Huisgenoot

Jaar lange spaarplan werk soos ’n bom

Keer dat jy volgende jaar ná die feestyd weer noustrop trek deur soos ons joernalis met dié plan te spaar

-

HIER teen die einde van die sorgelose feestyd begin jou maag draai: Jou geldsake vir Januarie lyk beroerd . . . Maar met dié spaarplan kan jy binne ’n jaar R13 780 spaar – gewaarborg. Span dit vanjaar in om te keer dat jy weer ná die feestyd in die knyp is – of om te spaar vir jou droomvakan­sie volgende jaar dié tyd. Ons verslaggew­er Shanaaz Prince het die 52-weke-spaarplan beproef en vertel hier van haar ervaring.

WIE is nie mal oor die feestyd en die somervakan­sie nie? Son en see, vriende en familie, yskoue mengeldran­kies – ja, die lewe is ’n lied. Maar vir my is daar net een vals noot: die duik in jou beursie (en die hol kol op jou maag oor jou beroerde geldsake wat voorlê) nadat die Kersboompi­e weggepak is en Oujaarsaan­d se jolyt vervaag het.

Ons verdien almal ’n lekker uitspan ná ’n moeilike jaar, maar dit kan groot uitgawes beteken. Met ons Kersbonus in die bank raak ons alte maklik meegevoer – en skrik dan vroeg in Januarie wakker met die besef die yskas is leeg en die volgende betaaldag nog ver.

Dis ’n gevoel wat ek maar alte goed ken. Einde 2016 het ek en my vriendinne Thailand toe gegaan n met ons langverwag­te spesiale vakansie. ansie. Dis ’n bekostigba­re bestemming, maar ek het nie genoeg daarvoor gespaar aar nie. Dus moes ek in Januarie 2017 raap p en skraap.

Ek het net daar besluit om beter te beplan vir die volgende groot wegbreek. Teen Januarie 2018 wou ek nie weer in dieselfde finansiële knyp wees nie.

Toe vertel ’n vriendin: “Ek het op dié spaarplan afgekom en dink ons moet dit almal probeer.”

En dis waar my reis met die 52-wekespaarp­lan begin het – sodat ek my volgende droomvakan­sie (dié keer Amerika toe) sou kon aanpak sonder om my te veel oor ’n geldsakeba­bbelas daarna te kwel.

Hier is ek nou, aan die einde van dié reis met my spaarplan die afgelope jaar. Het dit gewerk? Ek het terugslae beleef en kon nie my aanvanklik­e mikpunt van R13 780 vir einde 2017 bereik nie, maar het nogtans baie gespaar. My geldsake lyk aansienlik beter as verlede jaar dié tyd.

O, jy kan nie bekostig om groot bedrae weg te sit nie? Wel, ek ook nie, maar daar is hoop!

SO SOSPAAR’NMENSBINNE SPAAR ’N MENS BINNE ’N JAAR R13 780

Hoe spaar ’n mens binne die 52 weke sowat R13 780? Deur die sneeubalef­fek in te span. Jy begin klein, maar vermeerder die bedrag elke week met R10.

In die eerste week het ek R10 gespaar, in die tweede week was dit R20, in die derde week R30, en so aan.

Om dit maklik te maak om te onthou hoeveel geld jy wanneer moet wegsit, kyk net na die kalender. Is jy in die vyfde week van die jaar? Maal dan vyf met R10 en sit R50 weg.

As jy elke week getrou gespaar het, sal jy in die 52ste week – die laaste week van die jaar – R520 wegsit. Dit klink dalk baie, maar onthou, heelparty van ons kry in Desember ’n bonus.

Om sake ’n bietjie makliker te maak, het ek nie die spaarbedra­e weekliks inbetaal nie, maar maandeliks. Ek het dus een maal per maand vier weke se spaar-

geld in my bankrekeni­ng inbetaal.

En het nog iets belangriks gedoen: Ek het die spaarbedra­e van my rekening waar my salaris inbetaal word en wat ek vir alledaagse uitgawes gebruik, oorgeplaas na ’n 32-dae-spaarreken­ing. Dit beteken ek sou 32 dae kennis moes gee om enige van my spaarplang­eld te onttrek. Dis ’n wonderlike manier om die versoeking te weerstaan om impulsief klere te koop of ander uitgawes met daardie geld aan te gaan.

En daar is hy: klein begin, groot gewin! Die wonderlike ding is natuurlik dat jy die 52-dae-spaarplan kan aanpas om jou omstandigh­ede en sak te pas.

As jy byvoorbeel­d kan bekostig om die weeklikse bedrag te vergroot, dan doen jy dit en pluk ná die 52ste week die vrugte daarvan.

SLAGGATE OP MY SPAARPAD

Uitgawes en spaar is ’n baie persoonlik­e ding en dit wissel van mens tot mens. My grootse maandeliks­e uitgawes is my verband- en motorpaaie­ment, kruidenier­sware, water en elektrisit­eit.

Maar die lewe is onvoorspel­baar, en onvoorsien­e gebeure kan jou geldelik pootjie. In Mei 2017 het iemand by my kar ingebreek. Weens die skade moes ek die spaargeld inboet wat ek vir die 17de tot die 20ste week sou inbetaal (altesaam R740).

In Junie moes ek betaal vir vlugte na die Oos-Kaap, en daarvoor moes ek die spaargeld bestem vir die 21ste tot 24ste week (R900) gebruik.

Gelukkig kan ek vanjaar vergoed vir die spaargeld wat ek weens onvoorsien­e omstandigh­ede nie kon bybring nie – ek hou 2017 se spaargeld en spaar weer in 2018 sodat ek dit hopelik alles kan aanwend om met my droomvakan­sie Amerika toe te gaan.

Ek beplan om vanjaar my motor af te betaal, en omdat die las van motorpaaie­mente sal wegval, sal ek meer besteebare kontant hê om my weeklikse bydraes te verhoog.

WAT EK ANDERS SOU DOEN

Nadat ek Mei en Junie se spaarbydra­es moes oorslaan, moes ek eenvoudig in Julie soos gewoonlik met die weeklikse spaarroost­er aangegaan het – asof ek nie die vorige twee maande misgeloop het nie.

Maar pleks daarvan het ek in Julie eers Mei se betalings ingehaal. En in Augustus Junie s’n.

Dit was ’n fout en het my ’n volle twee maande teruggesit, en mettertyd het dit veroorsaak dat ek op die ou end minder gespaar het as wat ek kon.

Teen 52 weke het ek die groot betalings in die laaste twee maande misgeloop, want ek het vergoed vir die vroeëre maande wat ek oorgeslaan het. Maar om vir die verlies te vergoed, sal ek in die eerste vyf maande vanjaar my inbetaling­s verdubbel en so die eindelike opbrengs vergroot.

SO LYK MY SPAARVORDE­RING

Ek het altesaam R9 900 in die 52 weke weggesit. Ek het in die laaste twee maande van 2017 R3 880 in spaaropbre­ngs verbeur omdat ek eers die betalings ingehaal het wat ek in Mei en Junie oorgeslaan het.

As ek eerder in Julie met die oorspronkl­ike betaalsked­ule aangegaan het – pleks van “agtertoe betaal” – sou ek net R1 640 minder gespaar het.

Al kon ek dit nie regkry om die volle R13 780 te spaar nie, is ek heel trots op my vordering. Ek is heelwat nader aan my vakansie in Amerika en vol moed om vanjaar weer ’n stewige som daarvoor te spaar.

SAL EK DIT WEER DOEN?

Beslis! Ek slaap natuurlik meer gerus omdat ek al heelwat geld vir my beplande reis gespaar het en daarom makliker planne kan maak om die oorblywend­e geld bymekaar te kry.

Noudat ek die 52-wekespaarp­lan beproef het, sal ek dit beslis aanbeveel. En ek gaan dit jaar ná jaar weer doen.

Benewens die geldelike vrugte daarvan was dit vir my ’n nostalgies­e ervaring.

Toe ek jonger was, het ek geld op my verjaardag of vir huistakies gekry. Ek het dit toe al gespaar vir iets onvoorsien­s of iets wat ek graag wou hê, maar nie dadelik kon bekostig nie.

Die 52-weke-plan werk op dieselfde grondslag.

En net soos destyds put ek vreugde daaruit dat ek suksesvol ’n bedrag geld kon spaar. Dit maak grootmens-wees ’n bietjie makliker.

Ek is heelwat nader aan my vakansie in Amerika

 ??  ?? Ons verslaggew­er Shanaaz Prince glimlag breed nadat sy die 52-weke-spaarplan beproef het.
Ons verslaggew­er Shanaaz Prince glimlag breed nadat sy die 52-weke-spaarplan beproef het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa