Rare paar sit dobbelwêreld ore aan
’n Ontnugterde Chinese erfgenaam en ’n Amerikaanse pokerspeler het saamgespan en in casino’s wêreldwyd iets vreemds vermag: Hulle het gewen en gewen en . . . Maar hoe het hulle dit reggekry?
OP ’ N lekker sonnige Maandagmiddag stap ’n Amerikaanse man en Chinese vrou een van Londen se oudste en eksklusiefste casino’s binne. By Crockfords in Mayfair word hulle hartlik verwelkom. Die man is Phil Ivey, een van die suksesvolste beroepspokerspelers. Hy is ’n wêreldkampioen met ’n persoonlike fortuin van sowat R1,3 biljoen. Die vrou is . . . wel, niemand weet eintlik wie sy is nie. En niemand gee eintlik om nie. Die belangrikste is Phil Ivey het pas ingestap. En Phil, soos almal weet, geniet dit om baie geld op die spel te plaas.
Crockfords is baie weelderig: Daar is kristal kandelare, dik matte, Regentskapsportrette in oordadige vergulde rame, skemerkelkiekroeë en ’n restaurant wat enigiets sal voorsit wat ’n gas wil hê. Maar dit is nie waarom Phil hier is nie. Gemaklik in slenterdrag geklee, is hy om ’n eenvoudige rede by Crockfords: om met groot bedrae te dobbel.
Die wêreld van eksklusiewe luukse casino’s het ’n beskrywing vir spelers soos Phil. “Jy het mense wat ons as ‘high rollers’ sal kategoriseer,” verduidelik Tony Pearce, ’n senior bestuurder by Crockfords wat met Phil se besoek daardie middag in Augustus 2012 aan diens was. “Hulle is die mense wat bereid is om met tussen R4,5 miljoen en R18 miljoen per besoek te dobbel.”
Maar Phil is meer as bloot ’n gerekende dobbelaar; hy is iets veel groters en baie meer seldsaam. Phil is wat as ’n “walvis” bekendstaan.
“Walvisse is baie, baie groot spelers. Hulle kan met elke besoek 1, 2, 3, 4, 5 miljoen pond uitdobbel,” verduidelik Tony oor ’n koppie tee. “Daar is waarskynlik net 1 500 van hulle ter wêreld.”
Tony vertel Phil het met sy aankoms by Crockfords gevra om in ’n privaat vertrek baccarat te speel. Vir eers is al wat jy van baccarat moet weet dat dit ’n loutere gelukspel is. Geen vaardigheid word vereis nie. Jy het so na aan ’n 50/50wenkans as wat jy in ’n casino kan kry. “Dis eintlik maar soos om ’n muntstuk op te skiet,” sê Tony.
Phil het gevra om ’n weergawe van baccarat te speel waar net die uitgeër aan die kaarte raak. Met sy metgesel aan sy sy het hy gemengde resultate behaal. Party hande het hy gewen; sommige verloor.
Maar teen kwart oor 10 die aand dh het iets vreemds gebeur: Hy het begin wen. En wen. En wen. Skielik kon hy nie ophou wen nie. In die volgende vyf en ’n half uur het Phil meer as R13 miljoen gewen. Die volgende dag het hy teruggekeer en tydens ’n drie uur lange spel nog R78 miljoen losgeslaan. “Hy was heeltyd in die kol,” sê Tony met ’n frons.
In hierdie stadium het Crockfords twee dinge nie geweet nie: Die eerste is dat Phil in die vorige paar maande by ’n rits casino’s wêreldwyd, van Monte Carlo tot Macau, dieselfde reggekry en meer as
R260 miljoenl gewen het.
Die ander ding is dat dit nie Phil was wat gewen het nie. Hy het wel die weddenskappe geplaas, maar volgens die presiese aanwysings van die onbekende vrou langs hom. In Oktober verlede jaar het die Britse hooggeregshof beslis Phil het ’n “geheime operasie versigtig beplan” en by Crockfords uitgevoer, maar sy metgesel was die meesterbrein daaragter. “Sy was die brein,” beaam Tony.
HAAR naam is Cheung Yin Sun, al noem sy haarself in die Weste Kelly. Sy is mal oor skoene, motors en partytjies. Die donkerkop is bekend daarvoor dat sy met leë Louis Vuitton-reistasse by casino’s opdaag en hulle propvol kontant daar wegdra. “Wanneer ek na ’n casino gaan, kan hulle nie agterkom ek is ’n beroepsdobbelaar nie,” het sy onlangs in ’n seldsame onderhoud met die Amerikaanse sportnetwerk ESPN gesê. “Hulle het almal gedink ek is net die een of ander Chinese meisie en dat ek geensins hul casino bankrot kan maak nie.” Maar hier is die kinkel: Cheung was nie agter die geld aan nie, of ten minste nie aan die begin nie. Sy het hope geld. Sy het heeltyd iets anders gesoek: wraak. Vandag woon Cheung in ’n luukse, beveiligde woonkompleks in Las Vegas. Haar instapklerekaste is tjokvol ontwerperskoene en -handsakke. Sy is 40 jaar oud, fyn gebou en die eienaar van twee karamelkleurige poedels. Haar familie kom oorspronklik van Noord-China, waar hulle hul fortuin in die bank- wese gemaak het. Sy het van jongs af in dobbel belanggestel. “Ek het van 14 af geweet hoe om te dobbel,” het sy aan ESPN gesê. “Wanneer ek mense in die openbaar sien kaart speel het, het ek stilgestaan en hulle dopgehou.”
Dit klink dalk of Cheung ’n slag met dobbel gehad het, maar sy het nie. Haar familie het haar geldelik gesteun en sy het gereeld groot bedrae verloor. Michael Kaplan, ’n ervare blackjackspeler wat baie geld op die spel geplaas en tyd saam met Cheung deurgebring het, sê sy was eers ’n geesdriftige maar onsuksesvolle dobbelaar. ’n Stommerik.
“Sy het gedurig geld verloor,” vertel hy. “Sy het meer as R70 miljoen van haar familie se geld in casino’s verloor. Sy was ’n groot verloorder en die casino’s was dol oor haar. Hulle het haar in pragtige villas gehuisves, vir haar bottels sjampanje gebring, komplementêre etes gegee . . . Sy het die goeie behandeling geniet. Omdat sy met baie geld gedobbel het, het hulle haar op die hande gedra.”
In 2007 het sy tuisgegaan in die MGM Grand Las Vegas Hotel & Casino, waarnatoe haar pa vir haar R3,5 miljoen se dobbelgeld oorgeplaas het. Sy was daar saam met vriende uit China.
In ’n stadium het een se geld opgeraak en het dié Cheung ’n lening gevra. Toe teken sy ’n skuldbewys van R700 000 by die casino en gee haar vriend dit op voorwaarde dat dié dit aan MGM terugbetaal. “Die vriend het gesê: ‘Natuurlik sal ek betaal. Moenie bekommerd wees nie!’ ” vertel Michael. “Daarom het sy haar nie daaroor bekommer nie.”
Ses maande later het sy na Amerika teruggekeer nadat sy ’n ruk lank in Parys was. Toe sy in Philadelphia land, het ses polisiebeamptes haar in hegtenis geneem, haar geboei en vir haar gesê sy skuld MGM R700 000. “Hulle het haar na Vegas gevlieg en na die gevangenis in die Clark-distrik geneem,” sê Michael. “Jy wil nie daar wees nie. Dis ’n somber stadstronk. As jy ’n prostituut of dwelmhandelaar in Vegas is, gaan jy daarheen. Sy was daar oor slegte skuld.”
Cheung het geweier om die onderklere te dra wat die tronk verskaf, want sy het gedink dis “vuil” en is toe alleen opgesluit. ’n Vriend het haar besoek en haar ’n pak kaarte gegee om die tyd mee te verdryf. Cheung het 21 dae in die tronk deurgebring en wraakplanne gesmee. “Sy het ’n wrok teen MGM gehad. Sy het gedink: ‘Hulle het my vir amper ’n maand
in die tronk gestop? Oor R700 000?’ ” sê Michael. “Sy het iets beetgehad.”
Cheung het aan ’n vriend gesê sy gaan wraak neem. Dié wou weet hoe sy dit gaan regkry. “Hou my dop,” was haar antwoord.
Hier raak dit ’n bietjie tegnies. Cheung het van ’n tegniek gehoor wat party blackjackberoepspelers gebruik. Dit word randsortering genoem. Dié metode berus daarop dat daar dikwels ’n ingewikkelde patroon agterop speelkaarte is. Wanneer hierdie kaarte in fabrieke vervaardig word, word dit deur masjiene gesny, maar hierdie masjiene sny dit nie altyd volkome eweredig nie.
Dit beteken as jy versigtig na die patroon langs die twee lang rande aan die agterkant van ’n speelkaart kyk, kan jy dalk ’n geringe asimmetrie opmerk.
As die kaart byvoorbeeld met klein diamante bedek is, kan dié aan een rand van die kaart dalk in die helfte gesny wees, terwyl dié aan die ander kant moontlik heel is.
Sou dobbelaars danksy ’n truuk kan sorg dat sekere waardevolle kaarte almal met hul rande in ’n ander rigting gerangskik is as die minder waardevolle kaarte, gee dit hulle ’n reusevoorsprong. Selfs wanneer ’n kaart na onder wys, kan hulle na die patroon aan die rand kyk en ’n goeie aanduiding kry van wat dit is.
Dobbelaars wat randsortering gebruik, beskou dit as ’n vorm van “voordeelspel” pleks van ’n verneukspul. Om dit reg te kry, vereis ongelooflike selfvertroue, konsentrasie, skerp oë en duisende ure se oefening, want kaarte van die onderskeie handelsmerke het almal verskillende patrone agterop.
Cheung het eindelik die kuns van randsortering bemeester, maar was nie die eerste dobbelaar wat dit reggekry het nie. Tog, daarna sou sy iets werklik unieks doen: Sy het hierdie tegniek op baccarat toegepas.
“Dit was briljant,” vertel Michael opgewonde. “Niemand het nog ooit daaraan gedink nie.”
Met baccarat word vier kaarte met hul gesig na onder op ’n tafel uitgepak: twee vir die uitgeër en twee vir die speler. Jy moet dan wed op watter paar kaarte die naaste aan ’n totaal van nege sal wees. Ase tel een, tiene en prentkaarte tel nul; al die ander is sigwaarde. As die totaal ’n dubbelsyfer is, geld slegs die tweede getal – ’n 13 is dus ’n 3; ’n 18 is ’n 8. Nege is daarom die hoogste telling wat jy kan kry. Dit hang van blote geluk af. Soos om ’n muntstuk op te skiet.
IN 2011 het Cheung casino’s van die MGM-groep begin teiken, en ook ’n paar ander. Sy het ’n span Chinese spelers gelei wat sou opdaag, vra om baccarat te speel, groot bedrae sou verwed en ewe spandabel sou verloor. Hulle het gelag en geskerts en gesê dalk sal hulle môre gelukkiger wees. Die casino’s het hul lippe afgelek.
Wanneer Cheung en haar vriende dan die volgende dag na die tafel terugkeer, vra hulle om baccarat in die “Macau-styl” te speel – waar net die uitgeër aan die kaarte raak. Die casino’s het met graagte aan die versoek voldoen.
Daarna het Cheung nog ’n versoek gehad. Sy het die uitgeër ná elke spel gevra om die “gelukkige” kaarte, die waardevolle sesse, sewes, agts en neges, 180 grade te draai voor dit in die pak teruggeplaas word. Dit is net ’n Chinese bygeloof, het sy ewe verduidelik, en die casino’s het haar geglo.
Eintlik het sy hulle randsortering vir haar laat doen. Wanneer die gesorteerde kaarte weer uitgedeel is, was sy in beheer en die wengeld het ingestroom.
In die Palms- casino het Cheung R1,4 miljoen gemaak. En ’n koel R2,1 miljoen in die MGM Grand.
In die Aria het sy meer as R7 miljoen gewen. Casino-werknemers in beheer van die dobbeltafels het daar begin ronddrentel om te kyk wat gebeur.
“Sy het dit geniet om die bordjies te verhang nadat die casino’s soveel geld van haar gevat het,” vertel Michael.
’n Vriend wat van haar eskapades geweet het, het haar in 2012 aan Phil voorgestel. Die pokermiljoenêr wou saamspeel. Om met ’n walvis saam te werk het dit vir haar moontlik gemaak om nog meer geld te wen, want casino’s het hom makliker toegelaat om hoër weddenskappe te plaas.
Binne enkele maande het sy en Phil R140 miljoen gemaak deur baccarat te speel en te vra dat die kaarte volgens ’n Chinese “bygeloof ” omgedraai word.
En dit was nie hul enigste versoek nie. In Crockfords moes Cheung en Phil byvoorbeeld sorg dat daar aan ’n uiters spesifieke stel vereistes voldoen word sodat hulle ’n kans sou hê om baie geld te wen. Dis een ding om ’n kroepier te vra om sekere kaarte vir jou om te draai, maar toe vra hulle om die hele aand met dieselfde pak kaarte te speel, pleks daarvan dat die pakke sporadies “gewas” word (nuwe kaarte word gebruik), soos die standaardpraktyk is.
Hulle het gevra dat die kaarte waarmee hulle speel met ’n masjien pleks van die hand geskommel word, want dit sou verseker dat die randgesorteerde kaarte
steeds in dieselfde rigting wys. Hulle het ook ’n Mandarynssprekende kroepier versoek sodat Cheung makliker met hulle kon kommunikeer.
As jy dit met die voordeel van nakennis lees, wil jy skree: “Komaan, dis voor die hand liggend! Hulle voer iets in die mou!”
Maar jy moet verstaan: In daardie bedryf is dit glad nie so voor die hand liggend soos jy dink nie. Walvisse soos Phil is gewoond daaraan om te vra – en te kry – wat hulle wil hê.
Samantha Rea, ’n skrywer wat in ’n aantal Mayfair-casino’s – Crockfords inkluis – as kroepier gewerk het, sê hierdie versoeke kom taamlik algemeen voor. “Dit is byvoorbeeld glad nie vreemd om te vra om met dieselfde pak kaarte te speel nie. Kliënte is so bygelowig dat dit ’n baie algemene versoek is.”
Dit was eers tydens Phil en Cheung se ongelooflike gelukskoot toe hulle sowat R78 miljoen binne drie uur wen dat Crockfords ernstig begin ondersoek instel het na hoe hy speel.
Tony onthou hoe hy die spel op ’ n skerm in die sentrale beheerkamer bekyk en besef het die kaarte word hergebruik pleks van verander.
“Ons het die vloerbestuurder gebel en hy het gesê: ‘O, ja, hy speel met dieselfde kaarte.’ Dit was al. Ons het die kaarte verander en toe hou hy op met speel.”
Phil en Cheung is kort daarna weg by Crockfords. Maar voor die casino die twee se wengeld oorbetaal het, wou hulle alles hersien. Iets het nie reg gevoel nie, maar hulle kon nie ’n vinger daarop lê nie. Phil en Cheung het immers op eie versoek nooit aan die kaarte geraak nie.
Ná ’n paar dae van kopkrap en bespiegel oor moontlike versteekte kameras of dat hul kop in een mus was met die kroepier, is die ondersoek laat vaar.
Toe vra Jonathan Duff van Genting Casinos, die groep wat Crockfords besit, of hy kan kyk wat aangaan. Dis sy taak om te sorg dat al die kaartspeletjies veilig is. “Heel eerste het ek aan die kaarte gevat. Ek het hulle na een van die kamers bo geneem en gaan sit. Ek het nie geweet wat ek soek nie. Ek het net gedink dis waar ek sou begin.”
Hy het party kaarte met hul gesig na onder op ’n skoon vel papier uitgepak en daarna gestaar. En byna onmiddellik het hy gesien wat Cheung gesien het. “Hulle is effens asimmetries gesny. Bitter min, maar ek kon dit sien.”
Dit was, het Jonathan besef, dieselfde metode wat sy oupa as deel van ’n kaart- truuk gebruik het toe hy ’n kind was. “Ek was seker vier of vyf jaar oud. Hy het ’n pak kaarte met ’n wit rand gehad, en aan een kant was die rand effens dikker as aan die ander kant,” vertel hy.
“Hy het my weke lank met hierdie truuk gemartel, want wat hy natuurlik gedoen het, was om al die dik rande in een ry te rangskik en dan te sê: ‘ Vat die kaart.’ Dan draai hy die pak in sy hand om. Jy sit jou kaart terug, hy kyk dit vinnig deur en die een met die rand aan die verkeerde kant is die kaart,” onthou hy.
“Toe ek met hierdie kaarte gaan sit, was die eerste gedagte wat by my opgekom het: ‘Goeie hemel, dis my oupa se ou kaarttruuk.’ ”
Jonathan sê Cheung en Phil het “oor ’n paar ure sosiale ingenieurswese” gebruik om te sorg dat aan al hul versoeke voldoen word sodat hulle hul randsortering kon doen.
“Dit was innoverend. Dit was dapper. Dit was ongelooflik slim, en die konsentrasie wat daarvoor vereis word, is indrukwekkend,” sê Jonathan. “Maar ek sou geen oomblik dink dit is enigiets anders as ’n gekul nie.”
Crockfords het geweier om uit te betaal. Phil het hulle hof toe gesleep en volgehou hy het nie gekul nie; hy het bloot ’n “voordeelspel” gespeel en alles tot sy beskikking as speler gebruik om te wen. Talle mense deel sy siening.
“Ek beskou dit nie juis as kullery nie,” sê Samantha. “Ek beskou dit as ’n fout in die stelsel en Cheung het die situasie ten beste benut. Ek dink nie sy het enigiets verkeerds gedoen nie. Niks het geskort met die versoeke wat sy gemaak het nie, en die casino was glad nie verplig om daaraan te voldoen nie. Ek dink sy is ’n slim meisie. Ek is verstom. Mag dit met haar goed gaan!”
Michael stem saam. “Hulle het niks onwettigs gedoen nie. As hulle gekul het, sou hulle nou in die tronk gewees het.”
Maar die hooggeregshof het laat verlede jaar beslis Crockfords hoef hulle nie ’n sent te betaal nie. Net omdat Phil en Cheung nie glo hulle was oneerlik nie, beteken dit nie hulle het nie gekul nie, het die hof beslis.
Vandag bly Cheung grotendeels ’n raaiselagtige figuur. Selfs terwyl sy die verhoor bygewoon het, het die paparazzi Phil afgeneem, maar hulle het ietwat onseker gelyk oor wie sy is. Sy is party casino’s verbied, maar nie almal nie. Veral in Asië wen sy nog baie geld. Die betreklike anonimiteit pas haar, maar vir die casino’s moet dit skrikwekkend wees.
‘Dis dapper en slim en die konsentrasie wat nodig is, is indrukwekkend’