Teenstand broei teen oopkop pous
Pous Franciskus se liberale hervormings en sienings oor onder meer egskeiding en gays ontlok vurige teenstand onder konserwatiewes in die Katolieke Kerk, in so ’n mate dat party priesters nie kan wag dat hy sterf nie
VAN die oomblik dat kardinaal Jorge Bergoglio in 2013 pous geword het, het sy manier van doen die wêreld se verbeelding aangegryp: Hy het ’n Fiat bestuur, sy eie tasse gedra en self sy hotelrekenings betaal. Hy het die voete van Moslem-vlugtelinge gewas en ’n verdraagsame houding teenoor gay mense voorgestaan met die woorde: “Wie is ek om te oordeel?”
Maar binne die kerk het pous Franciskus vurige teenkanting van konserwatiewes ontlok wat vrees hierdie gees sal die kerk verdeel en selfs laat versplinter. Verlede jaar het ’n vooraanstaande Engelse priester aan my erken baie van die priesters verafsku die pous.
“Ons kan nie wag dat hy sterf nie. Dis onpubliseerbaar wat ons in privaatheid sê. Wanneer twee priesters mekaar ontmoet, praat hulle oor hoe aaklig Bergoglio is.” Natuurlik voeg hy ná 10 minute van onophoudelike gekla by: “Jy moet niks hiervan publiseer nie, anders word ek afgedank.”
’Pous Franciskus is in ’n oorlog met die Vatikaan gewikkel. As hy wen, kan die kerk in duie stort’
Hierdie mengsel van haat en vrees is algemeen onder die pous se teenstanders. Franciskus, die eerste nieEuropese pous in die moderne tyd en die eerste Jesuïtiese pous nog, is as ’n buitestander tot die Vatikaanse establishment verkies. Daar is verwag hy sou vyande maak, maar niemand het voorsien hoeveel van hulle nie.
Hy het verkramptes en konserwatiewes aanstoot gegee met alles van sy vinnige afswering van die praal van die Vatikaan – dit was ’n teken aan die kerk se 3 000 staatsdienslede dat hy dinge anders gaan doen – tot sy steun aan migrante, sy aanvalle op globale kapitalisme en bowenal sy stappe om die kerk se leringe oor seks te herondersoek. Uit die stemme wat op die jongste wêreldwye byeenkoms van biskoppe uitgebring is, blyk dit amper ’n kwart van die kollege van kardinale – die mees senior geestelikes in die kerk – glo die pous flankeer met kettery.
’n Geskil oor sy beskouing van egskeiding het die deurslag gegee. Met meer as ’n biljoen lidmate is die Katolieke Kerk die grootste organisasie op die planeet en baie van sy aanhangers is geskeide of ongetroude ouers. Pous Franciskus het van eeue – indien nie millenniums nie – van Katolieke teorie weggebreek deur priesters te probeer aanmoedig om die mis aan party geskeide of hertroude egpare te bied of aan gesinne waar ongetroude ouers saamwoon. Sy vyande wil hom dwing om dié pogings te laat vaar.
Maar hy hou te midde van ál groter ontevredenheid stilweg daarmee vol; daarom maak hulle nou reg om hom die stryd aan te sê.
In 2016 het ’n kardinaal, met die steun van ’n paar afgetrede kollegas, die moontlikheid van ’n formele verklaring van kettery geopper – die opsetlike verwerping van ’n gevestigde leerstelling van die kerk, ’n sonde waarvoor hy uit die kerk geban kan word. Verlede jaar het 62 ontevrede Katolieke, onder wie ’n afgetrede biskop en ’n voormalige hoof van die Vatikaanse Bank, ’n ope brief gepubliseer waarin Franciskus van sewe gevalle van kettery beskuldig word.
Om ’n sittende pous van kettery te beskuldig is die drastiesste opsie. Volgens die Katolieke geloofsleer mag die pous nie verkeerd wees wanneer hy oor die vernaamste geloofskwessies praat nie; as hy dus wel verkeerd is, mag hy nie pous wees nie. Aan die ander kant, as die pous reg is, beteken dit al sy voorgangers was verkeerd.
Dis ’n besonder giftige vraag, want dit is byna volkome teoreties. In die praktyk word in die grootste deel van die wêreld gereeld aan geskeide en hertroude eg- pare die mis gebied. Pous Franciskus stel nie ’n revolusie voor nie; bloot dat die burokrasie ’n stelsel erken wat reeds bestaan en dalk noodsaaklik is vir die kerk se oorlewing. As die reëls letterlik toegepas sou word, sou dit beteken het niemand mag ná ’n mislukte huwelik ooit weer seks hê nie. Dit is nie ’n praktiese manier om te sorg dat daar toekomstige geslagte Katolieke sal wees nie.
Tog lyk dit vir Franciskus se teenstanders of sy versigtige hervormings ’n bedreiging is vir die oortuiging dat die kerk tydlose waarhede verkondig. En as die Katolieke Kerk nie ewige waarhede verkondig nie, vra die konserwatiewes, watter doel het dit dan?
In 2015 het die Amerikaanse joernalis Ross Douthat, ’n Katolieke bekeerling, ’n artikel met die opskrif Will Pope Francis Break the Church? vir die tydskrif The Atlantic geskryf. Intussen het die Engelse tradisionalis Damian Thompson in ’n blogplasing vir The Spectator gedreig: “Pous Franciskus is nou in ’n oorlog met die Vatikaan gewikkel. As hy wen, kan die kerk in duie stort.” Die pous se sienings oor egskeiding en homoseksualiteit het volgens ’n aartsbiskop van Kazachstan “Satan se rook” die kerk laat binnedring.
Die Katolieke Kerk het vir groot dele van die vorige eeu ’ n stryd teen die seksuele revolusie gevoer en ’n onhoudbare absolutistiese standpunt probeer verdedig dat alle kunsmatige voorbehoeding asook enige seks buite een lewenslange huwelik verbode is. Dis nie werklik hoe mense leef nie, soos Franciskus dan ook al erken het. Die priesters weet dit, maar daar word van hulle verwag om voor te gee dat hulle dit nie weet nie. Die amptelike leerstelling mag nie bevraagteken word nie, maar dit kan ook nie gehoorsaam word nie. Iets moet meegee, en wanneer dít gebeur, kan dit ’n ontploffing veroorsaak wat die kerk uitmekaarskeur.
NIEMAND het dié probleme met Franciskus se verkiesing in 2013 voorsien nie. Een van die redes waarom sy medekardinale hom verkies het, was om die onbuigsame burokrasie van die Vatikaan reg te ruk, ’n taak wat al lank sloer. Kardinaal Bergoglio van Buenos Aires is as ’n relatiewe buitestander verkies omdat hy die vermoë het om blokkasies in die kern van die kerk uit die weg te ruim.
Maar daardie missie het gou met nog ’n verskuiwingslyn in die kerk gebots – een wat as ’n stryd tussen “liberales” soos Franciskus en “konserwatiewes” soos sy vyande beskryf word. Die grootste twispunt is tussen Katolieke wat glo die kerk moet die agenda vir die wêreld bepaal, en dié wat dink die wêreld moet die agenda vir die kerk bepaal.
In 2013, kort ná sy verkiesing, het Franciskus ’n godsdienstige orde gesuiwer wat aan die Latynse Mis toegewy was.
Pous Benedictus het in Junie 2012 ’n kommissie van ondersoek na die Franciskaanse Monnike van die Onbevlekte aangestel. Hierdie groep met sowat 600 lede (mans en vroue) is daarvan beskuldig dat hulle toenemend ekstreme regse politieke sienings met hul toewyding aan die Latynse Mis kombineer.
Toe die kommissie in Julie 2013 verslag doen, was konserwatiewes geskok oor Franciskus se reaksie. Hy het die monnike verbied om die Latynse Mis in die openbaar te gebruik en hul kweekskool gesluit. Daarby het hy dit op eie houtjie gedoen, sonder om die Vatikaan se eie hofstelsel te raadpleeg. Dit is toe nog deur die Amerikaanse kardinaal Raymond Burke bestuur, wat as Franciskus se mees uitgesproke teenstander na vore sou tree. Die volgende jaar het hy Raymond uit sy pos ontslaan en daardeur van hom ’n geswore vyand gemaak.
Raymond, ’n lywige Amerikaner met ’n voorliefde vir geborduurde togas, was een van die opvallendste reaksionêre in die Vatikaan. Sy ideaal is die priesterlike, patriargale en beleërde kerk van die Latynse Mis, en dit het gelyk of die kerk onder Johannes Paulus II en Benedictus stadigaan daarna terugkeer – tot Franciskus aan die werk gespring het.
Franciskus het ook met ’n omvattende aanval teen die ou garde in die Vatikaan begin. Vyf dae ná sy verkiesing het hy Óscar Rodríguez Maradiaga, ’n kardinaal van Honduras, as die koördineerder van ’n groep van nege kardinale van oor die wêreld heen aangestel om die Vatikaan reg te ruk. Dit was oraloor ’n gewilde stap, behalwe in Rome.
Pous Johannes Paulus II is in die laaste dekade van sy lewe ál meer deur parkinsonsiekte verswak en het nie energie op burokratiese twiste verspil nie. Die Kurie, soos die Vatikaanse burokrasie bekend is, het toe magtiger, stagnant en korrup geword. Weinig stappe is teen biskoppe gedoen wanneer hulle priesters beskerm het wat kinders gemolesteer het.
Die Vatikaanse Bank was berug vir die dienste wat dit aan geldwassers gebied het. Die proses van heiligverklaring het ’n uiters duur bedrogspul geword. (Die Italiaanse joernalis Gianluigi Nuzzi het die deursneeprys op R7,5 miljoen per stralekrans geraam.) Die geldsake van die Vatikaan was ’n gemors.
In Desember 2015 het Franciskus geen doekies omgedraai in sy tradisionele Kersboodskap aan die Kurie nie: Hy het hulle beskuldig van arrogansie, “geestelike alzheimers” en “skynheiligheid . . . en ’n geestelike leegheid wat akademiese grade nie kan vul nie”, asook van materialisme en ’n verslawing aan skinder en rugstekery – nie wat jy op die kantoorpartytjie by jou baas wil hoor nie.
Tog lyk dit ná vier jaar van sy pousskap of die weerstand van die Vatikaan verskerp het. Verlede Februarie het plakkate op die strate van Rome verskyn met die vraag: “Franciskus, waar is jou genade?” – oor die manier waarop hy Raymond behandel het. Net ontevrede elemente in die Vatikaan kon daaragter gesit het. Dit was ’n uitwendige teken van die koppige weiering om mag aan die hervormers af te staan.
Maar hierdie stryd word oorskadu deur die kwessie of die mis aan geskeide en hertroude egpare gebied moet word. Vir baie beklemtoon die kerk se weiering om tweede huwelike te erken – tensy die egpaar beloof om nooit seks te hê nie – hoe absurd dit is dat ’n groep selibate mans mense se lewe reël.
‘Die biegstoel moet geen martelkamer wees nie; eerder ’n ontmoeting met die Here se genade’
In 2015 en 2016 het Franciskus twee groot sinodes van biskoppe van oor die wêreld heen laat vergader om dit alles te bespreek. Hy het geweet hy kon nie sonder breë konsensus voortgaan nie. Hyself het stilgebly en die biskoppe aangemoedig om te redekawel. Maar dit was gou duidelik hy is ten gunste daarvan om die dissipline oor die bied van die mis ná ’n hertroue te verslap. Met dié dat dit in elk geval in die praktyk gebeur, kan ’n buitestander moeilik verstaan waarom dit gemoedere so hoog laat loop het.
“Waaroor ek besorg is, is die teorie,” verduidelik die Engelse priester wat erken hy haat Franciskus. “In my gemeente is baie geskeide egpare, maar baie van hulle sal hulle haas om in die kerk te trou sodra hulle hoor die eerste huweliksmaat is dood. Ons is almal sondaars. Maar ons moet die intellektuele integriteit van die Katolieke geloof behou.”
Volgens hierdie denkwyse bewys die feit dat die wêreld jou leerstellings verwerp bloot hoe reg jy is.
“Die Katolieke Kerk behoort teenkultureel te wees in die nadraai van die seksuele revolusie,” hou Ross vol. “Die Katolieke Kerk is al oorblywende instansie in die Westerse wêreld wat sê egskeiding is sleg.”
Maar die pous sê die kerk moet ’n hospitaal of noodhulpstasie wees. Geskeides hoef nie te hoor egskeiding is ’n slegte ding nie. Hulle moet herstel en hul lewe herbou. Die kerk moet hulle bystaan.
Op die sinode van 2015 was dit nog ’n minderheidsbeskouing. ’n Liberale doku- ment is opgestel opgestel, maar die meerderheid het dit verwerp. ’n Jaar later was die konserwatiewes ’n minderheid, maar ’n baie vasbeslote een. Franciskus het self die beraadslagings in ’n dokument getiteld Amoris Laetitia (die vreugde van liefde) opgesom. Dit is lank, peinsend en versigtig dubbelsinnig. Die dinamiet is in voetnoot 351 van hoofstuk agt versteek.
Party mense wat in tweede huwelike (of burgerlike vennootskappe) leef, sê Franciskus, “kan in God se genade leef, kan liefhê en kan ook in die lewe van genade en liefdadigheid groei, terwyl hulle hulp daarmee van die kerk ontvang”.
Hy sê verder sulke pare kan die mis ontvang as hulle hul sondes bely het. “Ek wil priesters herinner die biegstoel moet geen martelkamer wees nie; eerder ’n ontmoeting met die Here se genade.” Hy voeg by: “Ek wil ook daarop wys dat die brood met die mis geen prys vir die volmaaktes is nie, maar ’n kragtige geneesmiddel en voeding vir die swakkes.
“As ons dink alles is swart en wit,” gaan Franciskus voort, “versper ons soms die pad van genade en groei.”
DIT is hierdie piepklein voetnoot wat die rebellie teen sy gesag aanvuur. Tot ’n derde van die biskoppe bied passiewe weerstand teen die verandering, en ’ n klein minderheid doen dit aktief. Die leier van die faksie is Franciskus se aartsvyand, kardinaal Raymond Burke.
Nadat Raymond eers uit sy pos by die Vatikaanse hof en toe uit die liturgiese kommissie ontslaan is, het hy in die toesighoudende raad van die Ridders van Malta beland – ’n liefdadigheidsorganisasie wat deur die ou Katolieke aristokrasieë van Europa bestuur word. In die herfs van 2016 het hy een van die orde se hoogste amptenare, grootkanselier Albrecht Freiherr von Boeselager, afgedank – glo omdat dié nonne toegelaat het om kondome in Mianmar te versprei. Dit is iets wat nonne taamlik wyd in die ontwikkelende wêreld doen om kwesbare vroue te beskerm.
Albrecht het hom op die pous beroep. Die uitkoms was dat Franciskus hom heraangestel het en ’n ander man aangestel het om die meeste van Raymond se pligte oor te neem.
Intussen het Raymond ’n nuwe stryd aangeknoop wat al so na moontlik daaraan gekom het om die pous van kettery te beskuldig. Saam met drie ander kardinale het Raymond ’n lys met vier vrae saamgestel om te bepaal of Amoris Laetitia strydig met die vorige leerstellings is of nie. Ná sy afdanking het Raymond die vrae openbaar gemaak en gesê hy is bereid om ’n formele verklaring uit te reik dat die pous ’n ketter is as Franciskus nie daarop wil antwoord nie.
Natuurlik verteenwoordig Amoris Laetitia ’n breuk van vorige leerstellings.
“Wat beteken dit as ’n pous ’n vorige pous weerspreek?” vra Ross. “Dit is merkwaardig hoe naby Franciskus daaraan gekom het om van sy onmiddellike voorgangers te verskil. Net 30 jaar nadat Johannes Paulus II Veritatis Splendor uitgevaardig het (met die grondbeginsels waarop die Kerk morele leiding moet gee), lyk dit of Amoris Laetitia dit weerspreek.”
Dit beteken pous Franciskus weerspreek opsetlik ’n man wat hy self tot heilige verklaar het. Dit sal hom kwalik pla, maar sy eie sterflikheid kan dalk wel. Om Franciskus se veranderings deur te voer, sal die kerk dit eers moet aanvaar. Hy is nou 80 en het net een long. Sy teenstanders bid dalk vir sy spoedige dood, maar niemand weet of sy opvolger hom sal probeer weerspreek nie – en daardie vraag sal nou die toekoms van die Katolieke Kerk bepaal.