Demi-Leigh ontluik in wêreldburger
Ná twee warrelwindmaande van glans en reise is Demi-Leigh eindelik weer op besoek aan haar geboorteland
AL IS sy ver in die wêreld op een van haar vele reise saam met haar bestuurder, lyfwag en kameraman, dwaal Mej. Heelal se gedagtes kortkort terug na Suid-Afrika en haar familie en vriende om ’n vleisbraaivuur. “Ek mis vir seker ’n goeie stukkie braaivleis en natuurlik om Afrikaans te praat,” kom Demi-Leigh Nel-Peters se warm stem halfpad om die wêreld oor die foon uit Indonesië. Tydens haar besoek aan dié land in Suidoos-Asië gesels die 22jarige skoonheid telefonies met Huisgenoot. Dit is ’ n paar dae voor sy na Suid-Afrika sal terugkeer om hier te kom kuier, en sy begin nou huis toe verlang.
“Ek het grootgeword met my pa wat vyf tot ses keer – soms elke dag van die week – gebraai het. Daar was altyd ’n vleisbraaivuur aan die gang, of daar nou hoender, rump, mielies of ribbetjies op die kole was,” vertel sy nostalgies.
Sedert dié plat op die aarde Afrikaanse nooi uit Sedgefield in die Wes-Kaap se kroning verlede November as die mooiste in die heelal is Demi-Leigh se lewe ’n warrelwind van mediaonderhoude, gesellighede, geldsinsamelings en nog glansgeleenthede – en natuurlik wêreldreise. Maar met ons onderhoud kan sy eindelik die dae tel voor haar tuiskoms op 24 Januarie, die eerste keer dat sy as Mej. Heelal na haar geboorteland terugkeer.
“Ek kan skaars wag om dit saam met Suid-Afrika te vier,” vertel sy met ’n laggie.
“Ek dink wanneer ek die eerste keer huis toe kom, sal alles my eintlik eers regtig tref. Ek is nog ’n bietjie in ’n dwaal, ’n droomwêreld, en neem nog alles in . . .”
Haar stem is die ene opgewondenheid toe sy vertel van haar onlangse ontmoeting met Suid-Afrika se eerste Mej. Heelal, wat die kroon in 1978 gedra het.
Margaret Gardiner (58), wat die afgelope paar jaar as joernalis in Los Angeles onderhoude met glansmense voer, het Demi-Leigh genooi om haar vroeg in Januarie te vergesel na die Golden Globes in Beverly Hills, Kalifornië.
Toe skitter die enigste twee Suid-Afrikaners wat Mej. Heelal was – 39 jaar uitmekaar – saam op die rooitapyt. Albei was in swart geklee om soos die meeste ander vroue by dié geleentheid hul steun aan die #MeToo- en Time’s Up-veldtog teen seksuele teistering te betoon.
Vir Demi-Leigh was dit ’n groot oomblik. “Ek is so dankbaar dat sy na my uitgereik het en dat ek haar kon ontmoet,” sê sy oor Margaret. “Sy is ’n wonderlike vrou en het moeite gedoen om my met ope arms te verwelkom.”
Dit was vir haar “lewensveranderend” om dié aand in dieselfde vertrek as aktrises soos Angelina Jolie en Meryl Streep te kon wees.
Demi-Leigh het ook die kans gekry om van Hollywood se glansmense te ontmoet, soos die model Kendall Jenner, die TV-reeks The Sinner se Jessica Biel, die Netflix-reeks Big Little Lies se Reese Witherspoon en ook Gayle King, Oprah Winfrey se boesemvriendin. Toe sy met die sangeres Kelly Clarkson gesels, het hulle skoon opgewonde geraak oor SuidAfrika se seekoeie.
Demi-Leigh kan skaars uitgepraat raak oor die kragtige oomblik toe sy sien hoe Oprah, wat net ’n paar rye voor haar in die gehoor gesit het, opstaan en op die verhoog stap om die Cecil B. DeMilleprys te ontvang. Sy is die eerste swart vrou wat met dié gesogte Golden Globeprys vir haar lewenswerk vereer word.
“Om haar hartstogtelike toespraak te hoor en net in haar teenwoordigheid te wees het my oë vir ’n heel nuwe wêreld oopgemaak. ’n Mens besef net weer hoeveel geleenthede daar buite is. Dit was vir my ’n motivering om net nog harder te werk.”
Oor haar propvol dagboek kla sy nie, al beteken dit dat sy soms drie- of vieruur soggens moet opstaan om vir die dag reg te maak en dikwels eers weer laat tuiskom. “Ek wil soveel moontlik uit die jaar kry en soveel teruggee as wat ek kan,” sê sy dankbaar.
Die glansryke Mej. Heelal-kroningsaand in Las Vegas is nog vars in haar geheue. “Dit was ongelooflik om op daardie verhoog te wees saam met 92 meisies van oor die wêreld en om soveel verskillende tale te hoor. Dit het my geleer dit kos niks om vriendelik te wees nie en jy kort nie ’n taal om te kan kommunikeer nie. Al sal hulle jou dalk nie altyd verstaan nie, sal hulle altyd onthou hoe jy hulle laat voel het. Ook as ek nie gewen het nie, sou ek as ’ n ander mens van daardie verhoog afgestap het.”
Terwyl sy aan die kompetisie deelgeneem het, het sy nuwe vriendskappe gesmee, veral met Mej. Namibië, Suné January, wat haar kamermaat was, en met Mej. Brittanje, Anna Burdzy.
Die dag ná die kroning het Demi- Leigh na New York vertrek waar ’n luukse woonstel vir die volgende jaar haar basis is. Van daar reis sy die wêreld vol.
Sy deel die woonstel met Mej. Amerika 2017, Kára McCullough. “Dis wonderlik om iemand in die woonstel te hê wat my met klein goedjies kan touwys maak, soos hoe om met die wasmasjien te werk of watter eetplek om te besoek,” gesels sy.
“Ons het verskillende skedules en doen nie alles saam nie. Ons sal soms geleenthede saam bywoon, wat wonderlik is. Dis net lekker om daardie ekstra asem in die huis te hê. Dit help ook natuurlik baie met die verlang sodat ’n mens nie saans alleen by die huis sit nie.”
“Ons woonstel is sentraal geleë binne stapafstand van Central Park. Ek stap verskriklik baie; dis veel vinniger as om ’n Uber of taxi te haal. So dit gaan darem goed met die kardio,” sê sy en giggel.
Die verteenwoordigers van die Mej. Heelal-kompetisie terg haar dat sy “’n tipiese toeris in New York” is. “Ek sal ’n stukkie New York-kaaskoek in Time Square eet of net staan en alles inneem.
“Ek het die mooi Kersliggies beleef. Ek het vir die eerste keer geysskaats (in Bryant Park). Dit was ’n ramp, maar ek het dit steeds gedoen,” lag sy.
Sy het ook al ’n Broadway-toneelstuk gaan kyk en Charlize Theron se ster op die Hollywoord Walk of Fame besoek. “Stuur liefde vir Suid-Afrikaners, van Suid-Afrikaners,” het sy in sosiale media geskryf by ’n foto waar sy ’n soentjie blaas van Charlize se ster af.
AS Mej. Heelal word DemiLeigh self soos ’n ster behandel. Vertrek sy op een van haar wêreldreise, is dit met ’n gevolg. ’n Veiligheidsbeampte, kameraman en haar bestuurder, Esther Swan, gaan altyd
‘Ek mis ’n goeie stukkie braaivleis en om Afrikaans te praat’
saam. “Sy is in beheer van my rooster en van enige besluite oor my jaar as Mej. Heelal – watter geleenthede ek bywoon en by watter projekte ek betrokke raak.
“Sy is al 18 jaar deel van die Mej. Heelal-organisasie; daarom het sy die ervaring en is sy ook ’n mentor vir my,” vertel Demi-Leigh oor die “dinamiese vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie”.
Haar woorde is skaars koud of ’n mens hoor Esther op die agtergrond sê DemiLeigh het nog net vyf minute oor vir die onderhoud.
Al het die Mej. Heelalorganisasie ’ n amptelike stilis wat vir haar klere kry en ontwerpers uitsoek, kan sy steeds haar eie styl uitleef.
“Hulle gee my leiding, maar laat my toe om my eie mening te hê. Ek sien ook baie daarna uit om huis toe te kom om saam met SuidAfrikaanse ontwerpers te werk. Hulle was nog net goed vir my en ek wil hulle graag die kans gee om ook hul ontwerpe in die buiteland te vertoon,” vertel sy. Hoeveel tasse pak sy vol vir haar reise? “Dit hang af van waarheen ek gaan, vir hoe lank en van wat ek alles nodig het. Ek het ’n redelik groot tas en kom in dié stadium goed daarmee oor die weg saam met my handbagasie.”
En watter vyf dinge hou sy altyd in haar handsak?
“’n Bottel water, my foon, ’n powerbank (vir die laai van selfone, tablette), lipglans en gesigpoeier.”
Veral op haar reise in die Ooste verlang Demi-Leigh na hartlike huiskos. “Een vanvan my gunstelinggeregte gunsteling is ’n lekker beesstert met stampmielies.” Die kos in Amerika was vir haar tot dusver een van die grootste aanpassings. “Die Amerikaners is lief vir kits- en wegneemetes. Ek hou maar van vars en gesonde kos,” verduidelik sy. Met haar vol program vind sy dit ook soms moeilik om met ’n oefenroetine vol te hou. Hoe kry sy reg om fiks en viets te bly? “Ek het geleer om myself fiks te hou en gesond te bly deur ’n paar oefeninge in my kamer te doen. Ek het my afrigter in New York gevra vir oefeninge wat ek enige plek kan doen en waarvoor ek nie apparate of ma- sjiene hoef te gebruik nie.
“Ek sal oor die algemeen eerder die trap as ’n huisbak gebruik, groente bo skyfies kies en sover moontlik verwerkte kos probeer uitsny.
“Dit is wel moeilik as ’n mens so baie tyd op vliegtuie en lughawens deurbring en ná ’n lang dag moeg en honger is.”
Al mis sy dit om Afrikaans te hoor en te praat bieg sy laggend: “Dis soms lekker dat ek oor die foon kan skinder met niemand naby wat my verstaan nie.”
Dan raak sy ernstig: “Ek dink die taal is altyd iets wat jy sal hê wat eie is aan jou land en wat jou laat terugverlang.
“Maar gelukkig is die maniere van kommunikeer deesdae so goed ontwikkel dat ’n mens met almal in kontak kan bly.
“Ek het Skype en het ook my ouers geleer om dit te gebruik.” Al is die tydsverskil van sewe uur tussen Suid-Afrika en New York soms moeilik, gesels sy elke dag met hulle oor WhatsApp.
Demi-Leigh se ouers het geskei toe sy 18 maande oud was en haar pa en ma is albei weer getroud. Al vier ouers is geheg aan mekaar en op ’n gesamentlike WhatsApp-groep hou Demi-Leigh hulle gelyktydig op die hoogte van waarmee sy besig is.
“Ek het ’n dagboek wat ek hou en skryf gereeld daarin. Baiekeer wanneer ’n mens skryf, sit jy die verlange in woorde om. As die woorde eers neergepen is, is die verlange sommer minder,” verduidelik sy.
“Wanneer ek huis toe verlang, sit ek my Afrikaanse musiek aan, pak ek my kamer reg, skryf in my dagboek en lees ’n lekker boek.”
Daar in die vreemde luister sy graag na Riana Nel, Karlien van Jaarsveld en Die Heuwels Fantasties se musiek. “Ek is ook nogal ’n groot Karen Zoid-aanhanger.”
‘Wat Suid-Afrika my geleer het, is ubuntu – om daar te wees vir mekaar’
Sy moes ook haar geliefde yorkshireterriërs, Bengie en Baxter, in Suid-Afrika agterlaat. Hulle bly vir die jaar by familielede naby Johannesburg.
“Ek dink almal weet al hoe baie ek na hulle verlang,” sê Demi-Leigh. Sy het juis onlangs ’n foto in die sosiale media gedeel van die twee in hondejassies met die woorde “I love NY” – glo om hul nooi in haar jaar as Mej. Heelal te ondersteun.
DIE eerste ding wat sy wil doen wanneer sy huis toe kom, is om haar ouers en halfsuster, die 11- jarige Franje Peters, “’n baie stywe druk” te gee. “Ek het hulle twee maande laas gesien,” sê Demi-Leigh. Dit was toe albei ouerpare, pa Bennie Peters en sy vrou, Elzabé, van Potchefstroom en ma Anne-Mari Steenkamp ( née Nel) en haar man, Johan, van Sedgefield, by haar kroning in Las Vegas was.
“Ek wil in hul arms wees en net ’n lekker aandete saam met hulle eet.”
Demi-Leigh het die grootste deel van haar jeugjare by haar ma-hulle op Sedge- field gewoon. Die slimkop het aan die Hoërskool Outeniqua in George gematrikuleer, waar sy hoofmeisie was.
Toe sy aan die Noordwes-universiteit sakebestuur gaan studeer, het sy by haar pa-hulle in Potchefstroom ingewoon.
Sy het al vertel dat Franje, haar sussie uit haar pa se tweede huwelik, ’n groot rede is waarom sy haar taak met soveel passie aanpak – om hul albei se onthalwe wil sy voluit leef.
Franje is met subtotale serebellêre ontwikkelingstuiting gebore, ’n seldsame afwyking waar die kleinharsings ontbreek. Sy het die intellektuele vermoë van ’n drie maande oue baba. Sy kan nie praat, loop of eet nie en word deur ’n buis gevoed, en Demi-Leigh is baie lief vir haar kleinsus.
Ons hardwerkende Mej. Heelal sal op eie bodem nie net lekker kuier en eet nie.
“Ons het ’n baie druk program,” vertel sy oor die tydjie wat voorlê.
Sy sal onder meer die Sun Met-perderesies in Kaapstad bywoon en haar tuisdorp, Sedgefield, en die nabygeleë Knysna besoek.
As Mej. Suid-Afrika het Demi-Leigh vir die slagoffers van die verwoestende brande daar help geld insamel. “Ek sien daarna uit om te sien hoe hul huise gerestoureer en weer opgebou is en om dit met die mense te deel.”
Nadat haar motor verlede Junie in Johannesburg byna gekaap is, het Demi-Leigh besluit om vroue te help bemagtig.
“Sy het toe as Mej. Suid-Afrika met ’n veldtog begin om onder meer vir hulle met die hulp van selfverdedigingskenners vaardighede te leer om verskillende vorme van aanranding, gewelddadige verhoudings en seksuele teistering die hoof te bied. Sy sal nou van dié Unbreakable-slypskole in Kaapstad en Soweto aanbied.
“Ek wil graag my Unbreakable-veldtog buitelands uitbrei. Ek hoop om vanjaar verhoudings op te bou en mense te ontmoet om dit wêreldwyd te kan doen,” sê sy.
Al het sy die wêreld aan haar voete, is dit duidelik Demi-Leigh weet waar haar wortels lê.
“Wat Suid-Afrika my geleer het, is ons gees van ubuntu – om mekaar te help en daar te wees vir mekaar.
“’n Mens kom eintlik eers wanneer jy begin reis agter watter spesiale band ons met al ons diversiteit in Suid-Afrika het. Nie almal het dit nie.
“New York is ’n baie groot stad en die mense het ’n baie vinnige leefwyse. Hulle leef maklik by mekaar verby. Ek mis dit, al is dit net die kassier in Spar of Pick n Pay wat jou ken en vra hoe dit gaan. ‘Hoe gaan dit met die honde? Hoe gaan dit met jou ma?’
“Dis ook iets wat ek van Sedgefield mis. Op ’n klein dorp is daardie omgee nog groter en selfs meer, want almal ken mekaar.”
En dis juis dié eg Suid-Afrikaanse soort omgee wat Demi-Leigh nou vir die heelal wil wys.