Huisgenoot

Hoe oorleef jy op 25 L water per dag?

Die Huisgenoot-joernalis Joanie Bergh het getoets hoe sy sal leef met dié kwota water wanneer Dag Zero na verwagting op 21 April vir Kapenaars aanbreek

- Foto’s: MISHA JORDAAN

DIT is die eindtyd, sê ’n gryskopvro­u in die supermark uitasem terwyl sy die 12de 5 L-waterbotte­l in haar trollie laai. “Minder as 90 dae tot . . . wat noem hulle nou weer daardie dag?” vra sy dringend. “Dag Zero,” help ek haar. “Ja, Dag Zero; daardie dag sonder water,” sê sy.

Ek stap verby die rak met koerante. Op die voorblad van ’n dagblad staan die Kaapstadse burgemeest­er, Patricia de Lille, by een van die talle waterpunte waar Kapenaars na verwagting van 21 April hul daaglikse kwota van 25 L elk sal moet gaan haal. Die Kaap beleef die ergste droogte in die afgelope eeu en die damme word vinnig leër (sien die storie op bl. 8).

As Dag Zero wel aanbreek, sal Kaapstad die grootste stad ter wêreld word wat tot dusver sonder water moes wees, berig die internasio­nale media.

Sal ek ’n week lank met net 25 L water per dag kan klaarkom, wonder ek. Ek het besluit om uit te vind nog voor die gevreesde Dag Zero aanbreek.

Ek koop vyf 5 L-bottels en maak ’n opname van wie en wat alles daarop moet oorleef: Ek, my golden retriever, Reuben, ’n vetplant en ’n bonsaiboom­pie.

Ek bel my ma in die Vrystaat en vertel haar van my plan.

“O, dis maklik,” sê sy terwyl die donderweer in die agtergrond dreun.

“Die ou mense het geglo jy kan jouself met net ’n koppie water en ’n waslap was.”

Vir my klink dit ietwat makliker gesê as gedaan.

SO HET EK DIT GEDOEN

Dag 1

Ek begin ten spyte van die kommerwekk­ende konteks hardop lag. Soos Fiela vir Benjamin Komotie gewas het in ’n skottel in die fliek Fiela Se Kind, sit ek nou in die bad met ’n waslap en 1,5 L water. In daardie selfde water het ek netnou my hare gewas en afgespoel – oor die bad se rand en met ’n prop in die bad om die water op te vang. Dit was koud, want ek het die water nie eers gekook nie.

Ek gebruik ’ n halwe koppie water (125 ml) vir tandeborse­l in die oggend en weer in die aand, en my hond drink 1 L water vir die dag. Deur die loop van die dag drink ek altesaam 4 L, waarby die koffiewate­r vir drie koppies ingesluit is. Ek maak kos sonder om water te gebruik. Ek sit die dag se vuil klere in ’n emmer met 2 L seepwater en laat dit oornag staan. Ek spoel die toilet net wanneer nodig (aaklig!) en gebruik altesaam 5 L daarvoor.

Totale gebruik: 13,75 L

Dag 2

Ek gaan gim toe en neem 1 L drinkwater saam. Ek stap ná die tyd sweterig by die huis in en kyk met verlange na my stort. Nee, trek die 1,5 L-bottel water nader, oortuig ek myself, en was soos die vorige dag daarmee my hare en lyf in die bad. Ek besluit om 500 ml water elke dag by my wasbak neer te sit vir hande was. Dit bring my basiese watergebru­ik vir hierdie dag, en vir elke dag van die res van die week, op 11,25 L te staan. Dit sluit in 4 L drink- en koffiewate­r vir my en 1 L water vir my hond, 1,5 L vir was en hare was, 250 ml vir tande borsel, 500 ml vir hande was en 4 L vir klere was en uitspoel. Ek was dié dag en die vorige dag se skottelgoe­d met 3 L. Ek gebruik die 2 L gryswater waarmee ek die vorige dag se klere uitgespoel het om die toilet te spoel, plus nog 2 L. My lyf, hare en klere voel net so skoon soos in die dae voor die waterkrisi­s. Net die min toiletspoe­l bly ’n pyn.

Totale gebruik: 16,25 L

Dag 3

Ek raak bewus van elke druppeltji­e water wat uitstort. Dit voel soos goud wat ’n mens bakhand in jou hande probeer beskerm. My 1,5 L-oggend-“storte” in die bad raak lekker, en ek wonder of ek nie met nog minder kan klaarkom nie. Ek moet my hond bad en gebruik ’n 1 L-spuitbotte­l om hom te was en af te spoel. Ek maak vir myself kos – hoender en slaai – en gebruik 250 ml water om die kropslaai, tamatie en komkommer af te spoel. Ek spaar drinkwater deur een glas wyn (250 ml) te drink pleks van koffie.

Ek laat die bietjie skottelgoe­d tot die volgende dag wag. Ek spoel die toilet met 4 L.

Totale gebruik: 16,25 L

Dag 4

Ek begin skaam kry oor hoe ek deur my lewe al water vermors het. Vandag lees ek dat min water vir die inwoners van informele nedersetti­ngs geensins snaaks is nie; hulle is gewoond daaraan om so te leef. Motor was is volgens die streng waterbeper­kings taboe. Dit help darem om my motor elke aand met ’n sagte, nat lap af te vee. Ek koop wegneemkos en

spaar skottelgoe­dwater. Benewens my basiese watergebru­ik, gebruik ek 4 L vir die toilet.

Ek koop vier vanieljege­geurde kerse en laat dit in die badkamer brand.

Totale gebruik: 15,25 L

Dag 5

Ek wys vir Lulu, my engel-huishulp, die vyf 5 L-waterbotte­ls vir die dag en sê sy moet kyk met hoe min daarvan sy kan klaarkom. Sy lag en sê sy kan dit maklik doen. Die seepwater waarin ek elke aand die dag se klere laat lê, gebruik sy om my tweeslaapk­amerwoonst­el se vloere te was. Vandag gebruik ek benewens die water vir my basiese behoeftes 1 L om spinasie, pampoen en koeskoes te kook en 3 L vir skottelgoe­d was. Omdat die wasgoedwat­er vloerwaswa­ter geword het pleks van toiletspoe­lwater, gebruik ek 7,5 L vir laasgenoem­de.

Totale gebruik: 22,75 L

Dag 6

Ek gooi 5 L in die bad om my beddegoed en drie handdoeke te was, laat dit in seepwater week en trap dit skoon, voor ek dit met nog 5 L uitspoel. Die afspoelwat­er gebruik ek weer vir die toilet. Ek eet uit; daarom hoef ek nie skottelgoe­d te was nie.

Totale gebruik: 21,25 L

Dag 7

Ek koop elke week vars madeliefie­s vir my huis en sit die twee bosse in vase met altesaam 500 ml water. Ek gooi my plante nat met 1 koppie (250 ml) water. Ek koop wegneemkos en het weer geen skottelgoe­d nie. Ek spoel die toilet met 4 L water. Ek was myself vir oulaas met 1,5 L koue water. Ek stem saam met my ma: Ek is seker ’n koppie water en ’n nat waslap is haalbaar.

Totale gebruik: 16 L

My week se waterverbr­uik is heelwat minder as wat ek gedink het dit sou wees, en ek het steeds my gewone lewenstand­aard gehandhaaf. Die grootste uitdagings was om myself in die bad te was pleks van te stort, met koue water my hare en lyf te was (gelukkig is dit somer!) en met die hand wasgoed te was. Dit was ook moeilik om myself voortduren­d te herinner om spaarsaam met die water te werk.

Dalk is die prentjie nie so somber soos dit lyk nie en het Dag Zero se donker wolk tog ’n silwer randjie.

 ??  ?? Oorleef op 25 L per dag. Dit kan gedoen word! Met ’n paar klein alledaagse veranderin­gs kan elke druppel tel.
Oorleef op 25 L per dag. Dit kan gedoen word! Met ’n paar klein alledaagse veranderin­gs kan elke druppel tel.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa