DIE PRENTJIE ELDERS
Dit is nie net die Kaap wat bekommerd moet wees oor water nie.
Die gemiddelde damvlak in die OosKaap was teen middel Januarie 59,6%, vergeleke met die Wes-Kaap se 26%.
Die Nelson Mandelabaai-metro (NMB) se situasie was veral benard. Maar anders as die Wes-Kaap, is die Oos-Kaap ’n gemengde reënvalstreek en is daar hoop op somerreën. Die NMB wil R3 biljoen se ontsoutingsaanlegte in die loop van vier jaar bou. Dis nog onduidelik hoeveel die staat sal finansier en hoeveel plaaslike belastingbetalers sal moet opdok.
In die Noord-Kaap was damvlakke in opvanggebiede waar dit goed gereën het 76,6%. Maar elders, soos in Namakwaland, was dit bitter droog.
KwaZulu-Natal het verlede somer goeie reën gekry ná die droogte van 2015 en ’16, maar intussen het damvlakke teruggeval tot 49,%, met ’n normaalweg droë winterseisoen wat voorlê.
Die Vrystaat se damvlakke is 65,1%, Limpopo s’n 65,7% en Noordwes s’n 68,7%. Dit is volgens kenners nog nie kommerwekkend nie, maar hulle maan ook hier kan daar nie op historiese reënval staatgemaak word nie.
Gauteng se damvlakke het danksy goeie reënval laat verlede jaar van sowat 58% tot 70% gestyg.
Volgens Anthony het die amptelike nasionale waterbronstrategieplan reeds in 2004 gewaarsku daar sou teen 2025 ’n nasionale watertekort wees. Weens jare lange onderbesteding deur veral die nasionale regering, maar ook munisipaliteite, is te min nuwe damme gebou en waternetwerke nie goed onderhou nie, wat tot watervermorsing lei, sê Anthony. Hy meen R80 biljoen per jaar moet oor die volgende dekade bestee word om die agterstand met onderhoud uit te wis.
Volgens ’n verslag van die Wêreldnatuurlewefonds kan wateraanvraag landwyd teen 2030 die wateraanbod met 17% oorskry. Alle Suid-Afrikaners moet dus anders begin dink oor hul waterverbruik.