Huisgenoot

Allergies vir rooivleis ná bosluisbyt

Nadat die parasiet haar gebyt het, is Jeandré allergies vir sekere kosse en kan sy nie meer haar geliefde braaivleis eet nie

- Deur PIETER VAN ZYL

HAAR gunsteling was ’n boereworsr­ol. ’n Tjoppie oor die kole was ook lekker, maar niks kon kom by ’n lekker, sappige stukkie wors nie . . . Maar dit was in die goeie ou dae – die dae voor sy langs die vleisbraai­vuur moes verduideli­k: “Ek is allergies vir braaivleis.”

“Mense verstaan dit nie,” sê Jeandré Oosthuizen (20). “Hulle dink net ek is vol nonsens en karring: ‘Ag, eet hierdie klein stukkie vleis.’ Hulle besef nie hoe gevaarlik dit is nie.”

Sy haal haar bril af om die trane weg te vee terwyl ons in ’n ontbytplek in George gesels oor haar seldsame allergie wat ná ’ n bosluisbyt toegeslaan het. Sy eet vanoggend net eiers op roosterbro­od, want dis nie net braaivleis wat sy nie meer kan eet nie. Sy is allergies vir alle vleis van soogdiere soos skaap, bees en vark, en vir enige produkte van hierdie diere, soos ’n kapsule of geurmiddel wat gelatien bevat of hoenders wat beenmeel gevoer is. Hier aan die ontbyttafe­l is spek taboe – ook melk, botter, kaas en jogurt.

Nadat verskillen­de huisdokter­s kopgekrap het oor wat presies die allergiese reaksie by haar veroorsaak, is hierdie allergie vir rooivleis in Desember verlede jaar by haar gediagnose­er. Dit was nadat ’n bloedtoets volgens ’n patoloog se verslag ’n baie hoë vlak van die koolhidraa­t alfa-gal in haar bloed getoon het.

Dié koolhidraa­t kom in die vleis van soogdiere buiten mense en ander primate voor. In Amerika het navorsing getoon die Lone Star-bosluis, waarvan verwante spesies in Suid-Afrika voorkom, kan die “draer” wees van die alfa-gal-koolhidraa­t nadat dit op soogdiere gevoed het.

Ons word dan op verskillen­de maniere gesensitee­r, vertel prof. Mike Levin van die Allergie stigting van Suid-Afrika. Wanneer die koolhidraa­t met ’n bosluisbyt aan die mens oorgedra word, kan dit in seldsame gevalle die mens sensitief maak vir die alfa-gal-koolhidraa­t en ’n allergiese reaksie op rooivleis en verwante diereprodu­kte veroorsaak.

“My dood was altyd boereworsr­olle,” sê Jeandré en lag wrang, want nou kan dit haar letterlik in ’n koma laat verval en haar dood beteken. Sy kan wel vis en pluimvee soos hoender en volstruis eet. Maar moenie dink sy kan vir haar ’n stukkie hoender eenkant op die rooster braai nie. As rooivleis aan die rooster geraak het en haar hoender met daardie gedeelte in kontak kom, is dit genoeg om ’n allergiese reaksie te ontlok. Selfs wanneer haar kêrel, Kevin Fry (19), haar soen nadat hy vleis geëet het, kry sy ’n veluitslag.

Jeandré se ma, Jorita (48), kyk met medelye na Jeandré terwyl sy vertel van haar lippe wat soos “trekkerban­de opgeswel het” en die nagte wat sy nie kon asem kry nie voor hulle uitgevind het wat fout is.

Dan sug Jorita: “Watter erger allergie kan ’n mens in Suid-Afrika hê as vir rooivleis?”

WANNEER die res van die gesin – Jorita, haar kêrel, Mark Jacobson ( 54), haar seun, Jacques (24) en sy verloofde, Tasha Jacobson (25), braai – gaan maak Jeandré haar eie kos, soos pasta met hoender, in die kombuis.

Sy leef na aan die natuur in Denneoord, ’n uitbreidin­g van George in die Suid-Kaap waar bokke en ander diere uit die omliggende woude gereeld in hul oorgroeide tuin kom kuier. Vandaar kan die gesin se drie katte en drie honde

maklik bosluise in die huis inabba.

Op 14 Julie verlede jaar het ’n bosluis haar op haar linkervoet gebyt. Sy was in die salon waar haar ma as haarkapper werk toe dit vir haar begin voel asof haar voet “aan die brand” is en sy die bosluis op haar vel sien. Sy gil toe: “Bring die tweezer, ma!” Maar vandag vertel sy: “Dit was die verkeerdst­e ding wat ek kon doen.”

Jeandré het sedertdien uitgevind dit is beter om nie ’n bosluis te probeer aftrek nie, want sy pootjies en bek kan aan jou vel afbreek en jou verder besmet. Die gogga moet eerder met die soort ys verwyder word wat vir vratjies gebruik word. Dit kan ook versigtig – sonder om druk op die bosluis se lyf uit te oefen – gedoen word met ’n spesiale haartanget­jie met ’n fyner punt as die gewone een waarmee wenkbroue gepluk word.

’n Maand later het Jeandré uit die bloute ’n allergiese reaksie getoon. “My hele liggaam het uitgeslaan; dit het soos masels gelyk,” vertel sy. Sy het ’n paar uur tevore braaivleis geëet, maar hulle het gedink sy is dalk allergies vir die tamatie op die braaibrood­jies. Eers later het dit geblyk dit was haar eerste allergiese reaksie op rooivleis.

Sy het by die apteek antihistam­ien gekry en die uitslag het ’n paar dae later verdwyn.

Op 12 November is sy weer deur ’n piepklein bosluisie gebyt; dié keer aan die been. Aanvanklik het sy geen reaksie op die byt getoon nie, maar enkele dae later, op 19 November, het sy om halfdrie die oggend wakker geskrik nadat sy die vorige aand ’n stukkie wors geëet het.

“Ek kon nie my gesig voel nie. My lippe wou bars. Ek het soos Angelina Jolie gelyk, maar nie op ’n goeie manier nie. Om al my litte was groot, rooi kolle. Dit het gevoel asof warm sement deur my are loop.”

Haar ma het vir haar antihistam­ienpille ingejaag, maar die uitslag was so hardnekkig dat dit eers twee dae later opgeklaar het.

Drie dae later, nadat Jeandré die vorige aand ’n steak geëet het, het sy weer om halfdrie die oggend wakker geskrik. Sy het gesukkel om asem te kry, haar gewrigte het gepyn en haar arms het gejeuk. Herhaaldel­ike gebruik van ’n asmapompie en antihistam­ien het verligting gebring, maar sy het steeds die volgende dag gevoel asof ’n bus oor haar bors en keel gery het, sê sy.

Nadat ma en dogter haar simptome op Google ingetik het, het hulle begin vermoed sy het dalk ’n allergie vir rooivleis ontwikkel en ’n dokter gevra om ’n bloedtoets te doen. “Ons het gedink dis dalk die MNG-geurmiddel in die wors. Tog net nie die tjoppies nie . . . ” onthou Jorita.

Op 12 Desember het die uitslag van die bloedtoets hul vermoede bevestig en ’n rooivleisa­llergie is amptelik by haar gediagnose­er – toevallig op dieselfde dag dat Burger King ’n tak in George geopen het. “Ons was almal so opgewonde daaroor,” oor, sê Jeandré, wat nou dalk nooit een van dié bekende burgers sal kan proe nie.

Selfs al eet sy hoender, moet sy seker maak die meul waarin die vleis gemaal is, is nie ook vir rooivleis gebruik nie.

Dis sedert haar diagnose ’n oneindige stryd om seker te maak Jeandré kry geen neweproduk­te van soogdiere in nie. Stowwe soos gelatien, keratien, vitamien D3 en nog vele ander is vir haar op die gevaarlys. Jorita het ’n vergrootgl­as gekoop om die bestanddel­e op etikette te fynkam.

Jeandré skryf nou selfs aan die vervaardig­ers van ontbytkos en medisyne om seker te maak hul produkte bevat geen spore van soogdierpr­odukte nie. Sy het roomys met kokosneutr­oom leer maak en gebruik seep sonder dierevette.

’n Kenmerk van die allergie is ’n vertraagde reaksie nadat die persoon aan rooivleis of ’n neweproduk blootgeste­l is; daarom is dit soms moeilik om vas te stel wat presies die reaksie veroorsaak. Die geur van vleis wat gaargemaak word en selfs biltong in ’n winkel het haar al laat naar word. By ’n alfa-gal-steungroep op die internet het Jeandré en Jorita al waardevoll­e raad gekry. “Wanneer haar kopvel begin jeuk en haar mond swel, kan ek seker wees sy gaan tussen drie en ses uur later ’n reaksie hê,” weet Jorita nou.

Jeandré loop nou met ’n adrenalien­spuit in haar handsak rond vir ’n noodgeval.

“Dis nie lekker nie,” sê sy. “Maar ek maak die beste daarvan eerder as om alewig te kla. Ek wil net veral ouers hiervan bewus maak.

“Ma’s, voor julle jul babas op die gras neersit, kyk uit vir bosluise. Jy weet nie wat in hul ingewande skuil nie.”

‘Ons het gedink dis dalk die MNG-geurmiddel in die wors. Tog net nie die tjoppies nie’

 ??  ?? “En ek was altyd so lief vir braaivleis.” Jeandré Oosthuizen van George het onlangs uitgevind sy het ’n seldsame allergie vir rooivleis en alle byprodukte wat van soogdiere afkomstig is.
“En ek was altyd so lief vir braaivleis.” Jeandré Oosthuizen van George het onlangs uitgevind sy het ’n seldsame allergie vir rooivleis en alle byprodukte wat van soogdiere afkomstig is.
 ??  ?? LINKS: L Jeandré raak emosioneel wanneer sy oor haar allergie praat, veral omdat mense dink sy sit aan. LINKS BO: Haar lippe het in November opgeswel weens die allergie. REGS BO: ’n Uitslag wat soos masels lyk, is ook ’n simptoom van dié allergie.
LINKS: L Jeandré raak emosioneel wanneer sy oor haar allergie praat, veral omdat mense dink sy sit aan. LINKS BO: Haar lippe het in November opgeswel weens die allergie. REGS BO: ’n Uitslag wat soos masels lyk, is ook ’n simptoom van dié allergie.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa