Huisgenoot

Slanke Jannie Moolman nuwe mens

Nadat Jannie Moolman al die jare op die verhoog selfbewus was oor sy lyf, het hy dit eindelik reggekry om 22 kg af te skud en voel hy beter as ooit

- Deur MARIZKA COETZER

WIE sou kon raai Afrikaans se lieflingte­noor was al die jare selfbewus op die verhoog – en dit oor sy “dubbele ken en pens”. “Ek was on gemaklik en het my vir myself geskaam,” vertel ’n slanke Jannie Moolman vandag. Sy betowerend­e blou oë straal sommer nuwe selfvertro­ue uit.

“Kyk! Ek wil julle iets wys,” vertel die blonde sanger opgewonde. Ons kuier in die French Toast-koffiekroe­g by Hartbeespo­ort, maar sonder dat hy hom aan die omstanders steur, staan hy skielik op, gaan sit dadelik weer en kruis sy bene. Jannie (50) glimlag besonder breed en is duidelik beïndruk met homself.

“Ek kon verlede Julie nie my bene vou wanneer ek sit nie. Daar was te veel maag,” verduideli­k hy. Die spoggerige aandpakke wat hy vir optredes dra, het ook ál stywer geraak. Verlede jaar Julie het hy nog die skaal op ’n stewige 110 kg getrek, maar deesdae weeg hy ’n skrale 88 kg en lyk hy die beste in jare.

“Ek was nog altyd ’n ‘dikketjie’; ek het alewig met my gewig gesukkel,” vertel hy.

Verlede jaar het Jannie eindelik besluit om vir die laaste keer te probeer gewig

verloor. Dis nie asof hy nie voorheen probeer het nie, maar dié keer was daar veral twee spesiale mense wat hom gemotiveer en ondersteun het. Die een is die vrou in sy lewe, Melissa-Jo Sharpe (34), die tandheelku­ndige aan wie hy in November verloof geraak het.

Die ander was sy sangervrie­nd Dozi. Die twee kuier dikwels saam en Jannie moes herhaaldel­ik hoor van die Kaizen Wellness-program wat Dozi gehelp het om ekstra vetjies te laat wegsmelt. Dié het in 2016 in 10 weke so 17 kg afgeskud toe hy die Kaizen-program volg. Dit is gegrond op ’n strewe in die Japannese filosofie om jou aanhoudend te verbeter en so gesond en fiks te word en te bly.

“Dozi het gereeld gesê ek moet die program ’n kans gee. Maar ek het elke keer ’n verskoning gehad,” erken Jannie.

In Augustus verlede jaar het hy eindelik besluit: tot hier toe en nie verder nie. Jannie het ’n afspraak met Jacque Visagie van die Kaizen Wellness-sentrum in Pretoria gemaak sodat hulle vir hom ’n eeten oefenplan kon uitwerk. En binne 12 weke het hy 22 kg afgeskud.

“Ek voel nou soveel beter oor myself. Ek is meer lus om goed te doen. Ek het baie meer selfvertro­ue op die verhoog! Ek kan nie onthou wanneer laas ek so maer was nie,” sê hy.

Tekenend van sy nuutgevond­e selfvertro­ue het hy onlangs in ’n konsert saam met Kevin Leo hier in French Toast sommer spontaan op die tafel geklim en begin sing. “Die weerlig het die krag uitgeslaan. Ek’t toe ’n akoestiese optrede in die donker gedoen en die konsert klaargemaa­k,” lag Jannie oor iets waarvan hy voorheen nooit sou droom nie.

WAT is vir hom die ergste van die hele maerworder­varing? “Ek mag net een glas koeldrank per week drink,” skerts hy.

Dan raak hy ernstig toe hy oor sy jare lange stryd en sy liefde vir trooskos praat. “Wanneer ek gelukkig was, het ek geëet. Wanneer ek hartseer was, het ek geëet. Soetgoed was my einde: van koeksister­s tot wortel- en kaaskoek,” vertel hy oor sy suikertand.

Maar die eetplan wat hy nou volg, is so lekker, hy raak nie eens lus vir soetgoed nie. Die truuk is dat hy alles mag eet, solank hy net matigheid voor oë hou.

“Ek eet lekker en is nooit honger nie,” sê hy half in ongeloof.

“My vaderland! Ek het in my lewe al so baie diëte probeer, veral in my operadae. Wanneer my aandpakke tydens die kleedrepet­isies te knap was, sou ek ’n week lank niks eet nie, net om in die pakke te pas.”

Maar met sy nuwe leefstylpr­ogram het sy eetgewoont­es drasties verander. “Voorheen wanneer ek iets te ete gesien het, het ek onmiddelli­k honger geword. Maar dis nie meer so nie.

“Die probleem was ek het nooit geweet wat ek volgende sou eet nie. Wanneer ek dus besig geraak het, het ek soms ooreet omdat ek nie seker was wat of wanneer ek weer sou kos kry nie,” vertel Jannie.

Deesdae is hy tuis gereeld agter die stoof, waar hy self sy kos vir die week maak en verpak. Melissa berei ook gereeld sy maaltye. “Sy het my nie in die versoeking gelei nie, maar aangemoedi­g. Sy het gesê ek moet volhou met die program en die proses vertrou,” sê hy.

’n Tipiese dag in Jannie se eetplan begin met drie eiers vir ontbyt. “Wanneer ek haastig is, eet ek die eiers sommerso uit die pan uit,” skerts hy.

Vir middagete eet hy maalvleis, aartappels en groente. Aartappels? Jannie lag lekker toe ons seker maak ons het reg gehoor. Ja, hy mag smul aan dié koolhidraa­t wat in die bantingdie­et taboe is.

Aandete is gewoonlik hoender en groente of slaai. En wanneer hy tussen maaltye wil peusel, geniet hy ’n appel. Daarby mag hy een kulmaaltyd per week geniet. En wat eet hy dan? “Skaaptjops met baie vet!”

Hy vermy ook nie heeltemal die soetgoed nie. Wanneer hy tydens ’n optrede koeksister­s kry, eet hy een of twee, nie langer die hele dosyn soos in die verlede nie, vertel hy. “Ek verlang nie meer so erg na soetgoed nie.”

Die ander deel van sy gewigsverl­iesplan is oefening. Hy en Dozi oefen vyf oggende per week saam in Dozi se huisgim en volg ’n uitgewerkt­e program van strekbeweg­ings, kardio-oefeninge en oefeninge met gewigte. Wedywer hulle om te sien wie die mooiste spiere het? Jannie lag. “Nee, ons bult nie ons spiere vir mekaar nie. Ek beplan ook nie om ’n spiertier te word nie; ek is oor dit.”

Om die gewigsverl­ies te handhaaf, volg hy steeds getrou die eeten oefenplan. Hy vertel sy transforma­sie is nog nie klaar nie en hy beplan om vanjaar nog 6 kg te verloor.

Gedurende die Kersvakans­ie het hy ’n bietjie gekul, maar in dié tyd het hy nie eens 1 kg aangesit nie.

TEEN November verlede jaar het Jannie nie net soos ’n nuwe mens gevoel nie; hy het kompleet soos ’n nuwe een gelyk. Met die Afrikaans Is Groot-konsert daardie maand moes die stilis op die nippertjie ’n hele nuwe garderobe vir hom reël.

“Sy het die klere van Classics Is Groot, wat in Julie gehou is, vir my saamgebrin­g. Maar niks het meer gepas nie.”

Sy baadjiegro­otte het voorheen gewissel tussen no. 48 en 51, en sy broekgroot­te was tussen 42 en 44. Deesdae dra hy ’n no. 40-baadjie en no. 34 of 36-broek.

Hy het nog nie ’n nuwe klerekas vir sy nuwe figuur aangeskaf nie en dra steeds soms sy “vet klere”. “Ek is heeltemal te arm vir ’n nuwe klerekas,” skerts hy.

“Ek weeg nou die minste wat ek in 16 jaar geweeg het. Dit is lekker om maer te wees, en dis lekker om in aandpakke te pas!”

 ??  ??
 ??  ?? BO: Hy is nie meer skaam oor sy lyf nie. REGS ONDER: Jannie (middel) en sy oefenmaat, Dozi (regs), by Jacque Visagie van die Kaizen Wellness-sentrum.
BO: Hy is nie meer skaam oor sy lyf nie. REGS ONDER: Jannie (middel) en sy oefenmaat, Dozi (regs), by Jacque Visagie van die Kaizen Wellness-sentrum.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa