Hennie en Jacobu se lewe vol vreugde
Die getroude lewe behandel boer Hennie en Jacobu baie goed – en hulle terg mekaar nog eenstryk deur
DIS al ’n bekende gesig op Willowmore in die OosKaap: Hennie agter die stuur, Jacobu langs hom op die passasiersitplek en Trompie, die steekhaarterriër, kiertsregop agterop die wit bakkie die wêreld aan’t bekyk terwyl hulle deur die Karoodorp ry. En presies so kom die drie ingery by die Lapidaria-gastehuis. Hulle het net gou appelkose gaan oplaai, verduidelik Hennie en Jacobu Lötter voor hulle hulle koffiebeker in die hand op die roomkleurige stoepbank tuismaak.
Jacobu (23) se lang bruin hare is uit haar gesig weggesteek, maar kartel windverwaaid met ’n effense krul oor haar bruingebrande skouers. Hennie (27) lyk ook ontspanne in sy blou T-hemp, kortbroek en plakkies. Die onlangs getroudes sit terug, kyk vir mekaar en glimlag breed.
“Ek het gister nogal gedink: ‘Hoeveel ure was ons al weg van mekaar af?’ Want ons doen alles saam. Ons is baie bevoorreg,” sê Hennie, en Jacobu knik. “Sy wou nog net twee keer wegloop. Maar hulle sê die derde keer moet jy pasop, want dan raak hulle ernstig,” sê die bruinoog- boer en lag uit sy maag terwyl Jacobu hom in die ribbes pomp.
“Ek het darem nog nie een keer my goed ingepak nie. Ek het net gedreig, maar dit het nie gewerk nie,” antwoord Jacobu en lag dan net so lekker.
Dit is ’n voortdurende geterg en gelag terwyl ’n mens in die twee se geselskap is. Wanneer die een iets sê, antwoord die ander met ’n kwinkslag. Ander kere trek hulle mekaar se siel uit en giggel soos twee verliefde tieners. Dis te verstane; hulle is nog net ’n paar maande getroud.
“Dit voel al soos twee jaar,” sê Hennie met ’n ernstige gesig. “Dit klink nie goed nie; dit klink of ek jou oud maak,” antwoord Jacobu met ’n frons. “Nee,” sê Hennie dan met ’n groot glimlag en kyk vir sy vrou, “die getroude lewe is goed.”
JACOBU het einde 2016 vir die eerste keer by Hennie op Willowmore kom kuier. Die twee het mekaar toe nog stadig maar seker leer ken nadat hulle tydens die verfilming van die negende seisoenseisoen van Boer Soek ’n Vrou kennisgemaak k het. D Die vrol ike Ja Jacobu Muller het aanvanklik ingeskryf om een van die ander boere i in die kykNET-
maatsoekreeks te ontmoet. Maar toe sy en boer Arno in die laaste aflewering saam by die reünie opdaag, het hulle bevestig daar is niks meer as vriendskap tussen hulle nie.
Hennie is alleen reünie toe nadat sake nie wou vlot met een van die meisies wat op sy familieplaas gekuier het nie.
Hennie en Jacobu, wat in daardie stadium nog onderwys aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, het dié dag aan die gesels geraak. Hulle het kontak behou en dit was nie lank nie of Hennie het haar Willowmore toe genooi.
Maar die twee moes hul oor-enweer-kuiery geheim hou om nie kykers se pret te bederf nie. Wanneer hulle in ’n winkelsentrum in George rondgeloop het, kon hulle nie te na aan mekaar stap nie en hulle kon ook nie in die openbaar hande vashou nie. “Dit was glad nie lekker nie,” sê Hennie.
Eindelik het Hennie in Januarie verlede jaar, op dieselfde aand as die uitsending van die laaste episode van die seisoen, op Somerset-Wes in ’n vriendin se huis Jacobu gevra om amptelik sy nooi te wees. Maar net toe hy by die trappies wou afstap om haar te verras, het sy voet vasgehaak. En daar val Hennie toe letterlik vir die vriendelike onderwyseres, oorspronklik ’n plaaskind van Riversdal in die Suid-Kaap.
Ná ’n kort langafstandverhouding het hulle in Junie verlede jaar verloof geraak. Hennie het Jacobu vroegoggend teen Skoorsteenberg buite Willowmore opgeneem, kastig om te gaan kyk hoe vol die damme is, en haar daar met ’n verloofring verras.
Hulle is op 7 Oktober getroud tydens ’n regte boerebruilof op Hennie se familieplaas, Doornpoort. Die kerkdiens was in ’n ou stasiegebou en die sowat 270 gaste het tot laatnag in ’n groot skuur op die plaas makietie gehou. “Dit was net te vinnig verby,” sê Hennie terwyl hy terugdink aan hul mooiste dag.
“Ja, toe die DJ huis toe gaan, trek ons die bakkie in die skuur en dans nog,” vertel Jacobu; “seker tot omtrent halfvier die oggend. My een strooimeisie het naderhand gevra of ons nie nou maar moet (huis toe) gaan nie. “Nee, dit was lekker,” sê sy glimlaggend. “Ek dink die hoogtepunt was vir my toe ons met daai liggietjies dans,” sê Hennie. “Wat noem ’n mens daai goedjies?”
Jacobu kyk vir Hennie. “Sien, dit is wat hy begin doen het: Hy het my begin irriteer met verkleinwoordjies en nou het hy dit aangeleer. Hy doen dit nou heeltyd,” sê sy en klap hom speels teen die arm. Hennie trek ’n gesig en begin weer lag. “Dit irriteertjies my!” raas Jacobu kamma.
“Tot dusver is dit baie lekker om getroud te wees. Ek dink die ergste skaaf is ook nou verby. Ons raak nou gewoond aan mekaar se gewoontes,” sê Hennie.
Nes enige getroude paartjie het die twee ook al vasgesit, vertel hulle. En vir albei was dit ’n aanpassing om skielik ’n huis te deel. “Ek is baie netjies en sy nie,” terg Hennie in Jacobu se rigting.
“Ag, asseblief! Hy is gewoond almal pak sy goed vir hom weg en dra dit agter hom aan. Nou is ek hier en ek is nie iemand wat alles heeltyd gaan optel nie,” antwoord Jacobu gemaak verontwaardig.
Maar toe hulle terugdink, kan hulle nie mooi onthou waaroor hulle al stry gekry het nie. “Noudat ek daaroor dink: Ons het nog nie een keer dié week baklei nie,” sê Hennie en kyk vir Jacobu. Spontaan gee die twee mekaar sommer ’n vatvyf en lag.
NÁ HUL wittebrood op Plettenbergbaai het die egpaar begin nesskop in die huis wat vroeër Hennie se gastehuis op die dorp was. Hulle skuif die gastehuis nou oor na die huis op die erf langsaan. En terwyl Hennie aandag gee aan sy ondernemings op die dorp, bedryf twee van sy drie broers sy boerderyaandeel op die plaas.
Willowmore het vinnig na haar tuiste begin voel, sê Jacobu. “Dis lekker hier. Ek dink ek ken al al die mense; ek onthou nog net nie altyd almal se
naam nie,” sê sy effens verleë, “maar die mense is almal awesome.”
Sy gee toe sy verlang soms na haar vriendinne en twee susters, Noreth Muller-Kluits (28) en Magdel Muller (25), wat in Kaapstad woon. “Ek het gewoonlik elke naweek by een van hulle gaan kuier. En my ouers was ook gewoond daaraan om almal te sien wanneer hulle Kaap toe gaan,” sê sy. “En ek mis die kinders vir wie ek skoolgehou het, maar nie die stad nie. Hier is ek baie besiger, maar dit voel nie na ’n gejaag na niks nie.”
Jacobu was voor haar troue ’n gr. 6onder wyseres aan die Laerskool De Hoop op Somerset-Wes. Omdat daar nog nie ’n onderwyspos op Willowmore be- skikbaar is nie, bestuur sy nou meestal die gastehuis. “Ek ontvang die mense en maak ontbyt en aandete. Ons is besig met ’ n paar veranderings by Kapoet (Hennie se padstal op die dorp).”
Jacobu was van die begin af vasbeslote om hul woonhuis met ’n titsel geel op te helder. “Kapoet se deure is nou geel,” sê Hennie. “Sy het aangehou en aangehou. Ek wou dit rooi maak, maar toe wen sy.” Jacobu lyk ingenome. “Nou wil hy sommer ons kombuisdeure ook geel verf, en dit was sonder my invloed. Geel groei op ’n mens!” sê sy.
“Maar dit is nogal snaaks,” sê Hennie, “nou die dag was hier ’n klomp motorfietsryers, toe ry hulle verby en ek sien hulle kyk na die plek. Toe draai hulle om en kom terug. Toe sê hulle dit was die kleur wat hulle gelok het,” vertel hy.
“Jacobu het nou omtrent al die verantwoordelikhede in die gastehuis oorgeneem. By die padstal help sy met idees vir ’n nuwe spyskaart. Ek is ook hier rond en besig om die nuwe gastehuis reg te maak,” vertel Hennie oor hul bedrywighede.
Hul dae is sonder roetine omdat dit af- hang van hoeveel gaste hulle kry. Maar die twee staan enige tyd van sesuur soggens af op, eet saam ontbyt en begin dan met hul verskillende take vir die dag. “Hier twaalfuur, halfeen se kant kom soek hy kos en dan het ek gewoonlik vergeet ek moet vir iemand kos maak,” sê Jacobu met groot oë.
Dan slaan sy gou ’n ete aanmekaar. “Dis nou as ek iets gekoop het vir die kombuis. Julle, ek is ’n slegte huisvrou; ek kom dit ál meer agter! Maar toemaar . . .” sê sy en skud haar kop. “Ek kan al konfyt kook,” vertel sy dan trots. “En groenvye inlê. Ek het al brood gebak.”
“Sy raak ’n regte plaashuisvrou,” skerts Hennie weer.
“Wat het ek nog begin doen? Ek leer kook,” sê Jacobu. Daarvoor trek sy die resepteboek Kook en Geniet nader. En soms, soos toe sy appelkooskonfyt gekook het, gee Hennie se ma raad oor die foon. “En Jacobu gaan ’n ruk lank uithelp by die kleuterskool. My skoonsuster wat daar werk se baba kom in Februarie,” verduidelik Hennie.
Woensdagaande hou hulle saam met omtrent 15 ander mense op die dorp
Bybelstudie in hul huis, en naweke kuier hulle soms by Hennie se ouers op die plaas, sowat 60 km buite Willowmore.
“Ons het eintlik ’n vol program. Ek dink ons sosiale lewe is dalk besiger as sommige mense in die stad s’n,” meen Hennie.
HENNIE en Jacobu het hul eerste Kersfees as getroudes by Jacobu se ouers op Stilbaai deurgebring. “Dit was die skoonfamilie se beurt; daarom is ons almal vir Kersfees vanjaar weer by my ouers,” verduidelik Hennie.
Hulle het albei grootgeword met groot familiekuiers en Kersetes. “My pa het altyd vir ons die verhaal gelees van Jesus se geboorte,” vertel Jacobu.
Sy onthou ook hoe ’n buurman dan, aangetrek as Kersvader, die kinders met ’n sak vol geskenke sou verras. “Ek dink wanneer ons kinders het, sal ons ook wil hê hulle moet aan Kersvader glo. Jy weet, daai opwinding,” sê Hennie.
Al terg Hennie baie oor die “orrelpypies” wat hy graag eendag wil hê, stem hulle saam hulle wil minstens ’n jaar wag voor hulle aan kinders begin dink.
DIE twee sê hulle het so dan en wan na die afgelope 10de seisoen van Boer Soek ’n Vrou gekyk. Hulle is dit eens dis sommer stukke beter om ander boere dop te hou as om na hulself op televisie te kyk. “Dit was verlede jaar baie ongemaklik om dit te kyk,” sê Hennie. “Dit is nogal vreemd om te dink dit is ook hoe ons paaie gekruis het, maar vir ons was dit darem heel op die kantlyn,” sê hy.
Noudat hul ervarings voor die reeks se kameras en al die groot gebeure van verlede jaar agter hulle lê, kyk hulle vorentoe. “Ek dink 2018 gaan ’n goeie jaar wees om 2015, 2016 en 2017 se Nuwejaarsvoornemens af te handel,” skerts Hennie voor hy weer ernstiger raak.
“Nee, ons wil net daarop fokus om alles by die nuwe gastehuis werkend en gereed te kry. Dan is daar nog ’n huis op die dorp waarmee ons iets wil doen, maar ons sal nog besluit wat. Ons sal nog kyk. Maar ons wil onsself nou net lekker ves- tig. Ek dink ons sal ook baie selfsugtig wees en baie tyd saam deurbring en dinge saam doen,” sê Hennie.
Hy voel hulle is nou in ’n opwindende fase van hul lewe en gee glad nie om om in hul bakkie te klim en nuwe plekke te gaan besoek of by vriende en familie te gaan kuier nie.
“Ons is nou een. Dis lekker om die lewe van hier af uit te pluis. En ’n mens weet mos nie wat die toekoms inhou nie; dit op sigself is opwindend,” sê Hennie met Jacobu aan sy sy en Trompie wat snoesig by sy voete lê.
‘Hier twaalfuur, halfeen se kant kom soek hy kos en dan het ek vergeet ek moet vir iemand kos maak’