Huisgenoot

Man vir ewig geknou weens sy pa se geweld in sy ouerhuis

- ANONIEM

was ’n kleuter. Ek onthou hoe my ma huilend en smekend saam met my agter die yskas weggekruip het toe die man wat ek pa noem sy polisiegew­eer op ons rig en dreig om ons “vrek te skiet”.

Ek was vyf jaar oud toe ek toekyk hoe my ma met die vuis geslaan word. Ek onthou haar gille, sy gevloek, die bloed.

Ek onthou ook hoe vir my gesê is: “Jy is nie my kind nie; jy’s ’n ander man s’n.”

Ek onthou vaagweg ek is as jong kind deur volwasse hande betas. Het dit regtig gebeur of het ek my verbeel? Ek was steeds ’n kind toe ek agterkom ek hou van ander seuntjies. En ek was net ses toe ek betrap is waar ek met die bure se seuntjie “speel”.

Ek is genadeloos geslaan. Toe die juffrou oor die merke aan my lyfie vra, het ek vertel ek het geval. Sy het my nie geglo nie, maar dit daar gelaat.

As tiener het ek in die lang gras by die treinspoor gaan wegkruip om nie die gille en vuishoue en goed wat stukkend gegooi word te hoor nie.

Ek was ’n tiener wat vir sy ma probeer opstaan en haar folteraar by die polisie gaan verkla het.

In st. 9 het ek genoeg gehad van die geweld tuis en afknouery by die skool omdat ek anders was, die bleeksiel wat met kos gegooi en as ’n “moffie” geskel is.

Ek het ’n hand vol slaappille gedrink. Rustig gevoel, salig en toe niks. Maar in my diepe slaap is ek in my kamer gevind.

Ek was in matriek toe my polisiepa oornag verdwyn. Vir die eerste keer was daar vrede in ons huis en het ons gelag. Ek was gelukkig.

Vandag is ek ook ’n man. Maar ek sukkel steeds ná al die jare om ander mense te vergewe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa