Huisgenoot

Siek meisie “trou” met Spider-Man

Layla, wat aan ’n seldsame kanker ly, se grootste droom het waar geword toe sy en die superheld afhaak

- Deur GABISILE NGCOBO

BAIE meisies fantaseer oor trou met hul droomman, veral ’n superheld wat van die wêreld se skurke ontslae raak.

Maar in Layla O’Neill se geval het die droom waar geword. En selfs al was dit dalk net ’n rukkie lank, was die agtjarige van North Riding, Gauteng, die gelukkigst­e meisie op aarde toe sy haar prins voor die altaar ontmoet in ’n trouskousp­el wat ’n yslike R185 000 gekos het.

Dit was ’n dag gevul met ballonne, borrels, wit duiwe en roosblare en een wat Layla se familie nooit sal vergeet nie.

Die terminaal siek Layla het harte ontroer toe sy op 11 Januarie, omring deur hegte vriende, familie en van haar dokters, met Spider-Man “trou”.

Ons ontmoet Layla en haar gesin ’n paar weke ná haar groot dag. Die dogtertjie het kanker en rus op die rusbank tuis. ’n Kateter hang van haar maag af; haar rolstoel is naby geparkeer.

Hoe was jou dag by die skool, vra ons. “Nie goed nie,” laat hoor sy afgemat.

Maar haar gesiggie verhelder toe ons haar oor haar troudag uitvra. Dit was alles wat sy wou hê en meer, en haar ma, Sharyn, sal altyd dankbaar wees teenoor almal wat haar dogter se groot dag so spesiaal gemaak het.

Baie kinders van haar ouderdom droom van ’n vakansie in Disneyland, maar Layla het altyd ander idees gehad. “Ek wil net met Spider-Man trou,” het sy hoeveel keer vir haar ma gesê.

Layla het ses jaar gelede behep geraak met Spidey. “Ek het gedink dis ’n fase,” sê Sharyn, ’n haarkapper, “maar Spider-Man het haar bron van troos en liefde geword.”

Alles in haar dogtertjie se lewe draai om die gewebde vegter. “Haar skuimbadmi­ddel, tandeborse­l en -pasta het Spider-Man op. Haar klerekas is vol SpiderMan-klere en -speelgoed en sy gaan slaap net as dit onder ’n Spider-Man-duvet is.”

SHARYN lig Layla sagkens op om langs haar te kom sit, en haar eenjarige boetie, Owen, sluit by hulle aan en plant soentjies op sy suster se wange. Ouboet Christian (20) is op die boonste verdieping.

“Mamma, masseer my, asseblief. My rug is seer,” vra die dogtertjie.

’n Seldsame vorm van kanker is by Layla gediagnose­er kort voor sy vier jaar oud geword het. Sy het ependimoom, wat veroorsaak dat gewasse in die weefsel van die brein en rugmurg vorm. Sy het agt gewasse in haar ruggraat gehad toe dit gediagnose­er is – nou het sy sowat 32.

Sy het in 2012 siek geword, en Sharyn, wat van haar pa geskei en intussen met Owen se pa, Warren Hodgson, getroud is, het ’n jaar lank probeer uitvind wat haar makeer. Layla het gedurig hoofpyn gehad, moeilik asemgehaal en geloop, neusbloedi­ng gehad en bloed opgebring.

Dokters het eers gedink dis asma, toe meningitis, toe leukemie . . . Die regte diagnose is eers in 2013 gemaak. Sedertdien gaan Layla se gesondheid agteruit. Teen haar vyfde verjaardag het sy van haar middel af verlam geword en nou is haar ruggraat aan die “smelt”, sê Sharyn.

Toe Layla in Oktober ’n skandering ondergaan, was daar slegte nuus. Dokters het geraam sy het net ses maande oor.

“Ek was die week voor die skandering baie angstig,” sê Sharyn (37), wat kon aanvoel die uitslag sou nie goed wees nie.

Layla het al 16 operasies ondergaan – aan haar brein, maag en rug, asook ’n veloorplan­ting nadat sy haar in die bad gebrand het. Haar spiere kwyn weg, haar blaas het ophou werk en haar nierfunksi­e is swak. Weens haar siekte het sy die leervermoë van ’n vierjarige en woon sy ’n spesialeso­rgskool by.

“Sy het so hard baklei en nou lyk dit asof sy van ons af weggeneem word,” sê Sharyn terwyl trane in haar oë opwel.

Omdat sy gemeen het die tyd raak min, wou Sharyn haar dogter se droom bewaarheid om met Spider-Man te trou.

Eers het sy haar vriend Eugene Nagel, ’n beroepsfot­ograaf, genader en gevra of hy die foto’s sou neem.

“Ons sou dit in my vriend se agterplaas doen, maar Eugene het gesê: “’n Superheld kan nie in ’n agterplaas trou nie!’ ”

Hy het alles uitgehaal om die trouplek en -beplanner en ’n platejoggi­e te reël.

Borge en goedgesind­es het vir die partytjie help betaal, terwyl Sharyn self ook R15 000 bygedra het.

Haar seun se pel Tristan Botes (20) het ingestem om Spider-Man te wees en die pragtige Oakfield-plaas op Muldersdri­f is as trouplek gekies.

Voor die groot dag het Layla ’n bruidspart­ytjie in ’ n skoonheids­alon gehad waar sy en haar “strooimeis­ies” op kolwyntjie­s en niealkohol­iese vonkelwyn getrakteer is.

Die lieflike “bruid” het in ’n perdekar opgedaag. Haar twee beste vriende het haar in haar rolstoel in die gangetjie afgestoot op die maat van die Princelied­jie The Most Beautiful Girl in the World. Layla het ’n blink rok, satynstrik en lang sleep gehad wat die agterkant van haar rolstoel bedek het.

“Sy was in die wolke toe sy Spider-Man sien,” vertel Sharyn. “Daardie glimlag op haar gesig . . . almal was in trane.”

Layla en Spider-Man het hande vasgehou voor hy gekniel het om “hul troubeloft­es af te lê”.

“Die ‘pastoor’, nog ’n vriend van my, het gesê: ‘Spider-Man, belowe jy om altyd daar te wees vir Layla en altyd haar held te wees?’ En hy’t ‘ja’ gesê.”

Toe draai hy na Layla. “Belowe jy om Spider-Man so lank as wat jy leef lief te hê?’ en sy’t ‘ja’ geantwoord.

“En toe sê hy: ‘Sal jy Layla asseblief die ring gee?’ ”

Spider-Man het haar handjie geneem, die ring aan haar vinger gesteek en dit met ’n soen beseël.

Layla se glimlag en die liefde daar sou ’n ysberg kon laat smelt, sê Sharyn. “Ek verklaar julle nou Layla en Spider-Man,” het die pastoor gesê en die gaste het gejuig. Op pad uit is die paartjie met borrels en roosblare oorval terwyl twee wit duiwe losgelaat is.

Op die onthaal het die twee hul SpiderMan-koek gesny wat gaste saam met tuisgemaak­te limonade geniet het.

“My suster het die mooiste toespraak gehou,” sê Sharyn. “Sy het my en my man bedank vir die harde werk wat ons ingesit het en omdat ons Layla ’n verbeeldin­g gegee het.”

Alle oë was op die “pasgetroud­es” gerig vir hul eerste dans op die liedjie All of Me deur John Legend. “Ons sou die ma-endogterda­ns gedoen het, maar Layla wou nie met my dans nie,” sê Sharyn en lag. “Sy het gesê: ‘Nou het ek Spider-Man.’ ”

Dit was kort voor lank tyd dat Spidey vertrek – hy het immers mense om te red en misdade om te voorkom – en die nuwe mev. Spider-Man was glad nie beïndruk nie.

Maar sy het dit gou verwerk en het die aand in die lokaal se wittebrood­suite deurgebrin­g en die volgende oggend ontbyt in die bed geniet.

DIE gesin leef elke dag asof dit hul laaste is, sê Sharyn. En danksy Layla glo sy nou ook in sprokies.

“Ek glo hulle word waar en dat sy haar gelukkige einde gehad het. As jy ’n ma is, wil jy jou kind eendag sien kansel toe stap. Daar was ’n goeie kans ek sou andersins nie kon nie.”

Sharyn se gunsteling­deel van die dag is wanneer Layla wakker word en sê: “Môre, Mamma. Ek is wakker.”

Sy sal nooit die oomblik in die bruidskame­r vergeet nie toe Layla haar ma se gesig in haar hande hou en haar soen terwyl hulle regmaak vir die troue. Sharyn is nugter oor wat voorlê. “Daar is ’n fyn onderskeid tussen werklikhei­d en sprokies, en ons weet wat wag,” sê sy. “Maar tot dan is daar altyd hoop.”

 ??  ?? Layla O’Neill, wat terminaal siek is, het verlede maand met haar droomman “getrou”. Dié sê dit was lekker om deel van alles te kon wees.
Layla O’Neill, wat terminaal siek is, het verlede maand met haar droomman “getrou”. Dié sê dit was lekker om deel van alles te kon wees.
 ??  ?? LINKS: Die drielaagko­ek het by die tema aangesluit. BO: Layla se ma, Sharyn, sê hulle weet wat wag. REGS: Die paartjie open die dansbaan op die maat van John Legend se All of Me.
LINKS: Die drielaagko­ek het by die tema aangesluit. BO: Layla se ma, Sharyn, sê hulle weet wat wag. REGS: Die paartjie open die dansbaan op die maat van John Legend se All of Me.
 ??  ?? Nadat Layla en SpiderMan plegtig beloof het om altyd daar te wees vir mekaar, is hulle op pad uit die trouplek met borrels en roosblare oorval.
Nadat Layla en SpiderMan plegtig beloof het om altyd daar te wees vir mekaar, is hulle op pad uit die trouplek met borrels en roosblare oorval.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa