Huisgenoot

SA se eie poppemeest­er

Met M sy meer as 500 marionette is hy een van net vier v poppemeest­ers wat in Taiwan mense gaan ‘ touwys’ maak het

- Deur CARLA COETZEE Foto’s: ROWYN LOMBARD

STAP ’n mens die doodgewone houthut binne in die tuin van die doodgewone gesinshuis in Roodepoort, wes van Johannesbu­rg, bevind jy jou eensklaps in ’n wonder wêreld waar sprokieska­rakters lewend word.

Van die dak hang hulle aan toutjies: Liewe Heksie, ’n prinses, ou omies, ’n Rastafarië­r, volstruise, slange en goggas. Die marionette, groot en klein, is almal ewe kleurryk uitgedos. In kratte kruip nog weg saam met handpoppe, altesaam meer as 500.

“Dis my kinders dié,” sê Swannie Swanevelde­r (46) en wys trots na die marionette, waarvan party byna so groot soos hy is. Hy het hulle elkeen self gemaak, vertel die uitgetrede NG jeugleraar.

Hy is een van vier poppemeest­ers wat gekies is om in November verlede jaar slypskole oor poppespel aan te bied in Taiwan se gesogte Lizé Puppet Art Colony, ’ n teater en werkwinkel waar poppemeest­ers opgelei word. Swannie en drie mededeelne­mers het vyf weke by skole opgetree en tydens ’n poppefees vertonings gehou. “Dit was lekker; ek het soveel van die ander geleer en hulle ook iets geleer,” vertel hy terug in sy ouerhuis in Roodepoort.

“Poppe kan vir jou soveel deure oopmaak. Ek het al soveel mense ontmoet en plekke gesien,” vertel hy. ’n Paar jaar gelede het Oprah Winfrey hom onverwags uit Amerika gebel. Eers het hy gedink dis ’n gekskeerde­ry, maar toe hy besef dis regtig die kletskonin­gin, was hy so geskok, hy kon agterna skaars die helfte van die gesprek onthou. Hy het wel gehoor toe sy vra hy moet sy kreatiwite­it inspan vir haar meisieskoo­l op Henley on Klip. Binne ’n maand moes hy 75 poppe maak, een vir elke gr. 7-leerder.

“Ons hele gesin – selfs my pa, wat toe nog geleef het – het kragte saamgespan sodat ons betyds kon klaarmaak,” vertel hy. Sy pa, Johan, was ’n rekenmeest­er.

Swannie en sy versamelin­g poppe is al ou bekendes op kunstefees­te. Hy tree ook gereeld in skole en kerke op. Hy het al aan verskeie kinderteat­erproduksi­es deelgeneem en ook ’n CD uitgereik met kinderstor­ies, Bekkige Bobbejaan Se Afrika-avonture.

Maar Swannie is op sy gelukkigst­e wanneer hy met sy marionette voor ’n gehoor staan met ’n klomp haasbekkie­s voor hom. “Die kinders maak dit alles die moeite werd wanneer hulle uit hul maag uit lag of iets uit my stories leer,” sê hy. “Dit maak elke vertoning ’n hoogtepunt.”

SWANNIE staan nie ’n oomblik stil nie. Sy hande beduie saam, asof ook aan sý arms – net soos aan sy marionette s’n – toutjies vasgemaak is.

“Julle moet my maltrap verskoon,” sê sy ma, Noeline (72), met ’n glimlag. Swannie en sy ousus, Sulette (48), woon saam met haar in hul grootwordh­uis.

Dit was vir Noeline glad nie vreemd toe haar predikants­eun 16 jaar gelede besluit om op te hou preek en voltyds poppemeest­er te word nie. “Hy was nog op laerskool toe hy al vir die bure se kinders poppekas hou,” onthou Noeline. “Hy het toe van sokkies handpoppe gemaak, en al die kinders moes stilsit en luister. En behoede hulle wanneer hulle nie het nie.”

As ’n diep gelowige met ’n behoefte daaraan om met kinders te werk, het Swannie besluit om predikant te word.

Maar sy poppe was nie vergete nie. Terwyl hy op Secunda NG jeugleraar was, het hy soms met ’n marionet in die hand op die kansel gestaan en vir die jongspan ’n Bybelstori­e vertel.

Hy het ná ses jaar in die bediening bedank kort nadat hy uit vrye keuse “uit die kas geklim het”, vertel hy. Baie van die stories wat Swannie so aanskoulik vir kindergeho­re vertel, het steeds ’n boodskap uit die Bybel.

Hy het langer as 20 jaar gelede sy eerste marionet gemaak. Eers het hy self uitgepluis hoe om dit te doen; later het die poppemeest­er Toby van Eck hom touwys gemaak.

Een van Swannie se eerste marionette was ’n olifant. “Hy’s so swaar, ek was moeg wanneer ek die verhaal van Noag en die ark vertel het. Deesdae is ek slimmer,” vertel hy.

Dit duur minstens twee weke om ’n pop te maak – ook die handpoppe. “Ek teken my eie patrone vir die handpoppe en my ma doen dan die naaldwerk.”

In sy hande word nat toiletpapi­er en muurpapier­gom gesigte, en stukkies hout word ledemate wat buig en dans. Dit kan ure duur om uit te pluis waar elk van die 12 toutjies vasgemaak moet word wat elke marionet se bewegings beheer. “Dit moet oortuigend lyk, anders verloor ’n mens die kinders se aandag,” verduideli­k hy en laat Thandeka, een van die 17 poppe wat saam met hom Taiwan toe was, vir ons dans. Swannie het destyds van die slypskole in Taiwan te hore gekom toe ’n ander Suid-Afrikaanse poppemeest­er vir hom ’n e-pos daaroor aanstuur. Dit was so hittete of hy het nie daarvoor ingeskryf nie, want dit was kort ná die dood van sy jongste suster, die 44- jarige Varia, ’n paar maande gelede weens ’n gebarste dikderm. “Dit het my erg gevang. Sy het partykeer saamgetoer en my voor vertonings help opstel. “Ek wou eers nie vir die slypskool inskryf nie, want ek wou nie my ma in dié tyd alleen los nie,” sê hy en kyk na haar waar sy by haar naaldwerkt­afel in hul werkkamer sit.

Maar Noeline het daarop aangedring dat hy dié geleenthei­d aangryp.

“Ek het ingeskryf. Ek het egter nie gedink hulle sou my kies nie. Toe ek die e-pos kry (dat hy gekies is), dog ek eers dis ’n poets.”

Swannie reken ’n YouTube-video van hom in aksie en sy voorstel om in sy vertonings Afrika-stories te vertel het die deurslag gegee.

Die Taiwannese kinders was toe mal oor die Afrika-stories wat hy met die hulp van ’n vertaler by sy vertonings vertel het. “Hul humorsin is anders as ons s’n, maar hulle het darem vir my grappies gelag,” vertel hy.

Met sy poppe en die stories wat hulle vertel, maak Swannie ’n groot indruk op kindergemo­edere.

“Nou die dag vertel ’n pa sy seun raas nou met hom wanneer hy water mors, want Agie het vertel hoe ’n mens water moet bespaar.”

Agie is sy narpop en gunsteling, want hy laat nes Swannie die kinders lag.

TOG vind hy akteurs en ander kunstenaar­s is geneig om op hom as poppemeest­er neer te kyk. “Hulle dink dit is ’ n minderwaar­dige kuns, maar ek weet vandag ek is ’n kunstenaar uit eie reg.”

’n Poppemeest­er se taak is een van die moeilikste­s, meen hy. “Ek moet my eie stories skryf, my eie poppe maak en snaaks wees.

“Ek moet uit die vuis praat. Soms val ’n pop se kop af of die kinders raak bang. Hulle is veral bang vir die krokodil; daarom moet ek hard werk daaraan dat hulle vir hom sal lag.”

En nee, hy is glad nie heilig op sy poppe nie. “Die ma’s wil koes en keer, maar ek sê altyd ek kan ’n pop net weer regmaak as hy breek,” sê hy en trek Agie, wat langs hom op die bank sit, se klere reg.

Wat bepan hy nog alles? “Nog poppe, nog vertonings, hopelik ’n volwasse teaterstuk met poppe en om ander te inspireer om hierdie kunsvorm aan te leer,” vertel hy.

Swannie tel Thandeka op. Hy trek ’n toutjie hier en los een daar om haar laag te laat buig soos ’n wafferse diva, met een arm wat voor haar middel inswiep en ’n voet wat agtertoe uitskop.

“Tadáá!” roep Swannie uit. Dan pak hy haar saam met ander poppe in die krat, reg om kinderoë met hul volgende vertoning weer te laat blink.

‘ ’n Paar jaar gelede het Oprah Winfrey hom onverwags gebel’

 ??  ?? HOOFFOTO: Swannie Swanevelde­r het onlangs in Taiwan slypskole oor poppespel help aanbied. ONDER: Hy is op sy gelukkigst­e wanneer hy vir kinders poppekas kan hou.
HOOFFOTO: Swannie Swanevelde­r het onlangs in Taiwan slypskole oor poppespel help aanbied. ONDER: Hy is op sy gelukkigst­e wanneer hy vir kinders poppekas kan hou.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: ThandThand­eka was saam met hom in didie buiteland. BO: Dit neem tot twee weke om ’n marionemar­ionet te maak.
LINKS: ThandThand­eka was saam met hom in didie buiteland. BO: Dit neem tot twee weke om ’n marionemar­ionet te maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa