, skiet dit deur Hermaans se gedagtes toe hy voel hoe sy linkervoet mistrap, sy been in die nat blombedding meegee en hy sy balans verloor. Maar verbete soos die kinderverhaal se fluitspeler wat rotte uit Hameln probeer lok, speel hy voort terwyl hy stadig sywaarts op die grasperk neerstort.
Eers toe hou hy op met speel, rol versigtig op sy rug en besef dankbaar dit voel nie of enigiets gebreek of gekraak is of ’n rugwerwel uit sy plek geskuif het nie.
Dina hou bekommerd ’n hand uit om hom orent te help. “Is jy oukei?” “Dit voel so.” “Kom ek gaan vee die modder van jou klere af en dan drink ons ’n medisinale glasie rooiwyn.” “Dankie.” “Van jongs af al droom ek van ’n troebadoer,” sê Dina dromerig toe hulle later naby mekaar op die rusbank sit.
“En ek wou altyd een wees,” grinnik Hermaans, “maar het nooit gedink ek sou my in die proses voor ’n vrou se voete neerwerp nie.”
‘My oorlede vrou kon die klank nooit verdra nie en toe hou ek op speel’