Huisgenoot

Boksburg-vrou se ”bedrog”: haar Ferrari, juwele – en oorlede eerste man

Kennisse vertel van die deftige vrou wat na bewering R460 m. gesteel en in haar oorlede man se rekening inbetaal het

- Deur JANA VAN DER MERWE en MARLISE SCHEEPERS

SOOS Aspoestert­jie op haar troudag het die donkerkops­koonheid haar bruidegom by ’n romantiese vyfsterboe­tiekhotel aan die voet van die Magaliesbe­rg tegemoetge­stap in ’n asemrowend­e rok waarop duisende Swarovski-kristalle skitter. Die kristalle is een-een met die hand aangewerk op die sysagte materiaal wat die modeontwer­per Diaan Daniels spesiaal vir sy beste vriendin, Hildegard Steenkamp (43), op eie onkoste vir die unieke skepping in Indië gaan haal het. Shaun Murphy, Diaan se man, het op sy beurt die swierige huwelikson­thaal beplan.

Maar net ’n maand ná Hildegard, ’n sakevrou, se sprokiestr­oue met die privaat ondersoeke­r Deon Pieterse het haar geluk aan skerwe gespat toe die Valke op 13 Desember op haar huis in die spogbuurt Cinderella in Boksburg toeslaan.

Twee dae later is sy in die hof vir gespesiali­seerde handelsmis­daad in Johannesbu­rg daarvan aangekla dat sy oor ’n tydperk van 13 jaar meer as R460 miljoen gesteel het van Medtronic, ’n internasio­nale vervaardig­er en verskaffer van mediese toerusting, waar sy as rekeningku­ndige gewerk het. Dié geld het sy na bewering in haar oorlede man, Thys Steenkamp (43), se rekening inbetaal.

Medtronic Africa se kantoor in Midrand was teen druktyd reeds vir die feestyd gesluit en kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Die Valke se woordvoerd­er, kapt. Carol Mulamu, het aan Huisgenoot bevestig al Hildegard se bankrekeni­ngs en bates is bevries en ’n ondersoek na nog bates duur voort. Die Valke het reeds beslag gelê op 11 luukse voertuie, waaronder ’n Ferrari, ’n Porsche, twee Range Rovers, vier sportnutsv­oertuie, motorfiets­e en dubbelkaju­itbakkies. Sowat R12 miljoen se juweliersw­are en horlosies, elektriese toebehore en sewe eiendomme is onder kuratorska­p geplaas.

Hildegard is op borgtog van R250 000 vrygelaat nadat die verdedigin­g aangevoer het sy het ’n geskiedeni­s van selfdoodpo­gings. Sy sal weer op 28 Februarie op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwasser­y in die hof verskyn.

Diaan verkies om te swyg oor die vriendin wat hy as ’n “dinamiese sakevrou” beskryf. “Dit is ’n baie teer saak,” verduideli­k hy. Hy en Shaun het nog verlede April saam met Hildegard, Deon en haar twee kinders, Johan (21) en ’n 16-jarige seun, by ’n oord in Doebai saam met dolfyne baljaar.

Maar hoe is so diep in Medtronic se sakke gedelf, en waar is die geld heen?

WYLE Thys se ouer suster, Marié Ricci (52), vertel sy het die skoknuus oor haar gewese skoonsuste­r gehoor toe ’n vriendin haar bel en sê sy moet die televisie aanskakel. “Ek kon nie glo wat ek sien nie.”

Hildegard het toevallig op die eerste herdenking van Thys se sterfdag in die hof verskyn. “Dit was ’n hengse jaar,” sê Marié. “Ek huil elke dag. My gesin ly daaronder. Ek lê heelnag wakker. Maar as ek enigiemand vandag gaan beskerm, is dit my broer (se nagedagten­is) en ons (bejaarde) ouers. Hulle verdien dit nie,” is al wat sy wou sê.

Die immer elegante Hildegard is ook ’n kliënt van die modeontwer­per Simon Rademan. Toe sy en Thys op hul 19de huwelikshe­rdenking in 2011 ’n hertroue hou, het hy die trourok gemaak. “Min kliënte van my het vriende geword,’’ sê Simon oor sy vriendskap met Hildegard. Hy het al “heelwat rokke” vir haar en van haar vriendinne gemaak. “Ek was ook op Thys se begrafnis. Ja, dis maar ’n tragiese storie.”

Deur die jare het Hildegard en Thys verskeie ondernemin­gs opgebou, waaronder ’n skoonheids­alon en sekerheids­maatskappy met kantore langs hul huis in Cinderella. Al het hulle ’n rykmanslew­e gelei, het hulle nie “soos konings” geleef nie, sê ’n bron wat verkies om

anoniem te bl bly. Hul lh huis is ook k nie d die mooiste een in die buurt nie.

Hildegard het wel duur smaak. Sy het ’n voorliefde vir Louis Vuitton-handsakke en veral Jenna Clifford-juweliersw­are, vertel ’n ander bron. “Dis vir Hildegard belangrik om altyd op haar beste te lyk. Ons was almal onder die indruk hul sakeondern­emings maak geld.”

In die sosiale media pryk sy en die res van haar gesin gereeld met sportmotor­s en spog met vakansiefo­to’s wat in eksotiese bestemming­s soos Frankryk en Mauritius geneem is. Sy het dit geniet om van haar vriende te bederf, het Huisgenoot betroubaar verneem. Eenkeer het sy ’n bus gereël en vir almal kaartjies vir ’n Justin Bieber-konsert gekoop. ’n Ander keer is almal na ’ n optrede van Lady Gaga. ’n Paar jaar gelede het Snotkop by een van haar seuns se verjaardag­partytjie opgetree. Maar die kaartehuis het in duie gestort toe Thys in Julie 2016 sy lewe probeer neem deur hom onder die ken te skiet. Hy het ernstige beserings aan sy gesig opgedoen en was drie maande in die hospitaal. Hy het eindelik wonderbaar­lik net spraak- en slukproble­me oorgehou.

Oor wat hom tot ’n selfdoodpo­ging gedryf het, kan dié wat die naaste aan hom was net bespiegel. Marié beskryf haar broer “as ’n fantasties­e en ruimhartig­e mens wat enigiets vir sy medemens sou doen”. Maar volgens ’n bron was Thys en Hildegard se huwelik met tye stormagtig. “Thys was nie ’n engeltjie nie.”

Ses maande ná sy selfdoodpo­ging het hy in raaiselagt­ige omstandigh­ede gesterf. Marié weet steeds nie presies wat gebeur het nie. “Ek kan nie glo die Here sou hom vir ons spaar net om hom weer so van ons weg te vat nie,” sê sy.

’n Bron vertel hulle is almal ingelig Thys het aan ’n stuk vleis verstik toe die gesin by Lost City by Sun City was. “Hy was alleen in die hotel kamer toe dit gebeur.” Verskeie ander bronne het dit bevestig. Op Thys se doodsertif­ikaat staan hy is aan natuurlike oorsake dood.

Ná haar man se dood het Hildegard volgens Carol twee keer ’n oordosis pille geneem. Vriende vertel dit het voor sy dood gebeur nadat sy van Thys se affairs uitgevind het. Minder as ’n maand nadat sy ’n weduwee geword het, het Hildegard en Deon reeds op Facebook aangedui hulle is “in ’n verhouding”.

Toe Huisgenoot hulle om kommentaar nader, het Deon gesê sy vrou is nie in die regte “mindset” om te praat nie. “Ons is die laaste tyd deur baie trauma.”

Huisgenoot het betroubaar verneem Hildegard is “huilerig” en kruip agter hoë mure weg, vermoedeli­k dié van haar huis in Cinderella.

Met Huisgenoot se besoek aan die huis het dit verlate gelyk, maar ’n balkondeur op die tweede verdieping was oop. Al die gordyne was dig toegetrek. By haar skoonheids­alon was die veiligheid­shekke gesluit en daar was geen teken van lewe nie.

’n Buurman wat naamloos wil bly, vertel die gesin het benewens voertuie soos Range Rovers ook drie luukse agtsilinde­rmotors gehad. “Wanneer Hildegard soggens een van daardie karre aangeskake­l het, het jy hoendervle­is gekry wanneer jy daardie dreuning hoor. Nou is dit soggens stil.”

Dan onthou hy hoe lekker dit vir hom was om saam met Thys in sy Porsche te gaan ry. “Dit wys jou nou net,’’ sê hy. “Jy dink jy ken jou bure.”

Sy is mal oor Louis Vuitton-handsakke en Jenna Clifford-juwele

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Hildegard Steenkamp is op 11 November in ’n pragrok met Deon Pieterse getroud.
HOOFFOTO: Hildegard Steenkamp is op 11 November in ’n pragrok met Deon Pieterse getroud.
 ??  ?? BO: In April verlede jaar het Shaun Murphy (links) en sy man, die ontwerper Diaan Daniels (regs), saam met Hildegard en Deon in Doebai baljaar. LINKS BO: Hulle het daar saam met dolfyne geswem. LINKS en LINKS ONDER: Deon op foto’s by duur speelgoed wat hulle in die sosiale media gedeel het.
BO: In April verlede jaar het Shaun Murphy (links) en sy man, die ontwerper Diaan Daniels (regs), saam met Hildegard en Deon in Doebai baljaar. LINKS BO: Hulle het daar saam met dolfyne geswem. LINKS en LINKS ONDER: Deon op foto’s by duur speelgoed wat hulle in die sosiale media gedeel het.
 ??  ??
 ??  ?? Hildegard en Thys Steenkamp, haar oorlede man.
Hildegard en Thys Steenkamp, haar oorlede man.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa