Huisgenoot

Boer Johan maak ’n plan met liefde

Ondanks die giftonge se gemor oor Johan het hy eindelik liefde gevind – by die vrou wat hy eerste uitgestem het

- Deur JACO HOUGH- COETZEE

HY IS die mees omstrede boer in die land, die man wat volgens giftonge nooit liefde sou vind nie. Maar hier sit hy vandag sowaar : smoorverli­ef met die vrou van sy drome knussies teen hom aangevly.

Lanklaas is daar onder kykers so gegons soos oor boer Johan se kaskenades in die afgelope seisoen van die kykNETreek­s Boer Soek ’n Vrou.

Die beesboer van Carolina in Mpumalanga het dit kort-kort in die sosiale media ontgeld. Eers omdat hy een van die vroue wat vir hom ingeskryf het, Christa, huis toe gestuur het nadat hy vir haar gesê het sy het genoeg wyn gedrink; toe omdat sy romanse met nog een, Marilyn, van korte duur was.

Maar vandag onthul boer Johan Uys (61) eksklusief aan Huisgenoot: Hy het toe al die tyd wel liefde in die reeks gevind. En dit boonop met Marita Schoombie (56), die eerste vrou wat hy destyds op sy plaas uitgestem het.

Ons ontmoet die verliefde paartjie by Marita se woonstel op Krugersdor­p, en albei is duidelik verlig dat die wêreld nou maar mag weet van hul verhouding.

“Marita is ’n merkwaardi­ge en sterk vrou, want deur alles wat sy is, het sy nooit haar glimlag verloor nie,” sê Johan oor al die hartseer wat Marita in haar dra en waarvan hy tydens die verfilming nie bewus was nie. Toe hy daaroor praat, skiet sy oë vol trane, net soos dit ’n paar keer gebeur het tydens die verfilming van Boer Soek ’n Vrou. Ook hieroor is in die sosiale media met hom die spot gedryf – die aanklag was dat hierdie boer darem te maklik trane stort.

Marita sê sy kan dié gespot nie verstaan nie. “Ek is ook ’n emosionele mens en raak bewoë wanneer ek hartseer is. Dit is vir my ’n mooi eienskap, een wat ek graag in my lewensmaat wil sien.”

Op 5 November verlede jaar, presies vier maande nadat sy Johan se plaas in die reeks verlaat het, het hy haar gevra “om sy girl te wees”.

Weens ’n vertroulik­heidsklous­ule wat deelnemers aan die reeks onderteken het, het die paartjie niks verklap voor die reeks tot ’n einde gekom het nie.

Maar nou mag almal maar weet, sê Johan verlig: Hy het die skoot hoog deur.

DIE tweetjies se pad saam het begin toe Marita vir Johan in Oktober verlede jaar, na afloop van die verfilming van die reeks, kontak en vir koffie nooi. “Ek wou afsluiting kry, maar ook die vrae beantwoord wat hy my op die plaas gevra het,” verduideli­k Marita.

Johan vertel hoe sy destyds op die plaas vinnig aan hom genoem het dat sy

al deur twee egskeiding­s is, by iemand loseer en haar ondernemin­g verloor het.

“Hy wou meer daaroor weet, maar ek kon hom nie beantwoord nie; ons was nooit alleen by mekaar nie,” vertel sy.

Tydens hul eerste koffieafsp­raak, wat drie uur geduur het, kon sy wel haar verhaal met hom deel. Die afgelope jare was haar pad besaai met siekte, dood en ander teëspoed.

In 2007 is Marita se suster oorlede nadat sy in die stort geval het. Sedertdien bly haar dogter, wat nou in matriek is, by Marita.

In 2013 het Marita ’ n vloerbedek­kingsonder­neming in Alberton gekoop, maar ’n paar maande later is borskanker by haar gediagnose­er. Die volgende jaar het sy ’n dubbele mastektomi­e ondergaan. Op dieselfde dag dat sy ontslaan is, is haar seun, toe 25, in die hospitaal opgeneem ná ’ n ernstige motorfiets­ongeluk. Dit het hom ’n jaar geneem om te herstel. Haar 30-jarige dogter het toe ook in 2014 kanker gekry en twee jaar later gesterf. En ook haar broer is in 2015 aan kanker dood.

Omdat sy in daardie tyd van teëspoed nie al haar aandag aan die ondernemin­g kon gee nie, moes sy die deure in 2016 weens finansiële probleme sluit. Verlede jaar het sy as boekhouer in Florida begin werk en by vriende loseer.

Vandag is hulle albei bly dat sy nie sy finale keuse tydens die uitstemron­de was en daardie tyd al ’n paartjie geraak het nie, vertel Marita.

Johan knik instemmend. “Nou het ons die geleenthei­d gehad om stelselmat­ig aan ’n verhouding te werk, sonder die druk van die program,” verduideli­k hy.

JOHAN kon in die reeks byna niks sê, doen of besluit sonder dat dit die wenkbroue onder sommige kykers laat lig het nie. Reeds toe sy gekose drie vrouegaste, Marita, Marilyn en Christa, op sy plaas gaan kuier, het sosialemed­iagebruike­rs hulle teen hom gewaarsku.

Groot was die verrassing toe Marilyn in die 10de episode sy finale keuse was en sy gesê het sy sal graag op die plaas agterbly. Toe hulle daarna ’n braai by haar familie en vriende bywoon, het die tweetjies soos verliefde tieners gegiggel.

Maar dié liefde was van korte duur, en Johan het alleen opgedaag by die vakansiena­week in die 12de episode.

Marilyn was van die begin sy eerste keuse, maar Johan dink vandag as daar meer tyd op die plaas was om die vroue beter te leer ken, sou hy tog eerder vir Marita bo Marilyn gekies het. Marita onthou hy het haar ná hul koffieafsp­raak gegroet met die woorde: “Ek sal jou weer sien.”

Daarna moes sy op die kassie sien hoe “lovey-dovey” Johan en Marilyn destyds was, maar dit pla haar nie, vertel Marita. “Ek sien dit in konteks; hulle was toe in ’n verliefde stadium. Nou konsentree­r ek net op ons verhouding.”

“Marilyn was die lekkerste, wonderliks­te ding wat gebeur het,” erken Johan. “Ek het op die plaas gestap soos ’n kat wat 10 bakke room geëet het. Ek was verlief tot oor my ore.”

Maar die verliefdhe­id het gou oorgewaai ná ’n uitval wat die twee gehad het oor ’ n kuierafspr­aak met haar ouers waarvoor Johan laat was. Dit gaan vir hom meer oor homself as oor ander mense, het Marilyn voor die kameras gekla. In ’n WhatsApp-boodskap het sy glo vir Johan geskryf: “Alles gaan net om jou. I am too f****** intelligen­t for your b*******.”

Oor hierdie en ander voorvalle tussen hom en sy kortstondi­ge liefde wil Johan nie verder kommentaar lewer nie. “Dit is mos verby en ek het die wonderliks­te vrou van my drome ontmoet.” M ARITA is senuagtig oor wat die publiek se houding gaan wees noudat hul verhouding bekend is. Tot dusver was dit net hul familie en ’n handjie vol vriende wat daarvan geweet het. Wanneer berigte oor Johan verskyn, het van hulle haar laat weet: “Het jy gesien wat sê die mense nou weer oor Johan?”

Maar sy verstaan dit nie. “Hoe kan iemand wat iemand anders nog nooit eens ontmoet het nie, ’ n mening oor daardie mens uitspreek? TV-kykers het ook geen idee van die konteks van die inhoud wat hulle in die program sien nie.”

Daar was ook vriende wat vir haar gesê het sy moet seker maak van haar saak, maar hulle is nie oorhaastig met hul verhouding nie. Sy gaan vir minstens die volgende jaar nog aan die Wes-Rand woon en werk en nie holdersteb­older by hom intrek nie.

Haar oë lag saam toe sy gesels. Het sy dalk wel nou ewige geluk gevind ná die swaar tyd wat sy die afgelope vyf jaar moes deurmaak?

Net die tyd sal leer, maar hier in haar sitkamer staan ’n kalender op die TV-kabinet met die woorde: “In alles dankbaar.”

Vier maande nadat sy Johan se plaas verlaat het, het hy haar gevra om sy girl te wees

 ??  ?? HOOFFOTO: Marita Schoombie en Johan Uys van Boer Soek ’n Vrou het nou geluk by mekaar gevind. INLAS: “Ek het die wonderliks­te vrou van my drome ontmoet,” sê Johan.
HOOFFOTO: Marita Schoombie en Johan Uys van Boer Soek ’n Vrou het nou geluk by mekaar gevind. INLAS: “Ek het die wonderliks­te vrou van my drome ontmoet,” sê Johan.
 ??  ?? LINKS: Johan en Marilyn tydens ’n teer oomblik in die TV-reeks. BO: Hy het Christa vroeg reeds huis toe gestuur. HEEL BO: Marita is ’n merkwaardi­ge mens, want deur alles wat sy is, het sy nooit haar glimlag verloor nie, beskryf Johan haar.
LINKS: Johan en Marilyn tydens ’n teer oomblik in die TV-reeks. BO: Hy het Christa vroeg reeds huis toe gestuur. HEEL BO: Marita is ’n merkwaardi­ge mens, want deur alles wat sy is, het sy nooit haar glimlag verloor nie, beskryf Johan haar.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa