Huisgenoot

David Rees vier dubbele fees

David wou hê sy groot verjaardag­makietie moes oor sy meisie gaan – toe vra hy haar om te trou

- Deur MARLISE SCHEEPERS Foto’s: SHARON SERETLO

HY IS ’n perfeksion­is, sal die akteur David Rees ’n mens vertel, nes sy karakter, Chris Welman, in 7de Laan. Maar vanaand hier op die Bosheuvel Country Estate in Muldersdri­f lyk hy besonder senuweeagt­ig, selfs on- geduldig, terwyl hy sorg dat als reg verloop. Hy wys self die gaste waar om te parkeer en maak seker hulle stap verby die wagtende kameras oor die rooitapyt.

Dis Vrydag 2 Februarie en die geleenthei­d is David se 50ste verjaardag­partytjie. Dis ’n belangrike mylpaal in enigiemand se lewe, maar dié gryskop met die hemelblou oë en rasperstem kan maar net nie ontspan nie.

Uitgevat in ’n wit kraaghemp, swart broek en kruisbande, ontvang David elke gas persoonlik. By hom is sy meisie van die afgelope ses maande, die donkerkopr­ekenmeeste­r Lina Pentz (39).

Die sangeres Amor Vittone en die aktrise Deirdre Wolhuter (David se TVvrou, Mariaan in 7de Laan) kom aan en dis ’n gejuig en gewaai soos hulle die gaste groet. Daarna volg David se “TVkinders”, André Lotter (Rickus), Carina Nel (Alexa) en Kristen Raath (Amorey).

Oplaas is die sowat 70 gaste almal in die tuin, en terwyl kelners met drankies en peuselkos tussen hulle rondbeweeg, ontspan David merkbaar. Tot dusver verloop dié produksie seepglad . . .

Die seremoniem­eester, Hennie Jacobs (Diederik in 7de Laan), wens David namens al die gaste geluk met sy verjaardag. Hildegardt Whites (Bonita in die Laan) sluit by Hennie aan en saam sing hulle die countrytre­ffer Jolene. David staan tussen die gaste met sy arms styf om Lina en hulle wieg ritmies.

Daarna wens die sanger en akteur Philip Moolman vir David geluk en sing vir hom die Frank Sinatra-treffer I Did It My Way. Tot dusver net nog ’n lekker verjaardag­partytjie.

Toe roep Hennie vir David en Lina verhoog toe en kry Lina haar eerste verrassing van die aand. “Wanneer laas het jy jou broer gesien?” vra David – en dan daag Chris Hugo (43), wat in die Strand woon, onverwags op. Die oorstelpte Lina bars in trane uit en omhels haar broer.

Maar dan kom die ware verrassing . . . Net daar op die verhoog, ten aanskoue van al die gaste, kniel David voor Lina en hou ’n ring na haar toe uit. “Sal jy my die eer aandoen en my vrou word? Sal jy met my trou?” vra hy.

Lina hou haar hand oor haar mond en kan eers net instemmend knik. Toe kry sy net “ja” uit voor die trane weer rol. Die gaste juig en hy soen haar.

Op 50 het David Rees die grootste verjaardag­geskenk ooit gekry.

ONS gesels die oggend ná die partytjie met die paartjie in Bosheuvel se tuin. David lyk lekker ontspanne met sy kaal voete, denimbroek en T-hemp. Lina se hare spoel oor haar skouers.

“Ek het juis die geleenthei­d gebruik om haar te vra om te trou sodat die partytjie oor haar sou gaan,” verduideli­k David. “Sy sê altyd sy was nog nooit die belle of

the ball nie, maar gisteraand was sy.” Hy draai sy kop na haar en sy glimlag liefies terug.

David vertel dit was liefde met die eerste oogopslag toe hy haar in Johannesbu­rg ontmoet. “Ek het my huis se sleutels verlê en is na my huismaat, wat op ’n afspraak in ’n restaurant was, om sy sleutels te leen. Toe ek instap, sien ek Lina in ’n hoekie sit. Ek het dadelik geweet daar is iets baie spesiaals aan hierdie vrou,” vertel hy.

Die twee het begin gesels en die koeël was deur die kerk. Lina vertel sy het David nie as ’n akteur herken nie, maar “iets aan sy rasperstem” was vir haar bekend. “Ek is baie bly ek het hom nie herken nie. Ek het nou vir die man, die persoon en wie hy regtig is, lief geword. En nie omdat hy ’n akteur is nie,” sê sy.

“Wat ek dadelik van haar agtergekom het,” hervat David, “is haar eerlikheid en oopheid. Sy het my lewe totaal verander . . . Die knop wat altyd in my maag was, het losgekom.”

David se nes is in Bloubosran­d, Randburg, naby 7de Laan se ateljees. Voorheen was hy onder meer te sien in die TV-reeks Egoli, die fliek Susanna van Biljon en toneelstuk­ke soos My Boetie Se Sussie Se Ou en Die Waarsêer.

Lina se woonplek is ’n hele ent weg, tussen Krugersdor­p en Muldersdri­f. Dis dié dat David die afgelope ruk meer by haar woon as in sy eie plek.

David het ’n dogter uit ’n vorige verhouding en Lina twee dogters uit haar vorige huwelik.

En ja, hy het iets gemeen met sy TVkarakter. “Ek is nogal soos Chris wat hoë standaarde betref; ek stel verskrikli­k hoë eise aan myself.” Dis dié dat hy soveel aandag aan die fynste besonderhe­de van die partytjie geskenk het.

“Ek het gisteraand agtergekom ek kan maar alles aan hom oorlaat,” skerts Lina. “Hy luister so goed en alles was perfek.”

David het immers nie net gereël dat die juwelier Wolf Brothers van Clearwater Mall vir Lina ’n verloofrin­g maak nie; hy het selfs haar rok en skoene vir die partytjie gereël.

“Ek gaan die troue ook aan hom oorlaat,” lag Lina.

“Sy vat nie nonsens nie,” skerts David voor hy op ’n ernstiger noot sê: “Wanneer die kinders by Lina is, sien ek dit as die volle pakket.”

Hy het Lina net ná Kersfees na Windhoek in Namibië geneem om sy dogter te ontmoet. “Ek moes net twee mense vra of ek met Lina mag trou: haar broer, Chris, en my dogter,” sê hy. Sy dogter en haar ma het sowat twee jaar gelede Windhoek toe getrek. “Die afstand het dit vir my moeilik gemaak om met my dogter te kommunikee­r; ek was senuagtig en styf. Maar vandat Lina in my lewe is, kommunikee­r ek beter,” vertel David.

Daar is nog geen troudatum nie en hulle het nie planne vir kinders saam nie. “Ons het reeds genoeg kinders na wie ons kan kyk en vir wie ons lief kan wees,” sê hulle.

VRA ’n mens David uit oor hoe belangrik die mense in sy lewe is, raak hy bewoë. “(Ek en Lina) is albei baie privaat, maar ook baie sosiaal. Die mense op my verjaardag is my hartsmense.”

Lina vryf met haar hand oor sy rug en sê: “Vir my is dit die mooiste wanneer David sy sinne begin met ‘gaan ons’ . . . Om elke hoek en draai neem hy my in ag. As ek iets nie wil doen nie, dan doen ons dit nie,” sê sy.

“Ons ry boot, ons ski en ek sal nie verbaas wees as ons volgende naweek gaan rekspring nie,” lag sy. “Ons doen alles en enigiets saam.”

David beam: “Ek is ’n boy’s boy, maar hou niks daarvan om tot laatnag saam met mans in kroeë rond te hang nie. Ek wil ná een of twee glasies na Lina gaan en by haar wees.”

Vir haar is David se blou oë en sy rasperstem die mooiste. En vir hom is Lina die mooiste vrou ter wêreld.

“Sy hart is groter as myne,” sê Lina. “Ek gun hom meer as myself.”

“Ons het die ongeloofli­kste elektriese energie tussen ons,” sê David en steel ’n soentjie. “Ek kan in haar reuk lê tot in ewigheid. Dit is waar ek moet wees.”

Hulle glo dit was bestem dat hulle mekaar eers onlangs moes ontmoet. “Die lewe moes my vorm sodat ek nou by David kon pas. En die lewe moes hom vorm om by my te pas. Ons is nie spyt nie; net gelukkig,” verduideli­k Lina.

 ??  ?? HOOFFOTO: Lina Pentz en David Rees is ses maande saam en nou ook verloof. LINKS: Haar verloofrin­g.
HOOFFOTO: Lina Pentz en David Rees is ses maande saam en nou ook verloof. LINKS: Haar verloofrin­g.
 ??  ?? LINKS: LINKS Amor Vittone (links) en Deirdre Wolhuter was onder die gaste. HEEL LINKS: LINKS Die Laan se Hildegardt Whites en Hennie Jacobs. LINKS BO: David se TV-kinkinders: Carina Nel (links), André Lotter en Kristen Raath. REGS BO: Die aktrise...
LINKS: LINKS Amor Vittone (links) en Deirdre Wolhuter was onder die gaste. HEEL LINKS: LINKS Die Laan se Hildegardt Whites en Hennie Jacobs. LINKS BO: David se TV-kinkinders: Carina Nel (links), André Lotter en Kristen Raath. REGS BO: Die aktrise...
 ??  ?? David het Lina op sy 50ste verjaardag­partytjie voor sowat 70 goeie vriende die jawoord gevra. Sy het gehuil en geknik.
David het Lina op sy 50ste verjaardag­partytjie voor sowat 70 goeie vriende die jawoord gevra. Sy het gehuil en geknik.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa