Huisgenoot

Charlize se seun lyk weer soos meisie

Die wêreld gons nadat die oopkop Charlize haar Jackson weer soos ’n meisie laat aantrek het

- Saamgestel deur KIRSTIN BUICK

HULLE is die toonbeeld van geluk op die foto’s van hul gesinsbeso­ek aan Disneyland. Die ma straal en kloek liefdevol oor haar kinders, en haar bloedjies lag uitbundig. Albei spruite is soos meisies aangetrek, maar die een is ’n seuntjie. Toe die aktrise Charlize Theron (42) haar kinders vroeër vandeesmaa­nd na dié pretpark neem om haar aangenome seun, Jackson, se vyfde verjaardag te vier, was hy aangetrek in ’n spanbroek en ’n bypassende valletjies­bloes, bandjiesko­ene en twee bollatjies weerskante van sy kop. Kleinsus August (2), wat ook deur Charlize as baba aangeneem is, was stemmig geklee in ’n grys blomrokkie.

Toe die gesin die park verlede jaar besoek het om Jackson se vierde verjaardag te vier, was hy ook in meisieskle­re aangetrek. Hy het daardie dag ’n pienk balletromp­ie en pienk tekkies gedra.

Hy is ook al voorheen afgeneem in ’n pienk-en-wit streeprok en ’ n prinses Elsa-pet kompleet met ’n lang wit vlegsel net soos die geliefde Frozen-karakter.

Dis duidelik die Oscar-bekroonde aktrise gun haar kinders die vryheid om hulself uit te druk nes hulle wil.

Haar kinders is gelukkig – en basta met sosiale verwagting­s, glo sy.

Tog het dit in die sosiale media gegons oor haar besluite. “Hoekom sal jy ’n swart seuntjie aanneem en hom dan verneder?” het ’n Twitter-gebruiker laat hoor. Nog een het getwiet: “Dit is ’n swart seuntjie; nie ’n wit meisie met blonde hare nie. Jou jis moet geskop word hiervoor.”

Maar daar is niks verkeerd met seuns wat meisieskle­re dra nie, het dr. Harold Koplewicz in reaksie op die bohaai oor die foto’s laat hoor. Hy is die stigter en voorsitter van die New Yorkse Child Mind Institute, ’n organisasi­e sonder winsbejag wat op kinders se geestesges­ondheid fokus.

“Kinders jonger as vyf jaar speel dikwels speletjies waar hulle mooi aantrek,” sê hy. “Die punt is: Jy het ’n gesonde en gelukkige seuntjie wat net daarvan hou om hom uit te vat in mooi klere.”

Aaron Barksdale, ’n popkultuur­rubriekskr­ywer, het Charlize ook geloof omdat sy haar seun toelaat om hom uit te druk.

“Charlize het haar seun die geleenthei­d gegee om gender verder te verken as bloot die binnestels­el waarvolgen­s die samelewing seuns en meisies indeel,” het hy vir die webtuiste Refinery29 geskryf. “Dit is nie net ’n voorbeeld van liefdevoll­e ouerskap nie; dis ’n voorbeeld van vryheid.

“Charlize laat Jackson toe om die swart seuntjie te wees wat hy wil wees.”

DIS juis haar rol as ma wat die Suid-Afrikaans gebore aktrise voorberei het vir haar jongste fliekrol – dié van ’n oorwerkte ma van drie in die komiese drama Tully. Jason Reitman is die regisseur en die draaiboek is deur Diablo Cody geskryf. Dit is dieselfde span saam met wie Charlize in 2011 aan die ongemaklik eerlike fliek Young Adult gewerk het.

Sy het onlangs op Instagram ’n eerste kykie na die fliek gedeel. In die video is amper geen dialoog nie, net die aanhoudend­e gehuil van ’n baba terwyl Charlize, wat molliger en afgerem lyk, agter haar kinders aan hardloop, borsmelk uitpomp en op die rusbank aan die slaap raak terwyl hulle ’n chaos veroorsaak.

Die lokprent eindig met Charlize wat die deur oopmaak vir ’n vrou (gespeel deur Mackenzie Davis) wat sê: “Ek’s Tully. Ek is hier om na jou om te sien.”

Charlize het onlangs aan die Amerikaans­e tydskrif People gesê sy sou nooit die rol van Marlo in die fliek, wat in April uitgereik word, kon vertolk as sy nie self ’n ma was nie.

“As jy hoor jy moet moeg en oorwerk lyk vir ’n rol, is dit nie moeilik om te onthou hoe daardie eerste paar maande met ’n pasgebore baba voel nie,” het sy gesê.

“Ek dink dus die fliek het op die ideale tyd na my kant toe gekom,” sê Charlize.

“Daar is soveel druk op ouers om alles in hul lewe volmaak te balanseer, en om dit met ’n glimlag te doen. Ek wou dus ’n storie vertel wat vir ouers sê die lewe is baie moeiliker vir ons wat ouers is, en dis oukei as jy hulp moet kry.” BRONNE: PEOPLE, VANITY FAIR, REFINERY29, DAILY MAIL, VARIETY

 ??  ?? LINKS en REGS: Charlize Theron moes behoorlik bontstaan met die ondeunde Jackson en sy spelerige kleinsus, August, op hul besoek aan Disneyland in Kalifornië. ONDER: Charlize sien geen fout met Jackson se kleredrag nie.
LINKS en REGS: Charlize Theron moes behoorlik bontstaan met die ondeunde Jackson en sy spelerige kleinsus, August, op hul besoek aan Disneyland in Kalifornië. ONDER: Charlize sien geen fout met Jackson se kleredrag nie.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa