Huisgenoot

Rudi en Suzette ná jaar nog dolverlief

Die tonge het geklap oor hul huwelik, maar ná langer as ’n jaar as getroudes is Rudi en Suzette nog nader aan mekaar

- Deur JACQUES MYBURGH

DIE laaste strale van die dag beur deur die sonkamer se vensters terwyl ’n tipiese Hoëveldse donderstor­m op die horison brom.

Maar dit skeel die smoorverli­efde paartjie wat so knus langs mekaar op die wit rusbank in hul huis in Benoni sit oënskynlik min. Rudi Claase (35) sit sy arm om sy Suzette ( 44) en verklaar ingenome: “Mense het gedink ons gaan nie die eerste ses maande van die huwelik oorleef nie, maar kyk nou net: Ons is al langer as ’n jaar getroud en nog net so lief vir mekaar.”

Suzette glimlag. “Ons is nog baie gelukkig,” beaam sy. “Ons is gewoond aan mekaar. Ons is beste vriende. Ek dink al die mense wat so skepties was, besef nou ons is werklik lief vir mekaar.”

Die tonge het omtrent geklap toe die Ons Lieflinge-sanger Rudi, wat voorheen met ’n man getroud was, in Desember 2015 aankondig hy gaan met Suzette (toe Booysen) afhaak. Hy het Suzette, toe nog ’n direkteur van ’n familieond­erneming wat rubberprod­ukte vervaardig, eintlik maande tevore gevra om met hom te trou.

Op 13 September 2016 is hulle in ’n intieme seremonie in die tropiese eilandpara­dys Mauritius getroud. Dit was net hulle twee, die wuiwende palmbome en die wit sandstrand. “Dit was so, so romanties. Ek kon dit nie eens gedroom het nie,” het Rudi destyds net ná hul troue aan Huisgenoot gesê.

Vir hul eerste huwelikshe­rdenking het hy ’n hele restaurant, hul gunsteling­Franse eetplek in Johannesbu­rg, bespreek. “Dit was net ons twee in daai hele restaurant,” vertel Suzette. “Oral was kerse. Dit was so romanties.”

Die twee sê hulle het presies geweet waarvoor hulle hulle inlaat toe hulle afhaak en vertel die eerste jaar of wat van hul huwelik het seepglad verloop. “Ek dink ons is nou nader aan mekaar, maar het ook nie ná die tyd enigiets van die ander uitgevind wat ons nie reeds geweet het nie,” sê Suzette.

Rudi beaam dit. “Suzette het geweet van al my geraamtes. Google was grootliks verantwoor­delik daarvoor. Sy het alles van my gaan google, en ons was nog altyd eerlik met mekaar. Ons het ook voor die troue as vriende saam ingetrek, so daar was nie agterna ’n skok dat een van ons snork of iets nie.” Dit blyk die soel seewaters van Mauritius het vir die paartjie volop goeie tydings en seën gebring . . .

IN HUL huis hier aan die Oos-Rand van Johannesbu­rg weerklink ligte klaviermus­iek deur die gange. Dit is pynlik netjies. Hul Persiese kat, Picasso, lê luilekker op die eetkamerta­fel. Hul huis is hul veilige heenkome, weg van die stad se gedruis en hul bedrywige werkprogra­m. “Dit is waar ek en Rudi kom rus. Ons gaan baie min uit,” vertel Suzette. “Wanneer ons so baie op toer gaan en optredes het, wil ons net by die huis wees en laat slaap,” sê Rudi.

Vir Rudi en sy Ons Lieflinge-sangmaat, Charné Hugo, was verlede jaar ’n besige een vol toere. ’n Nuwe CD, Miljoene Stemme, het ook die lig gesien. “Ek is beslis op ’n goeie plek in my lewe,” sê Rudi. “2017 was net goed vir my, my loopbaan en my huwelik.”

Suzette het ook lid geword van die Ons Lieflinge-span; sy is deesdae hul bestuurder. “In die verlede het ek net met ’n glas wyn in die hoekie gesit terwyl hulle optree, maar nou is ek baie betrokke en reël die toere en bestuur hulle,” sê sy.

Nie net voel Rudi innerlik goed nie; sy

voorkoms het ook verander. Sy hare is nou afgeskeer. Danksy subdermale mikropigme­ntasie, ’n prosedure waartydens klein hoeveelhed­e ink met ’n naald onder die kopvel ingedruk word, lyk dit asof daar gesonde haarfollik­els op sy kaalkop is.

Rudi het sedert sy 20’s met haarverlie­s gesukkel en ’n pruik gedra. “Ek voel fantasties,” sê hy nou. “Voorheen het ek net soms nie ’n pruik gedra nie. Selfs my sielkundig­e het op ’n dag toe ek skielik weer met my pruik by haar opdaag, gevra hoe my hare so vinnig teruggroei!” vertel hy laggend.

Maar dinge het nie altyd so voor die wind verloop in die sanger se lewe nie. Daar was tye dat Rudi in ’n diep en donker gat was, ’n plek waar hy gevoel het hy nooit gaan uitkom nie. Die sanger ly aan bipolêre steuring en het in 2013 sy lewe probeer neem deur ’n oordosis pille te drink en een van sy polse te sny.

Sy huwelik met die musiekprom­otor Stephen Stewart was toe ook op die rotse en hulle is in Desember 2013 geskei.

“Vandag kan ek nie dink dat ek ooit op ’n donker plek was nie. Ek het baie van myself geleer en besef ’n mens moet plek maak dat ander kan groei. Ek was erg jaloers en op ’n pad om myself te verwoes, maar kon myself ophef. Suzette het my nog altyd ondersteun.”

Rudi en Suzette het mekaar in 2014 by ’n gemeenskap­like vriend se braai ontmoet, en hy sê nou: “Dit voel asof ek vir die eerste keer getroud is. Dit voel eg. Dit voel reg.”

Sal hulle dalk wil hê die kunssinnig­e klaviermus­iek moet met die klanke van ’n huilende baba vervang word? “Nee, ek dink nie dit sal sommer gebeur nie,” sê Rudi. “As dit gebeur, gebeur dit, maar ons het geen planne om ’n baba te hê nie.”

RUDI sit agteroor en betrag die cumuluswol­ke wat aangerol kom. “Dit gaan nou lekker reën,” sê hy terwyl Picasso teen sy been skuur.

Op sy en Suzette se liefdeslan­dskap is by wyse van spreke ook vol- op reën; hulle waardeer mekaar opreg. “Ek koop dikwels vir Suzette blomme. Sommer net. Sy is mal oor blomme.”

Suzette knik. “Dit hoef nie eens ’ n spesiale geleenthei­d te wees nie. Hy sal net hier by die huis opdaag met ’n groot bos blomme in sy hande.”

Sy het weer in ’ n stadium vir Rudi sjokolade onder sy kussing weggesteek. “Tot die honde dit begin eet het, toe besef ek dit is dalk nie so ’n goeie idee nie,” vertel Suzette laggend. Die egpaar het twee pekinese, Boegie en Boetie.

Intussen het hulle ook ’n swembad laat bou en geniet hulle soos menige ander egpaar die voorstedel­ike lewe. “Vir my is die volmaakte naweek een wat ek net hier saam met my vroulief deurbring,” sê Rudi.

Dit beteken nie hulle wil nie die wêreld saam sien nie. “Ek wil baie graag Europa toe gaan en die katedrale daar besoek,” sê Rudi. “En ons wil in Japan egte soesji gaan eet,” sê Suzette. Wat is hul voornemens vir die jaar wat nog in sy kinderskoe­ne staan? “Ek wil soos almal gewig verloor,” sê Suzette. Rudi wil sy liefde vir kondensmel­k laat vaar. “Ek sal in die middernagt­elike ure ’n hele blik kondensmel­k net so uitdrink. “Die ander aand het ek byna my eie vinger geamputeer toe ek die blik oopmaak en dit my sny,” bieg hy oor sy suikertand.

Dan gaan hulle natuurlik vanjaar weer baie toer. Rudi raak speels aan Suzette se been en sê opgewek: “En met so ’ n fantasties­e bestuurder gaan dit ’n groot sukses wees.”

 ??  ?? Die sanger Rudi Claase sê hy is die gelukkigst­e wat hy al ooit was sedert hy met sy Suzette getrou het. Saam met hulle is hul twee pekinese, Boegie en Boetie.
Die sanger Rudi Claase sê hy is die gelukkigst­e wat hy al ooit was sedert hy met sy Suzette getrou het. Saam met hulle is hul twee pekinese, Boegie en Boetie.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Suzette het intussen voltyds Rudi se bestuurder geword. Hulle geniet dit veral om rustig by die huis uit te span wanneer hulle nie op toer is nie. REGS: Suzette en Rudi op hul troudag. Hulle het besluit om op Mauritius te trou.
BO: Suzette het intussen voltyds Rudi se bestuurder geword. Hulle geniet dit veral om rustig by die huis uit te span wanneer hulle nie op toer is nie. REGS: Suzette en Rudi op hul troudag. Hulle het besluit om op Mauritius te trou.
 ??  ?? BO: Rudi toe hy nog sy pruik gedra het. LINKS: Singend saam met sy Ons Lieflinge-medesanger, Charné Hugo.
BO: Rudi toe hy nog sy pruik gedra het. LINKS: Singend saam met sy Ons Lieflinge-medesanger, Charné Hugo.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa