WAT NOU VIR DIE EKONOMIE?
“Ekonomiese groei is prioriteit nommer een. Dit sluit in werkskepping,” sê dr. Jakkie Cilliers, ontleder van die Instituut vir Sekerheidstudies in Pretoria. “In 2018 sal Suid-Afrika beter vaar. Vir seker sal Suid-Afrika onder Cyril Ramaphosa ook op lang termyn beter vaar.”
Hy sê Ramaphosa en die topses sal hard moet werk om nog ’n kredietafgradering deur Moody’s te vermy. “Na my mening is dit net moontlik deur pres. Jacob Zuma te herroep en deur veranderings in die kabinet, spesifiek die aanstel van ’n bekwame minister van finansies in die plek van Malusi Gigaba – iemand soos Pravin Gordhan,” sê hy.
Hy meen Zuma kan in die tweede of derde kwartaal van 2018 herroep word. “Ramaphosa weet baie goed wat gedoen moet word as ’n mens byvoorbeeld na sy New Deal-plan kyk. Dit sluit belangrike basiese punte in, soos stabiliteit, groter permanensie in senior staatsamptenaarsposte, ’n kleiner kabinet en die vermindering van rompslomp vir die sakewêreld.”
Die ekonoom Mike Schussler sê Ramaphosa is die beste keuse vir die ekonomie, maar weens die verdeeldheid in die topses is dit te vroeg vir vreugdevure. “Dit beteken daar gaan heelwat besluiteloosheid wees, maar ons kan die beste hoop.”
Mike voorspel effens beter ekonomiese groei in 2018. “Ek dink jy kan ’n groeikoers van sowat 1,5% verwag, maar ons bevolking groei teen sowat 1,7%, so ons gaan nie ryker word nie.”
André sê: “Geweldige omstredenheid heers nou rondom beleid. ’n Mens kan bloot vra hoe ‘radikale ekonomiese transformasie’ (’n ANCgonsterm) die status en toepassing van die nasionale ontwikkelingsplan raak.” (Ramaphosa het ’n groot hand gehad in laasgenoemde, maar die Zuma-regime het daarmee gesloer.)
Ons behoort in Februarie by die staatsrede meer te hoor oor die ANC se voornemens oor grondonteiening sonder vergoeding, die nasionalisering van die Reserwebank en die beplande verskaffing van gratis tersiêre onderrig vir minderbevoorregte studente, voorspel kenners.
Suid-Afrika staan voor reusagtige ekonomiese en finansiële uitdagings, benadruk André. “Die grootste een is waarskynlik stygende staatskuld. ’n Omgewing moet geskep word waarin die ekonomie behoorlik kan funksioneer. Daar moet streng dissipline wees oor staatsfinansies. En die drie groot vraagstukke van armoede, werkloosheid en ongelykheid moet aandag kry.”