Capitec: Wat was Viceroy se motief?
Vrae word gevra oor die motiewe agter die navorsingsmaatskappy se omstrede verslag oor Capitec se sakebedrywighede
DIE verslag het skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur. Verbruikers was verstom – hoe kan dit gebeur? Steek daar werklik waarheid in die bewerings dat Capitec, een van die land se topbanke, op die randjie van bankrotskap staan? Dit het nie lank geduur voor die markte daarop gereageer het nie.
Party beleggers kon nie gou genoeg van hul Capitec-aandele ontslae raak nie. Hulle wou nie kanse waag ná die verdoemende verslag deur Viceroy Research nie – dieselfde navorsers het immers verlede Desember die blik wurms oor beweerde onreëlmatighede by die kleinhandelreus Steinhoff oopgemaak, wat ’n afname van 85 persent in dié maatskappy se aandeelprys tot gevolg gehad het.
Nes met Steinhoff het Viceroy nie doekies omgedraai in hul uitspraak oor wat na bewering by Capitec aangaan nie.
“Ons glo Capitec is ’n woekeraar met massief onderaangegewe wanbetalings wat hulle as verskaffer van mikrofinansiering voorhou,” lui die verslag. “Ons glo die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die minister van finansies moet Capitec onmiddellik onder kuratorskap plaas.”
Maar terwyl paniekverkope Capitec se aandeelprys met sowat 25 persent laat daal het, het bankreguleerders Capitec verdedig en gesê die bank is sterk en stabiel en daar is ernstige foute in die Viceroy-verslag. Kort voor lank het die vin- gers eerder na Viceroy as na Capitec begin wys . . .
Nou blyk dit Viceroy het moontlik bymotiewe met hul skokbewerings gehad: om die aandeelprys laer te kry sodat hulle kon geld maak. Finansiële kenners sê terwyl Suid-Afrikaners paniekbevange geraak en hul Capitec-aandele verkoop het, het die outeurs van die 33-bladsyverslag waarskynlik die hele pad bank toe gelag.
WIE IS VICEROY?
“’n Groep individue wat die wêreld anders beskou” – dis hoe Viceroy Research hulself op hul webtuiste beskryf.
Die mense agter die Amerikaanse maatskappy het grootliks anoniem gewoeker tot verlede maand, toe Fraser Perring (44), ’n voormalige Britse maatskaplike werker, homself en twee Australiërs, Gabriel Bernarde en Aidan Lau (albei 23), as die gesigte agter die maatskappy onthul het.
Die mans is wat die beleggingswêreld noem “kortverkopers” (sien die kassie): Hulle maak dikwels hul geld deur hul navorsing oor onreëlmatighede by maatskappye te gebruik om ’n aandeelprys te beïnvloed. Hulle dryf dikwels die prys laer sodat hulle dit teen ’n afslag kan koop en later ’n gesonde wins kan maak as dit weer versterk.
Fraser het as ’n kinderbeskermingsbeampte vir die Lincolnshire-graafskapsraad in Engeland gewerk tot hy in 2014 van die Health & Care Professions Council Register geskrap is. Hy het glo versuim om ’n kind se uitgebreide gesin te kontak om alternatiewe sorg te reël en na bewering daarna gevalleverslae vervals. Hy het die beroepsraad gedagvaar en is £24 000 (sowat R432 000) as deel van ’n skikking betaal.
Hy het geen formele opleiding nie, maar het begin kyk na die wêreld van finansies. Volgens hom het hy in sy eerste drie maande as voltydse navorser meer geld gemaak as in sy dekade in maatskaplike werk.
’n Gemeenskaplike kontak het Fraser in 2016 aan twee jong Australiërs bekendgestel en hulle het begin saamwerk. Terwyl Aidan ingenieurswese aan die Koninklike Instituut vir Tegnologie in Melbourne studeer het, het hy dikwels saam met Gabriel, ’n voormalige skoolklasmaat wat rekeningkunde aan die Universiteit van Melbourne studeer het, aan navorsingsprojekte gewerk.
Albei het belanggestel in kortverkope en Gabriel het glo as ontleder by die likwidateur Ferrier Hodgson snuf in die neus gekry van beweerde probleme by Steinhoff en die inligting aan Fraser oorgedra. Teen Desember verlede jaar, toe die skokonthullings gemaak is wat die meubelhandelaar op sy knieë gedwing het, het Gabriel en Aidan voltyds vir Viceroy gewerk.
Die navorsingsmaatskappy het al verslae gepubliseer oor internasionale maatskappye soos MiMedx Group, NeuroDerm Ltd. en Syrah Resources Ltd. Maar dit was hul werk om die rekeningkundige onreëlmatighede by Steinhoff
verlede jaar bloot te lê wat mense laat regop sit het.
Toe die maatskappy in ’n twiet aankondig hulle publiseer binnekort ’n verslag oor nog ’n JSE-gelysde maatskappy, het die aandele van die farmaseutiese reus Aspen en verskeie ander maatskappye skerp gedaal omdat hulle as die moontlike teikens beskou is. Maar toe is dit die hele tyd Capitec. En al het Fraser al doodsdreigemente oor sy werk gekry, sien hy niks verkeerds met wat hy doen nie. “Ek is mal oor navorsing,” sê hy. “Ek is nie baie goed met beleggings nie, maar het ’n paar miljoen gemaak en besef ek het ’n talent hiervoor. Ek glo ’n maatskappy is reg tot jy hulle verkeerd kan bewys.”
CAPITEC: DIE BEWERINGS
In hul verslag Capitec: A Wolf in Sheep’s Clothing beskuldig Viceroy die bank van “roofsugtige geldleenpraktyke”, die “uitbuiting van mense deur ondeurdagte lenings toe te staan” en van geld leen aan “wanbetalende kliënte” om bestaande lenings te betaal.
Daar word in die verslag ’n verband getrek tussen Capitec, wat hulle beweer “roekeloos uitgeleen” het en ondeurdagte lenings sal moet afskryf, en African Bank, wat in 2014 bankrot gespeel het.
Viceroy beveel selfs aan dat die SuidAfrikaanse Reserwebank Capitec onder kuratorskap plaas.
Fraser hou voet by stuk en beweer hy het binnekennis, maar voorste ontleders het Viceroy se bewerings as twak afgemaak en die Capitec-aandeelprys het intussen herstel.
WAT SÊ DIE KENNERS?
Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, het gesê hulle het ’n geskiedenis van 17 jaar van deursigtigheid. “Ons oorweeg verskeie faktore voor ’n lening toegestaan word, waaronder vorige kredietgedrag, stabiele inkomste wat deur ’n betaalstaat bekragtig word, maandelikse uitgawes en die vermoë om lenings terug te betaal soos beoordeel volgens die kliënt se bankstate.”
Volgens die SA Reserwebank is Capitec solvent, goed gekapitaliseer en likied. “Die bank voldoen aan alle voorsorgvereistes,” het die reguleerder in ’n amptelike verklaring gesê.
Intussen het die tesourie die motiewe agter die Viceroy-verslag bevraagteken.
“Viceroy word nie in Suid-Afrika gereguleer nie en het self toegegee dat hulle voor die uitreiking van die verslag kortverkopers in Capitec-aandele was. Hulle sou dus aansienlik voordeel trek deur Capitec se aandeelprys te laat val met die publikasie van hul bespiegelende verslag oor die bank,” het die tesourie in ’n verklaring gesê.
Kokkie Kooyman, portefeuljebestuurder by Denker Capital, sê dis onregverdig om Capitec met African Bank te vergelyk. Hy sê hoewel die twee in dieselfde bedryf begin het, te wete die leen van geld aan hoërisikoleners, het Capitec ge- leidelik hul sakebedrywighede in ’n ander rigting laat ontwikkel. “Capitec het ook ’n sterk balansstaat, iets wat African Bank teen die einde nie gehad het nie. Die twee maatskappye verskil baie,” sê hy.
Tog meen Clark Gardner, uitvoerende hoof van Summit Financial Partners, Capitec se leenpraktyke is dalk ’n rede tot kommer. “Hulle doen baie dinge waarmee ons nie saamstem nie,” sê hy. “Hulle skep kliënte wat diep in die skuld is en aan die einde van die maand nie die pot aan die kook kan hou nie.”
Hy sê egter die Viceroy-verslag is doelbewus misleidend. “Dis roekeloos om ’n verslag te skryf waarin die gevolge so blatant oordryf word met die doel om die aandeelprys af te dwing.” BRONNE: FIN24, IOL, BUSINESS LIVE, DAILY MAVERICK, VICEROY RESEARCH, MONEYWEB, BUSINESS REPORT, BLOOMBERG, BIGTIME.CO.ZA