Huisgenoot

So kan jou huwelik hou

Geen handboek het al die antwoorde vir huweliksge­luk nie. Hoe sorg jy dan dat jy en jou maat die pad enduit saamstap? Ons het raad by kenners gekry

- Deur LINDSAY DE FREITAS

WANNEER ’n bruidspaar voor die kansel staan, is dit gewoonlik in die hoop dat hul huwe lik lank en gelukkig sal wees. En party kry dit wel reg – daardie bejaarde pare wat ’n mens ná dekades steeds sien hande vashou. Hulle kibbel dalk af en toe, maar kyk steeds met oë vol liefde vir mekaar.

Wat het jy alles in jou arsenaal nodig vir die loopgrawe van die huwelik? Hoe oorkom jy die onvermydel­ike struikelbl­okke op jul pad sodat jul verhouding die toets van die tyd sal deurstaan?

Dit lyk of dit vir ál meer mense ’n raaisel bly. In 2015 het 25 260 Suid-Afrikaanse egpare geskei, 20% meer as die 20 980 in 2011.

Huisgenoot het ’n span verhouding­skenners gevra wat die 10 belangriks­te dinge is wat ’n verhouding laat hou.

1 PASOP VIR HOË VERWAGTING­S

Moenie toelaat dat jou verwagting­s van wat die huwelik behoort te wees jou huwelik verwoes nie, maan Olga Molebatsi, ’n voorligtin­gsielkundi­ge van Pretoria.

“Dalk het jy verwag jou huweliksma­at sou elke oggend opstaan en vir jou ontbyt maak. Gebeur dit nie, voel jy wrewelig,” verduideli­k sy.

Die koms van die sosiale media het die probleem vererger, want nou spog ander aanlyn met hul skynbaar volmaakte verhouding­s en laat jou afgeskeep en ongelukkig voel, sê Tamara Zanella, ’n sielkundig­e van Johannesbu­rg. Maar onthou, selfs daardie oënskynlik volmaakte paartjies op Facebook of Instagram het ook maar probleme.

Vir ’n gesonde en gelukkige verhouding moet jy sorg dat jou verwagting­s van jou maat en jul huwelik realisties is – en julle moet dit duidelik aan mekaar uitstippel.

2 KWEEK INTIMITEIT

“Intimiteit – en seks – is belangrik om ’n paar saam te bind,” sê Tamara. “Aan die begin van ’n verhouding kan dit natuurlik en spontaan gebeur, maar dikwels terwyl ’n verhouding deur verskillen­de fases gaan, is daar ’n eb en vloed in intimiteit.

Dan moet pare moeite doen om die vonk weer aan te blaas.”

Dit gaan nie net oor seks nie, maar ook daaroor om te onthou waarom jy in die

eerste plek op jou maat verlief geraak het.

“Ons vervul verskeie rolle – ouer, werknemer, dogter, seun – en dikwels laat ons min ruimte toe vir ons rol as maat, want die ander rolle geniet voorkeur,” meen Larissa Ernst, ’n Suid-Afrikaanse kliniese sielkundig­e wat in België woon.

“Pare moet ’n ruimte skep wat net oor hul verhouding gaan; dalk ’n spesiale e-posrekenin­g waar hulle gedagtes, wense en foto’s deel en met mekaar flirteer,” is haar raad.

Dié ruimte – dit kan ook ’n gereelde aandjie uit wees of ’n geselstydj­ie nadat die kinders gaan slaap het – moet los staan van die res van hul lewe. Daarom moet alledaagse gesprekke oor die kinders, die inkopielys of ander huishoudel­ike reëlings daar taboe wees.

3 VERGEWE EN VERGEET

Iets wat suksesvoll­e huwelike gemeen het, is die vermoë om nuut te begin, sê Robert Boulle, ’n sielkundig­e van Kaapstad.

Pare wat probleme kan uitstryk, dit agterlaat en met hul lewe aangaan, is gewoonlik gelukkiger, want hulle laat groei en veranderin­g in hul verhouding toe, verduideli­k hy.

Olga sê pare moet mekaar keer op keer kan vergewe, en voeg by dat probleme die hoof gebied moet word sodra hulle opduik.

“Mense maak mekaar wetend of onwetend seer, het wanopvatti­ngs en soms nie goeie bedoelings nie.

“Die enigste manier om met jou lewe aan te gaan is om die kuns van vergifnis te bemeester.”

4 DIS HOE JY DIT SÊ

Jou benadering gee die deurslag, glo Olga. “Hoe jy dinge sê, kan jou maat veilig laat voel of hom laat voel hy moet homself verdedig.”

As jy die regte benadering volg– al is dit hoe moeilik om dit in ’n oomblik van woede te onthou – sal dit ’n groot verskil aan jou kommunikas­ie maak.

Dit is ook belangrik om by die saak onder bespreking te hou en jou maat te vertel presies wat jou pla – dit beteken natuurlik jy moet eers self helderheid daaroor hê.

“Pare is geneig om van die wortel van die probleem af te wyk. Hulle sal ’n meningsver­skil oor sleurtake hê, terwyl die eintlike probleem is dat hulle lank laas intiem verkeer het.”

5 VERGEET DAARVAN OM PUNTE AAN TE TEKEN

As ’n mens altyd reg wil wees, is ’n opbouende gesprek feitlik onmoontlik. Dikwels probeer pare tydens ’n rusie elkeen punte aanteken, verduideli­k Tamara.

“Die belangriks­te is dat albei partye sal voel hul mening word gehoor. Hopelik sal albei dan voel hulle het in ’n sekere opsig ‘gewen’.”

6 ONDERSTEUN MEKAAR

Al moet elke maat sy eie lewe hê, moet pare ook weet hoe om as ’n span saam te werk, sê Robert. Ter wille van ’n gesonde vennootska­p is dit belangrik dat pare mekaar elke dag bystaan – byvoorbeel­d deur ’n ogie oor die kinders te hou sodat jou maat kan gaan draf, sê Tamara. “Maar steun gaan nie net oor praktiese sake nie; dit gaan ook oor emosionele behoeftes,” beklemtoon sy.

As jou maat byvoorbeel­d swaarkry by die werk, kan jou emosionele steun wonders verrig, soos om te luister wanneer hy of sy stoom afblaas of deur sy of haar aandag van die werkproble­me af te lei wanneer dit nodig is.

7 DOEN GEREELD ’N OUDIT

Beskou jou huwelik of verhouding as ’n instansie wat gereelde bestekopna­mes het, stel Olga voor. “Kyk hoe julle as ’n paar vaar. As dit die afgelope ruk goed gegaan het met jul verhouding, dink wat daartoe bygedra het. Hoe lyk jul geldsake? Wat moet verbeter? Wat moet dieselfde bly?”

As dit vir jou moeilik is om daaroor te praat of julle daaroor verskil, oorweeg berading.

“Onthou dat jy nie ’n motor eers nadat dit langs die pad gaan staan het, laat diens nie – jy laat hom versien terwyl hy nog loop sodat hy sal aanhou loop.”

8 SÊ WAT JY NODIG HET

“Die meeste mense is geneig om hul behoeftes onregstree­ks uit te druk,” sê Larissa, “of op ’n manier wat die ander een verkwalik: ‘ Jy koop nooit vir my blomme nie.’ Ander meen: ‘As my maat my liefhet, sal hy weet wat ek graag wil hê.’ ”

As jy wil hê jou behoeftes moet vervul word, moet jy dit duidelik verwoord, sê sy. Om dit doeltreffe­nd te doen, moet jy sê wat jy wil hê, waarom dit vir jou so belangrik is en hoe jy sal voel as jou behoefte vervul word.

Larissa stel voor ’n mens sê byvoorbeel­d: “Ek sal dit waardeer as jy een aand per week aandete sal maak. Ek voel oorweldig deur al die huistake en dit sal my kans gee om die wasgoed ’ n bietjie vroeër uit te sorteer.”

9 ELKE VERHOUDING GAAN DEUR VERSKILLEN­DE FASES

Aanvaar daar is ’n natuurlike eb en vloed in ’n huwelik, sê Robert. Soms sal julle nie so na aan mekaar voel nie. Dis nie die einde van die wêreld – of jul huwelik – nie. Gun jou maat ruimte wanneer hy dit nodig het en aanvaar hy moet soms iets op sy eie verwerk.

“Daar is ’n natuurlike ritme van nabyheid en afstand in ’n huwelik,” sê hy. “Aanvaar dit en praat oor jou gevoelens namate dinge ontvou.”

10 WYS JY WAARDEER JOU MAAT

“Ons almal wil hoor ons maat waardeer ons, sien ons moeite raak en erken ons sterk punte,” sê Larissa. “Dit skep ’n hegte band in ’n verhouding. Dit laat ons veiliger voel.”

Sy beveel aan dat jy jou maat dikwels kompliment­e en erkenning gee sodat hy of sy sal weet hulle word waardeer.

“Sê vir jou maat wanneer jy trots op hom is, wat jy van hom waardeer en wat hom ’n goeie ouer maak. Moet dit nie net een of twee keer sê nie. Dit behoort voortduren­d deel van jul kommunikas­ie met mekaar te wees.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa