Huisgenoot

‘DAAR WAS SOMS NET EEN MENS IN DIE GEHOOR, MAAR EK MOES AANHOU’

Ons begroet 2018 met die unieke Nataniël se pittighede, humor en skreiende eerlikheid

- – NATANIËL

DAAR is sowaar net een mens in die land wat in ’n goue jas op ’n voorblad kan verskyn. Net een mens aan wie se lippe ons altyd hang, maak nie saak waaroor hy praat nie. Hy is al drie dekades lank ’n eiesoortig­e ligstraal in ons landskap, ’n unieke en kosbare stukkie goud.

Wie dan beter om die nuwe jaar mee in te lui? Met Nataniël kan ons vol afwagting groet: Hallo, 2018 – ons is gereed vir jou!

Reeds jare lank wys dié sanger, skrywer, sjef en groot gees ons immers al dat ’n mens jou weg altyd in die wêreld kan vind as jy die lewensreis met humor, deernis en medemensli­kheid aanpak.

Wat is sy voornemens vir die nuwe jaar?

Vir Nataniël is vanjaar ’ n tyd vir “kalmte en herstel” nadat hy in 2017 30 jaar op die verhoog gevier het.

“Ná 30 jaar se spanning is daar baie skade aan my lyf en gemoed,” verduideli­k die kunstenaar met 16 albums, 77 oorspronkl­ike teaterprod­uksies en 16 boeke agter sy naam.

Hy het verlede jaar landwyd gereis met 124 optredes van sy jongste produksie, 30 Years, 90 Minutes, en sy nuwe boek, Closet, oor sy asemrowend­e klerekas, is pas uitgereik. Boonop is die derde seisoen van Edik van Nantes, sy kosprogram saam met sy broer Erik le Roux, verlede jaar op kykNET uitgesaai.

Hoe sal die immer bedrywige kunstenaar dit regkry om “kalm” te raak? Hy sê hy sal net konserte hou met stories en musiek en nie ’n enkele teaterprod­uksie aanpak nie. “Ek wil ’n hele jaar lank nie ’n openingsaa­nd beleef nie; ek doen net konserte. Ek sal hard werk. Ek het 80 konserte, maar dit sal ek teen my eie tempo en volgens my eie behoeftes aanpak.”

Om die koms van 2018 te vier, het Huisgenoot Nataniël 18 vrae gevra en met die ikoniese ster gesels oor familie, uitdagings, lewensless­e, foute en vertroosti­ng – en die pad vorentoe.

Wat was die uitdagends­te tyd in jou lewe?

Beslis my universite­itsjare en die tyd net daarna. Ek het aan die Universite­it Stellenbos­ch studeer om ’n konsertpia­nis te word en het reeds in my eerste jaar besef dit is heeltemal te spanningsv­ol en ver- velig. Maar ek moes aanhou studeer om die weermag te vermy; ek was glad nie van plan om my lewe aan sulke twak te wy nie. Ek wou verhoog toe, maar niemand het gedoen wat ek wou doen nie. Daar was niemand wat my wou aanstel of ’n kontrak wou gee nie; ek was te onkommersi­eel. Ek moes dus my loopbaan alleen aanpak. Daar was sommige aande net een mens in die gehoor, maar ek moes aanhou tot ek ’n suksesvoll­e ondernemin­g kon begin. Ek het byna gevrek van die honger.

Wat was die oomblik wat jou lewe verander en dit in ’n ander rigting gestuur het?

Dit was in 1983. Ons was ’n groep studente wat een naweek in ’n woonstel in Bloubergst­rand gekuier het. Party het gedrink; ander het gerook en kos gemaak. Ek was voor die televisie en Patti LaBelle het meteens verskyn. Ek het nog nooit sulke hare of klere gesien of iemand so hoor sing nie. Oningeligt­es sal dit eerder gil noem.

My hele bestaan het in ’ n oomblik verander, my smaak, my uitkyk, my planne, my deursettin­gsvermoë, my inspirasie, my langtermyn­doelwitte. Alles het vir my in plek geval. Patti is nou 73 en het pas haar nuwe album, Patti LaBelle Presents: Home for the Holidays with Friends, uitgereik. Sy is steeds my heldin.

Wat is die belangriks­te lesse wat jou ouers jou geleer het?

My werketiek het ek by my ouers, Eben en Marie le Roux, geleer. Ook dissipline. En om dankbaar te wees. En om niks as vanselfspr­ekend te aanvaar nie. My ma het meer energie as enige ander mens wat ek ken. Sy werk en praat soos ’n masjien, en ek is net so. Stilsit is moeilik en ons weet nie hoe om af te skakel nie.

Watter rol speel jou broers en suster in jou lewe?

Ons is vier kinders. Ons verskil wat persoonlik­heid betref en is in jare baie ver uitmekaar. Ek is die oudste, dan is daar die wiskundige broer, Ian le Roux, dan die een in Frankryk, Erik. Ek en Erik is die meeste soos mekaar; ons het dieselfde smaak, humorsin en belangstel­lings. Dan is daar my sussie, Madri, die laatlammet­jie. Sy is almal se witbroodji­e en is die kalmste van ons almal.

Ek kan my nie die lewe sonder hulle indink nie. Ons gesin is ’n baie sterk ondersteun­ingsraamwe­rk vir almal se genade en gemoedsrus. Ek dink gereeld ons is net so dysfunctio­nal soos die res

van die wêreld, maar elke keer dat ek na my vriende luister, besef ek ons het geen drama nie. Wat in ander families gebeur, klink verskrikli­k.

Wie was die mens wat die grootste impak op jou lewe gehad het?

Beslis my ouma Maria Burger. Sy het op Wellington gewoon. Almal het haar tannie Ben genoem. Sy was die hele wêreld vir my, doodgewoon en ook baie wild, waaghalsig en baie huislik, opwindend en kalmerend – sy het alle uiterstes verteenwoo­rdig. En gekook soos niemand anders op aarde nie. Sy het my aangemoedi­g in alles wat ek doen. Sy is op 79 oorlede toe ek nog op universite­it was, maar ek weet sy hou my dop.

Hoe lyk jou ideale naweekdag?

Alleen tuis. Naweke is my besigste tyd en elke (baie skaars) vrye naweekdag is ’n heiligdom. Geen geluid, geen oproepe, geen inkopies, geen musiek, niks . . . Net stilte. Ek kyk na my bome, lees boeke en skryf stories. Ek ontvang geen gaste nie en slof rond in my Japannese skoene. Dit gebeur selde, maar dis fantasties.

As jy moes of kon kies, wat sou jou laaste maaltyd wees?

’n Goeie groenteker­rie. Indiese kos is my gunsteling, maar ek maak dit nooit self nie, en wanneer iemand anders dit by die huis probeer maak, is dit nooit vir my lekker nie. Jy moet goeie kerrie in ’n goeie Indiese restaurant gaan eet.

Waar mag ’n mens eet? Is dit taboe om voor die TV te eet? Wat van in die bed?

Ek glo aan die ritueel van aan tafel eet met ’n mooi tafeldoek en lapservett­e, al is die maaltyd hoe eenvoudig. Sodra ’n mens op ander plekke begin eet, begin jy die belangrikh­eid van ’n okkasie vergeet. Jy eet te vinnig of te ongesond. Hier is bedags baie mense in my huis en ons eet saam, maar selfs wanneer ek alleen is, gaan sit ek iewers aan ’n tafel, veral die een met die uitsig oor die tuin, en eet rustig. Dis nie altyd moontlik nie, maar jou liggaam moet leer ontspan en jy moet stadig eet sonder ’n selfoon en sonder al die ander bog wat jy bly glo belangrik is.

Wat is die beste moderaad wat jy al gekry het?

Ken jou lyf. Ek sien soveel mense wat baie mooi en duur klere besit, maar aaklig lyk omdat dit nie by hul liggaamsbo­u pas nie. Jy moet eerlik wees oor wat jou sterk en swak punte is en daarvolgen­s aantrek. Veral die tieners wat ek in die winkelsent­rums sien: Genade, hulle is so dik! En trek so verkeerd aan! Kyk in die spieël!

Is jy ’n gehoorsame landsburge­r?

Omdat ek elke jaar ’n paar maande in Europa deurbring, is ek baie bewus van wetsgehoor­saamheid. As ek ooit eendag Suid-Afrika verlaat, sal dit daaroor wees. Ek gaan stap elke aand en wil dan mal word, want niemand hou stil by ’n stopstraat nie. Almal dink niemand sien hulle nie; daarom is hulle geregtig om te maak wat hulle wil. In Europa is so iets ondenkbaar. Mense verstaan hulle leef volgens ’n stelsel wat eeue gevat het om te ontwikkel en tot almal se voordeel strek. Selfs al beskou ek ’n klomp van ons landswette as totaal onnosel, oortree ek dit steeds nie; dit is tog die basiese beginsel van beskawing.

Wat laat jou lag?

My vriende. Ek het baie vriende, maar daar is ’n paar wat my kliphard laat lag en dit is my redding. Die groep in Pretoria word “Die Bende” genoem. Al is almal van ons verskrikli­k besig, probeer ons minstens een keer per maand saam eet, net om te lag.

Wat laat jou vloek?

Familiarit­eit. En die eiegeregti­gheid wat in Suid-Afrika heers. Mense dink hulle kan enigiets sê bloot omdat hulle jou naam ken. Die media dink jy moet spring elke keer dat hulle jou kontak; jy skuld hulle. Almal dink jy skuld hulle. Dit wys duidelik met hoe min respek geleef word.

Maar die grootste ellende in my lewe is selfone; dit het ons hele samelewing permanent geskaad. En wanneer iemand ’n selfoon in my show aanskakel, vat ek hom onmiddelli­k vas, al is dit in die middel van ’n liedjie. Ek gee nie om of dit iemand ontstel nie. Ek sal dit doen vir die res van my lewe – dis my oorlog.

Wat is die grootste flater wat jy al begaan het?

Om na oningeligt­e praatjies te luister. Dis skokkend hoeveel nonsens ons praat. Bangmaakst­ories, voorspelli­ngs, bygelowe, dinge wat nie nagevors of bewys is nie . . . Ek het al soveel onnodige vrese beleef, dinge geglo oor alles van bouwerk tot finansies en gesondheid, bloot omdat mense oortuig is van hul eie neuroses. Ek doen deesdae behoorlike navorsing oor álles voor ek iets glo of aanpak.

Waarnatoe of na wie toe vlug jy wanneer jy vertroosti­ng nodig het?

Na dr. Steenkamp. JO Steenkamp in Pretoria is my sielkundig­e. Hy is die slimste, helendste teenwoordi­gheid wat ek ken. Ek gaan al meer as 16 jaar na hom toe. Ek is nie mal nie, maar hy verlig my spanning, maak my kop skoon, orden my gedagtes, verdryf my vrese, lawe my hartseer en bevestig my hartstog.

Ek glo ook dat ek nie met elke trauma

na my vriende toe moet hardloop nie. Genugtig! Ek sal eensaam sterf. Ek glo aan iemand wat profession­eel opgelei is, my beter ken as ekself en my help om balans na te streef.

Dink jy Suid-Afrikaners ondersteun die kunste genoeg?

Wanneer iets goed of vermaaklik is, word dit uitstekend ondersteun. Baie swak vermaak is ook gewild, maar dit is die geval wêreldwyd.

Ek het wel ’n probleem met SuidAfrika­ners se ongewillig­heid om te betaal. Ons kaartjie- en kunspryse is baie laer as in die res van die wêreld. Om goeie vermaak of ernstige kuns te lewer is baie, baie duur en in die buiteland word dit verstaan.

Wanneer ek in ’n groot operahuis of teater na iets gaan kyk, kos ’n kaartjie enigiets van R3 000 tot R10 000. Hier kla mense oor R250, ’n belaglike klein bedraggie vir ’n sitplek in die teater. Mense het nie ’n idee wat dit kos om ’n vertoning aan te bied nie. Van reklame tot elektrisit­eit tot kostuums, repetisies, vervoer en tegnici, om enkele dinge op te noem! Ernstige teater soos opera, ballet en simfonieor­keste ly die ergste daaronder en sal eindelik doodloop in hierdie land. Dis tragies.

Jy erf oornag miljoene van ’n verlangse Franse tante. Wat nou?

Plaas in Frankryk. Môre. Koebaai.

Wat sou jy verander as jy kon?

Ouderdom. Om fisiek ouer te word is die verskrikli­kste ding op aarde, al sê wie ook wat. Daar is elke dag ’n nuwe pyn en nuwe lollery; ek kan dit nie vat wanneer iets my spoed breek nie. Ek wil beslis nie te lank leef nie; dit moet aaklig wees. Dit sou fantasties gewees het as ons net doodnormaa­l kon lewe en dan eendag verdwyn. Woeps! Gone.

Waar wil jy oud word en aftree?

Naby my familie of vriende en dinge wat my interessee­r – dis waar ek wil oud word. Ek vermoed ek sal eindelik Nantes (in Frankryk) my tweede tuiste maak. Dit voel reeds of ek tuis is wanneer die vliegtuig daar land. Aftree? Nooit. Dis soos ’n halwe dood en ek kan sien hoe vinnig kunstenaar­s agteruitga­an nadat hulle afgetree het. Ons lyf en ons hart en ons gees is nie gemaak vir ophou nie. Jy kan afskaal, maar as kreatiwite­it jou asem is, doen jy dit tot jy omkap.

‘Dit sou fantasties gewees het as ons net doodnormaa­l kon lewe en dan eendag verdwyn. Woeps! Gone’

 ??  ?? Nataniël lyk soos ’n Franse adellike op dié foto geneem in die Château de Goulaine in die stad Nantes in Frankryk.
Nataniël lyk soos ’n Franse adellike op dié foto geneem in die Château de Goulaine in die stad Nantes in Frankryk.
 ??  ?? Nataniël saam met sy jonger suster, Madri le Roux-Moriz, en broer Erik le Roux op hul ma, Marie (voor), se 80ste verjaardag verlede jaar.
Nataniël saam met sy jonger suster, Madri le Roux-Moriz, en broer Erik le Roux op hul ma, Marie (voor), se 80ste verjaardag verlede jaar.
 ??  ?? Nataniël en sy broer Erik op die stel van Edik van Nantes. Die broers laat Suid-Afrikaners se monde al drie seisoene lank water.
Nataniël en sy broer Erik op die stel van Edik van Nantes. Die broers laat Suid-Afrikaners se monde al drie seisoene lank water.
 ??  ?? Nataniël geklee in sy gunsteling­kleur, swart, en sy “uniform” – ’n baadjie.
Nataniël geklee in sy gunsteling­kleur, swart, en sy “uniform” – ’n baadjie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa