Huisgenoot

Nog ’n ma kry swaar ná kaalfotobl­aps

’n Tweede ma kry swaar nadat sy ’n gewaagde foto na ’n skoolgroep gestuur het

- Deur JACQUES MYBURGH

DIS die eerste dag van die nuwe skooljaar hier in Klerksdorp. In die oondwarm parkeerter­rein roep kaalvoetki­nders uitbundig na hul skoolmaats terwyl ouers by hul motor in die koelte onder die peperbome wag. Dis ’ n toneel wat vandag landwyd afspeel, maar hier in Noordwes se “Stad van Mense” is die nuwe jaar se klasrooste­rs, huiswerk en sportaktiw­iteite nie al waaroor oud en jonk gons nie.

Eintlik het dit al sowat agt maande gelede gebeur, dié onbedoelde fotoblaps deur ’n jong ma op die skool se WhatsApp-groepie vir gr. 4-wiskunde. Maande lank het lede van die groep haar teen nog verleenthe­id probeer beskerm. Tot onlangs, toe iemand besluit om dit wel wyer te deel – en nou is die selfiestok­foto van die bostuklose ma in die pienk broekie ver buite die grense van die Platinumpr­ovinsie bekend.

Nes die veelbespro­ke geval van Margaret van Wyk van Schweizer-Reneke, ook in Noordwes, wat in 2016 per ongeluk ’n privaat foto op ’n plaaslike WhatsAppho­kkiegroep geplaas het, word Linda* nou geteister deur onder meer mans met onwelvoegl­ike voorstelle.

Haar man, ouers en kennisse het laer om haar getrek. “Hoe kan daar mense wees wat so varkerig kan wees?” was haar ontstoke pa se reaksie toe ons hom bel. “Het hul ouers hulle nie reg opgevoed nie? Ons wil geensins oor die gebeure praat nie. Ons lewe is verwoes deur perverse mans.”

“Geen kommentaar,” was haar man se reaksie. “Dit het niks met enigiemand uit te waai nie.” Soos sy skoonpa wil hy nie sy naam genoem hê nie.

In Klersdorp is duidelik groot meegevoel met Linda omdat so ’n blaps enigiemand kon oorkom, maar dat sy harde bene kou weens al die ongewenste aandag oor wat veronderst­el was om ’n privaat foto te wees, is gewis. Weens die teistery moes sy al haar telefoonno­mmer verander en selfs haar Faceboek-profiel verwyder.

O EPS ek dink dis ’n verkeerde groep,” was die reaksie van die eerste ouer wat agt maande gelede die bostuklose foto in die wiskundegr­oepie oopgemaak het. “Skies,” het Linda gereageer.

Nog ’n ma het diplomatie­s geantwoord: “Toemaar (dit) gebeur!”

Linda het die groepie dadelik verlaat en dit het gelyk asof die saak nie verder sou uitkring nie, maar toe lek ’n skermgreep van die plasing op die groepie kort voor die begin van die nuwe skooljaar uit en kom dit aan die lig hoe Linda en lede van die groepie deesdae geteister word.

By haar en haar gesin se huis wapper die wasgoed in die droë somerwind. In die voortuin staan ’n wit motor. “Hier woon nie sulke mense nie,” antwoord ’n huishulp beskermend toe ons vra om met die huismense te praat.

By die skool, net nadat ’n sirene die einde van die dag aangekondi­g het, spoor ons die onderwyser op wat die WhatsApp-groepie vir wiskunde gestig het. Hy stem in om daaroor te praat mits hy naamloos kan bly.

“Toe die foto op die groep verskyn, het sy (Linda) haar uit die groep verwyder. Ek het ook onmiddelli­k die groep uitgewis. Ons almal het onderneem om die saak soos grootmense te hanteer en dit nie in die sosiale media te versprei nie. Ek weet nie wie was so koud en harteloos om dit nou te doen nie,” sê hy.

“Ek lees die kommentaar op Facebook en almal sê sy het net aandag gesoek deur dit daar te plaas, want deesdae kan ’n mens mos ’n WhatsApp-boodskap uitvee. Maar mense besef nie agt maande gelede was daai funksie nog nie daar nie.”

Buite die skool sit ’n ma in haar motor en wag vir haar dogtertjie. Die enjin luier, want weens die hitte hou sy die lugverkoel­ing aan.

Ja, sê sy simpatiek, sy ken Linda. Hul kinders is in dieselfde klas. “Dit is maar ’n groot skool hierdie. Jy groet die ander ouers wanneer hulle die kinders kom haal, maar almal braai en kuier nie noodwendig saam nie,” sê sy.

Volgens haar was sy nie op die WhatsApp-groep toe die foto daar beland het nie, maar sy kry Linda uit haar hart uit jammer. “Linda lyk soos ’n baie betrokke ma en ek kan my nie indink waardeur sy die afgelope tyd moes gaan wanneer mans jou so teister dat jy jou selfoonnom­mer moet verander nie.”

In die stad word ook gegis oor die vrou wat mense nou “Margaret die tweede” noem, maar by navraag wou Margaret nie kommentaar lewer oor Linda se ervaring nie.

Daar word bespiegel Linda het die foto moontlik geneem en gestuur omdat sy ’n mediese prosedeure aan haar borste moes laat doen of laat doen het en dat sy met die foto moes wys hoe die prosedure verloop het, maar dis nie bevestig nie. Maar landwyd het vroue gevoel Linda se lot kan enigiemand tref en dat die blaps opnuut ’n duur les vir alle gebruikers van WhatsApp en ander sosiale media is.

Dit is boonop nie net Linda wat deur mans geteister word sedert die selfiestok­blaps nie. Nog ma’s op die betrokke WhatsApp-groepie het oproepe gekry van wildvreemd­e mans wat hul besonderhe­de op die skermgreep van die voorval gesien het.

“Mans het my met haar verwar,” vertel Sarita*, nog ’n Klerksdorp­se ouer. “Ek het in die middernagt­elike ure oproepe gekry van mans wat my borste wil sien of kaalfoto’s wil hê. “My lewe is hel gemaak deur hierdie skermgreep. Hoe kan mans so varkerig wees en nie besef dat hulle mense se lewe verwoes nie?” Sarita sou intussen ook haar selfoonnom­mer verander. “Ek wou nie eens onlangs op my verjaardag my foon antwoord nie; ek was te bang dit is nog iemand wat met my die gek wou skeer.” Sy weet nie hoe dit met Linda gaan nie. “Ons ken mekaar nie regtig nie, maar ek kan dink sy gaan deur dieselfde hel as wat ek gegaan het.” Klerksdorp se ouers voel almal dieselfde oor die storie. Dit was nooit vir hulle ’n skandaal nie, maar in die sosiale media is ’n spektakel daarvan gemaak. “In hierdie stadium wil ek net met my lewe aangaan en die hele onaangenam­e storie vergeet,” sê Sarita.

OP REGSADVIES het Linda en haar familie ’n SMS aan Huisgenoot gestuur. “Baie dankie vir die geleenthei­d wat jy ons bied om ons storie te vertel,” skryf haar pa. “Ons sal ongelukkig in hierdie stadium geen onderhoude toestaan nie. Ons vertrou dat jy die inligting wat jy reeds het, met die nodige sensitiwit­eit sal hanteer.”

Haar regsvertee­nwoordiger, Cachet Loxton, wou ook nie uitwei oor die saak nie. “Tans sal ons kliënt nie op die gebeure kommentaar lewer nie en wil sy net met haar lewe aangaan. Dit was vir haar en haar naastes ’n traumaties­e tyd.” * Skuilname om die betrokkene­s se identiteit te beskerm.

 ??  ??
 ??  ?? Margaret van Wyk van Schweizer-Reneke het swaar geleef nadat ’n kaalfoto van haar op WhatsApp versprei het.
Margaret van Wyk van Schweizer-Reneke het swaar geleef nadat ’n kaalfoto van haar op WhatsApp versprei het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa