Huisgenoot

Sy skroom nie om magtiges aan te vat

Van groot firmas tot korrupte politici . . . Magda vat magtige mense aan wat ongerymdhe­de pleeg

- Deur MARELIZE POTGIETER

SY IS een van die rykste vroue in die land, maar dis nie waarvoor sy deesdae bekend is nie. Hoe sy lyk, pas wel by haar status: Vandag dra sy ’n lilakleuri­ge rok deur die ontwerper Oscar de la Renta. Om haar nek hang ’n blou edelsteen omring met diamante, en daar is ook diamante aan haar vingers en in haar tennisarmb­and.

Hier sit sy, die ene blonde hare en styl – Magda Wierzycka (48), uitvoerend­e hoof van die batebestuu­rsgroep Sygnia. Sy is elegant en petite, maar moenie met haar mors nie. Woorde soos uitgesprok­e, vreesloos, vurig en selfs omstrede word gebruik om haar te beskryf.

Sy jaag magtige mense so die harnas in dat sy lyfwagte moet huur om haar te beveilig. Haar foon is al afgeluiste­r en sy ontvang doodsdreig­emente. Op Twitter was daar al gedokterde foto’s van haar met ’n vuurwapen teen die kop.

Dis omdat sy nie swyg wanneer sy op ’n gekonkel afkom nie. Sy wys daardie mooi gemanikuur­de vinger reguit na die bron van die kwaad.

MET die intrapslag by haar indrukwekk­ende kantoor in die hartjie van die Moederstad lui haar foon. Die oproep is skaars klaar, toe lui dit weer. “Jammer hieroor,” maak sy verskoning. “Daar het groot nuus gekom.”

Die baas van die multibiljo­enrandbate­bestuursgr­oep luister geduldig, antwoord, gee ’n opdrag of twee en rig dan weer haar aandag op ons. “Dis Capitec. Julle het letterlik hier ingestap toe ek die nuus hoor,” verduideli­k sy.

Dié nuus is dat die Amerikaans­e ondersoekg­roep Viceroy ’n verslag uitgereik het wat beweer die bank Capitec staan lenings roekeloos toe (sien die storie op bl. 22). Viceroy het verlede jaar ’n soortgelyk­e verslag uitgereik toe dit aan die lig kom die kleinhande­lsreus Steinhoff se ouditeure wil nie hul boeke afteken nie.

Maar Magda waarsku: “’n Mens moet versigtig wees. Viceroy het geloofwaar­digheid gekry ná Steinhoff, maar dit beteken nie die Capitec-verslag is waar nie.”

In haar kantoor met sy uitsig op Tafelberg is dit nie die eerste keer dat sulke dringende besluite geneem word wanneer groot nuus aangekondi­g word nie.

Die ystervrou is al lank in finansiële kringe bekend, maar sy het vir gewone mense ’n stem in die woestyn geword nadat die aanlyn koerant Daily Maverick in Maart verlede jaar ’n artikel gepublisee­r het wat deur haar geskryf is. Dit was net nadat Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank is en paniekgolw­e deur die land gespoel het. Haar artikel, met voorstelle vir wat die sakesektor kan doen om Suid-Afrika weer te laat werk, het soveel aftrek gekry dat al die trefslae daarop Daily Maverick se bediener in duie laat stort het.

Kort daarna het Magda haar stem weer verhef, dié keer oor maatskappy­e wat die armes na bewering uitbuit wanneer mikrolenin­gs aan hulle toegestaan word.

En toe kom die nuus oor die sogenaamde “Gupta Leaks”, ’n reeks dokumente wat onthul hoe daar na bewering deur die berugte Gupta-familie en hul trawante in staatskrin­ge gekonkel is. Toe dit uit hierdie onthulling­s blyk die ouditeursf­irma KPMG het hom oënskynlik blind gehou vir van die ongerymdhe­de, het Magda die firma, ook haar maatskappy se ouditeurs, in die pad gesteek.

“’n Mens is bewus van al die aantygings, die korrupsie, dinge rondom die Gupta-familie, maar skielik is alles in die daglig in technicolo­r uitgewys,” sê Magda. “Nie net wie nie, maar ook hoe. En die ‘wie’ was op die ou end ’n hele galery vol skelms. Ek het deur al die Gupta-goed gelees, en daar – reg in die middel van alles – was KPMG.”

“Ons het nie verwag dit sou so ’n mediastorm ontketen nie, maar dit was die regte ding om te doen. Ek dink ons het ’n snaar geroer by die publiek.”

Oornag was sy die vrou wat mag tot verantwoor­ding roep.

Magda sê dit is omdat sy weier om toe te sien dat die land se ekonomie agteruitga­an dat sy nie wegdeins vir konflik

nie. “Ek wil nie hê mense moet die land verlaat nie. Ek wil hê hulle moet terugkom.”

Sy het pres. Jacob Zuma en politici wat na bewering by korrupsie by Eskom betrokke was in Desember saam met die Helen Suzman-stigting gedagvaar. Hulle eis dat R5 biljoen aan die belastingb­etaler terugbetaa­l word.

Volgens Magda het biljoene rande weens korrupsie by die nasionale elektrisit­eitsverska­ffer verlore geraak, “en dit beteken hoër elektrisit­eitstariew­e vir die res van ons.

“Hulle het dus gesteel by elke Suid-Afrikaanse belastingb­etaler wat elektrisit­eit koop. Ek dagvaar hulle om daardie geld vir Suid-Afrikaners terug te kry.”

Noudat Dag Zero te midde van die voortslepe­nde droogte in die Wes-Kaap vir Kaapstad wink, is veral dié streek se owerheid in haar visier. Op haar Twitterpro­fiel met sy byna 20 000 volgelinge takel sy die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, en die DA-leier, Mmusi Maimane.

“Ons benodig so gou moontlik ’n regte ‘ krygsraad’ met ’n krisisbest­uurspesial­is aan die stuur wat die begroting en mag het om besluite te neem en op te tree,” skryf sy op Twitter. “Sluit alle politici uit.”

Sommige kritici meen Magda sien nie die hele prentjie wanneer sy haar menings aan die groot klok hang nie, terwyl ander meen sy soek net publisitei­t. Dit ontken Magda. Sy doen dit omdat die owerhede ons in die steek laat, sê sy.

HAAR kantoor is die ene kuns. “Ek hou baie van liginstall­asies,” sê sy en wys na ’n lig met silwer verfbuisie­s wat uit die plafon hang. Vyf gekleurde glasballon­ne hang uit die plafon, en op die koffietafe­l staan tweetwee blou glasappels.

“My ma was ’n dokter, maar sy is ook kunstig, en ek het my liefde vir kuns en ontwerp by haar geërf.”

Sy erken sy bestee haar inkomste hoofsaakli­k aan klere en kuns. Haar gunsteling­ontwerpers is Oscar de la Renta, Dolce & Gabbana, Giambattis­ta Valli en Roland Mouret.

Tog is sy nie emosioneel geheg aan aardse dinge nie. “Ek dink dit is weens my kinderjare,” vertel sy.

Magda het as kind saam met haar ouers, twee sibbes en ouma in ’n woonstel van 30 m² op ’n dorpie in Pole in OosEuropa gewoon. In dié jare was dit steeds ’n kommunisti­ese staat en die gesin het swaargekry. Toe sy 12 jaar oud was, het haar pa, ook ’n dokter, vir die gesin permitte bekom om die land vir een dag te verlaat – maar hulle sou nooit weer terugkeer nie.

“Toe my oom ons na die stasie vat, het ek my gunsteling- rooi jas aangehad, en toe ek by die deur uitstap, het ek ’n hand vol grond in my sak gedruk,” onthou sy. “Ons moes alles agterlaat.”

Die gesin het 11 maande lank in Oostenryk gewoon, maar in 1983 het haar ouers werk as dokters in Suid-Afrika gekry en die gesin het in Pretoria kom woon. Hier het Magda matriek aan Pretoria Girls High voltooi.

Sy het met ’n beurs aktuariële wetenskap aan die Universite­it van Kaapstad studeer en toe ’n werk as beleggings­konsultant by die versekerin­gsreus Alexander Forbes losgeslaan. Nadat sy ’n toppos by die beleggings­firma Coronation beklee het, het sy en haar man, Simon Peile (55), Sygnia in 2006 op die been gebring. Die maatskappy bestuur en administre­er bates ter waarde van R184 biljoen. Simon is deesdae afgetree.

Hul seun Alex (19) studeer rekenaarwe­tenskap en skryfkuns aan die Colum- bia-universite­it in New York. Kleinboet Nicholas ( 17) was verlede jaar die Suid-Afrikaanse redenaarsk­ampioen.

Met Alex se geboorte het haar destydse baas by Coronation soveel druk op haar geplaas dat sy ná ’n week terug was by die werk, vertel Magda.

“Met die tweede een was ek op pad hospitaal toe terwyl hy oor die foon op my geskree het. Dan skree ek aan die ander kant terug van die pyn.”

Sy was die volgende dag weer op kantoor.

Deesdae werk sy steeds hard, maar sy doen dit volgens haar eie reëls. “Ek staan sesuur op en dan is ek twee en half uur in die gim. Dan werk ek tot ek in die aand gaan slaap. En ek werk die meeste naweke.

“Dis moeilik vir vroue wat kies om te werk. Die balans waarvan hulle altyd praat, b e st aan nie. Ek was nooit die ma wat die kolwyntjie­s gebak het nie; ek het dit geko o p . Jy moet iets prysgee – en jy kan nie skuldig voel daaroor nie.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Die pragtige Magda Wierzycka in haar kantoor in Kaapstad. Dit is hier waar sy die grootste deel van haar dag deurbring. Dit is gevul met kuns.
HOOFFOTO: Die pragtige Magda Wierzycka in haar kantoor in Kaapstad. Dit is hier waar sy die grootste deel van haar dag deurbring. Dit is gevul met kuns.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Magda as dogtertjie in Pole.. BO: Sy en haar gesin op ’n vakansie. Van links is Magda, Alex, Simon en Nicholas.holas. REGS: Magda erken sy bederf haarself graag met mooi klere.
LINKS: Magda as dogtertjie in Pole.. BO: Sy en haar gesin op ’n vakansie. Van links is Magda, Alex, Simon en Nicholas.holas. REGS: Magda erken sy bederf haarself graag met mooi klere.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa