Ná 8 jaar mag ma steeds nie seun sien
Ná agt jaar is Elize se seun (12) hier uit China, maar nog kry sy hom nie te sien nie
HAAR seun wat sy ongeveer agt jaar gelede in China laas gesien het se geskenke wag steeds onder die boom hier in die kothuis naby Jeffreysbaai in die Oos-Kaap. Onlangs nog het ’n verheugde Elize gedink sy en haar oudste kind (nou 12) gaan eindelik saam Kersfees vier nadat hy saam met haar Chinese eksman se ma op die Durbanse lughawe aangekom het. Maar dit was vergeefs . . .
“My kind is so naby en tog so ver. Wanneer sal ek hom ’n drukkie kan gee? Ek weet nie eens hoe my seun nou lyk nie. Ek het gevra hulle moet op die lughawe ’n foto neem en vir my stuur, maar ek het nog niks,” vertel Elize (34). Eers later sou sy ’n paar kiekies kry.
Dit is die jongste teleurstelling in dié kassiere se jare lange stryd om met haar eerste kind herenig te word. Sy het al by die Suid-Afrikaanse Polisie en regstelsel, die Chinese owerheid, Interpol en die kantoor van pres. Jacob Zuma om hulp gaan aanklop.
“Ek bly verloor, want ek het nie geld nie,” vertel Elize.
Met die seun en ouma se aankoms op die lughawe op 18 Desember is hy gelaat in die sorg van sy pa, wat in Durban sakebelange het en daar woon.
Volgens Elize is sy te platsak om na Durban te gaan om haar kind te probeer sien en wil haar eksman hom nie na haar toe bring nie.
“Ek wil hom net weer vashou,” vertel sy. “Wanneer sal hy sy kleinboet, CJ, kan ontmoet en met hom speel?”
Klein CJ (4) is Elize se kind by haar verloofde van die afgelope ses jaar, Wayne Oates (32), ’n verkoopsman.
Sy het haar oudste kind laas die aand van 20 Oktober 2009 in haar eksman se ma se woonstel in die Chinese stad Nanping gesien.
Elize het die knapie ( toe 4) met slaaptyd ’n drukkie gegee en in Afrikaans gesê: “Lekker slaap. Sien jou môre.”
Maar toe sy die volgende oggend wakker word, was hy reeds saam met sy ouma weg na elders in China, waarheen die pa ook reeds vroeër vertrek het.
Toe ander skoonfamilie Elize later met bagasie en al kom haal, het sy gedink hulle neem haar na haar man en kind. Maar toe sy weer sien, vertel sy, is sy op die lughawe met ’n vliegkaartjie na Suid-Afrika, ’n verstrykte Chinese visum en min geld. Sy moes terugvlieg.
Sedert daardie dag het sy net telefonies met haar kind kontak en was haar destydse man afsydig.
Toe bel hy skielik vroeg Desember en vertel hul seun keer permanent terug na Suid-Afrika sodat dié hier kan skoolgaan en “goed leer Engels praat”.
Ons is by Elize die dag nadat haar seun in Durban geland het. Haar eks bel haar op haar selfoon, en met die foon se luidspreker hoor ons toe die seun kans kry om te gesels. “Wo ai ni,” sê Elize in Mandaryns vir haar seun dat sy hom liefhet. “Xiang ni (ek mis jou),” hoor ons hom sê.
Dan is dit weer haar eksman op die lyn. “Gaan hy na my toe kom vir Kersfees?” vra Elize in Engels. “As jy met vakansie is, kan jy hierheen (Durban) kom. Hy kan nie nou gaan nie,” antwoord hy.
“Sal jy betaal vir die vliegkaartjie?” wil sy by hom weet.
“Jy droom seker. Weet jy hoe duur dit was om hom hier te kry? Ek het nie nou geld nie . . . . Hy is ook nou nader aan my ma as aan jou,” kom die antwoord.
Elize lyk skoon verslae oor die nuus dat haar kind nou so naby maar tog so ver is.
Sy het nou ’n gesinsadvokaat in Durban wat haar help om ’n kontakbesoek met die seun te reël en raad te gee oor haar toegangsregte ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing. (Sien die kassie.) Intussen word die Kersboom en geskenke nie weggepak nie.
ELIZE, Wayne en klein CJ woon by Wayne se ouers in Port Elizabeth. Dot en Kobus van Greuning, Elize se ouers, woon in ’n kothuis op ’n plaas buite Jeffreysbaai. “Dit was so wonderlik om my seun se stem te hoor en dat hy in Suid-Afrika is,” sê Elize oor die telefoongesprek.
Dan bars sy in trane uit: “Ek wil net my familie bymekaar hê; net normaal wees.”
CJ probeer troos. “Mamma is oukei,” sê sy en druk hom styf vas. “My babatjie, dit ontstel hom. Wanneer hy ’n vliegtuig of my ander seun se foto op die foon sien, roep hy ‘ boetie’ uit.”
Met haar oudste se aankoms op die lughawe is sy pa glo gemaan die seun mag nie weer landuit gaan nie.
Elize en haar familie het nie geld vir regstappe nie en sal die Regshulpraad om hulp moet vra. Vanuit die kothuis bedryf die grootouers ’n winkeltjie met groente uit hul tuin en inheemse boompies. “Ons probeer alles om ’ n ietsie ekstra te verdien om my kleinseun hierheen te laat vlieg of Elize Durban toe,” vertel Kobus, ’n afgetrede bouvoorman.
“Die visstokke wag vir hom. Ek gaan vir hom ’n T-bone koop om te braai. Hy moet Suid-Afrika proe,” sê oupa Kobus.
Oral is foto’s van die ouer seun. Sy kamer met sy naam op die deur en Ben 10-beddegoed is steeds slaggereed. “Ek weet nie of hy nou nog daarvan gaan hou nie,” sug Dot.
Elize en haar eksman het mekaar ontmoet terwyl hulle in verskillende winkels op Hluhluwe in KwaZulu-Natal gewerk het. Haar ouers het destyds ook van die vriendelike jong man gehou en was bly oor die jong paartjie se troue en die koms van hul kleinseun.
Maar toe die seun vier was, het sy pa in Mei 2009 besluit om sy gesin na China te neem om sy ma te ontmoet.
Elize en haar buitelandse skoonma het vanuit die staanspoor vasgesit. Volgens Elize het haar skoonma haar paspoort toegesluit.
Sowat ses maande ná hul aankoms, kort voor Elize se traumatiese vertrek uit China, het haar man vir haar dokumente gegee om te onderteken wat sy nie behoorlik verstaan het nie, beweer sy en wys dit vir ons.
Met haar tuiskoms het sy ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Port Elizabeth gebring. Maar die hof het beslis China sou nie ’n bevel eerbiedig om die seun terug te besorg nie omdat China nie ’n ondertekenaar van die Haagse Konvensie (oor uitlewering) is nie.
En toe Elize in 2011 wou skei van die pa van haar kind, het haar prokureur van hom (die eks) verneem hy het reeds die vorige jaar van háár geskei.
Suid-Afrika se departement van binnelandse sake het geen rekord daarvan nie en Elize beweer haar eks het die skeidokumente vervals.
“Wanneer ek elke maand betaal word, koop ek lugtyd om my seun te bel,” sê Elize. Elke keer sê hy: ‘Mommy, I love you.’ ”
In ’ n onlangse telefoongesprek het Elize se eksman aan haar gesê hy sal hul seun dalk toelaat om haar te besoek “wanneer hy 18 is” of sy haar eie woonplek het. “Ek wil hê hy moet kan trots wees op sy ma,” het hy gesê.
“Ons probeer hard om ons eie plekkie te kry, maar dis moeilik,” vertel Elize. “My hart sal weer oopgaan wanneer ek hom by my het. Ek weet die band tussen ons is steeds daar.”
Haar eksman se Durbanse prokureur, Samlal Garbaran, het ons verwys na sy reaksie op ons vorige artikel. Daarin sê hy Elize het in 2009 in Nanping ’n Chinese dokument “wat in Engels vir haar vertaal is”, onderteken waarin sy voogdyskap aan die Chinese ouma gee. Elize ontken dit.
Samlal hou ook vol ’n egskeidingsbevel is op Elize beteken, maar sy ontken dit. Nie Elize se gesinsadvokaat of binnelandse sake kon dit kry nie.