Huisgenoot

Kortverhaa­l: Pasmaats

Leon se vrou vergeet haar tablet op die bedkassie en hy doen ’n aaklige ontdekking

- Deur DAWIE LOUW Illustrasi­e: ELMARIE MEYER

LEON staar verstom na die skerm van Mitzi se tablet. Wat op aarde? Hy het nie doelbewus wou kyk nie, maar nou sien hy dit. Dit is ’n profiel op ’n maatsoekwe­btuiste. En soos hy lees, verander sy verstommin­g in skok. Hierdie profiel is vroulief Mitzi s’n! Stouterd van P (50) soek mans net vir pret.

Hy sit verdwaas op die bed met die tablet op sy skoot. Mitzi moes die ding per abuis hier op die bedkassie vergeet het, langs die meubelstuk wat reeds 25 jaar hul twee se huweliksbe­d is. En nou dít?

Hy kom orent en oorweeg dit om die tablet af te skakel, te maak of hy dit nie gesien het nie. Maar toe sit hy en lees weer: Ek is ’n jong 50, getroud, verveeld en reg vir stoute pret. En enigiets wat daarop kan volg. Sal my foto (wat nie sal teleurstel nie) net aan die regte kandidate wys.

Leon skud sy kop. Nee, dit kan nie wees nie; tog, die beskrywing op die profiel vertel wat hy nie wil sien nie: Kort bruin hare, groen oë, wulps van lyf, 1,55 m lank, baie aantreklik, lief vir tennis en kos kook, en sommer ’n rits ander dinge wat sê ja, dit kan net sý vrou wees.

Toe hoor hy Mitzi se motor in die oprit, terug van die tennisbaan wat sy Saterdagmi­ddae besoek. Hy skakel haastig die tablet af en plaas dit op die bedkassie waar hy dit gekry het. Sal hy sy vrou trompop loop en op ’n verduideli­king aandring? Nee, hy moet eers sy kop skoonkry. Buitendien is daar dalk ’n verduideli­king vir alles.

Die volgende oggend dwaal hy in die tuin rond, vasbeslote om uit Mitzi se pad te bly. Dankie tog dis naweek en sal hy tyd hê om effens tot verhaal te kom. Net jammer die seuns kom oor vir hul weeklikse rugby op TV kyk en daarna vleisbraai. Vandag het hy nie lus vir geselskap nie en buitendien moet hy sy plan enduit bedink, die plan om agter die kap van Mitzi se pasmaatbyl te kom.

Want hy besef nou finaal dat daardie profiel wel sý vrou s’n is.

Sy vrou, ’n pragtige brunet wat reeds 25 jaar lank sy lewe en dié van hul drie seuns deel. En nou dít? Om nou, ná soveel jare, met ’n flirtasie te begin? Erger, flirtasies in die meervoud, wat alles kan vernietig? Maar een ding is seker: Hy sal nie net agteroor sit en sy vrou verloor nie. Sy plan is agtermekaa­r en van môre af sal die poppe dans.

SONDAGAAND sit hy in sy studeerkam­er voor sy rekenaar. Mitzi is vroeg bed toe met haar tablet waarop sy ’n liefdesdra­ma lees. Nou goed, dink Leon, die verhoog is gereed sodat die drama kan begin. Ja, sommer vanaand nog sal hy weet.

Hy teken in op die maatsoekwe­btuiste en ’n halfuur later is Pretmaker van P (53)

se profiel gereed. Hy luister in die rigting van die stil slaapkamer en sy eerste boodskap aan Stouterd word getik. Nie geweet mens kry nog sulke stout vroutjies nie?

Hy stuur die boodskap weg en 5 minute later stap hy ewe luiters slaapkamer toe. Sy hart klop wild toe hy sien Mitzi lê en tik, maar toe hy op die rand van die bed plaasneem, laat sy die tablet ewe kalm op haar bors sak.

“Ek sal nog ’n rukkie daar in die studeerkam­er wees,” sê hy. “Dis môre direksieve­rgadering.” “Alles reg, Leon; ek geniet my boek.” Met ’n hart wat nou éérs tamboer, stap hy terug studeerkam­er toe, en wrintiewaa­r, haar antwoord wys op die skerm. Hy neem plaas en lees.

Nie geweet mens kry nog mans wat van stout vroutjies hou nie. Waar woon jy? Hopelik naby? Ek’s in Pretoria.

In die dae wat kom, leef Leon in ’ n dwaal. Asof hy hoofkarakt­er en gelyktydig toeskouer is van ’n drama wat voor sy oë afspeel, tussen Pretmaker en Stouterd. Soms knyp hy homself. Is hy rêrig wakker?

Wat hom die meeste verbaas, is hoe kalm Mitzi alles hanteer. Kan ’n mens rêrig ’ n kwarteeu lank saam met ’ n vreemdelin­g leef? En hoe lank is sy met hierdie streke van haar besig?

Hy bly nou saans langer op kantoor om ná werkure met Stouterd te gesels. Die gesprek vloei en soms kan hy nie glo dat hierdie avonturier sy eie vrou is nie. Tot hy haar eindelik oorreed om haar foto vir hom oop te maak.

Sal hy daai oomblik vergeet toe hy sy eie vrou se foto voor hom sien . . . Hy staar lank na die pragtige vrou in die tennisrokk­ie asof hy haar vir die eerste keer in jare raaksien.

Jou man? skryf hy dieselfde aand. Hoe seker is jy hy weet nie van jou streke nie?

Doodseker, maar al het hy geweet, sal hy nie omgee nie. Hoe so, Stouterd? Hy sien my jare reeds nie meer raak nie; so hoekom sal my avonture hom pla? My drie seuns sien my ook nie meer raak nie. Nes hul pappa. Ek’s net ’n meubelstuk in die huis. Wat daar hoort, veral in die kombuis.

Is dit jou eerste avontuur met ’n ander man?

Ja, ongelukkig is dit. Ek moes al jare gelede hiermee begin het. Ek’s mal oor die opwinding. Is jy nog lief vir jou man? Ja, sal altyd wees. Maar op 50 is my lewe besig om verby te gaan. Ek wil nog een keer iets vir ’n man doen. Begeerlik voel. Verleideli­k wees. Soos ’n ware vrou voel.

Wanneer kan ons mekaar ontmoet, Stouterd? Ons ken mekaar nou langer as ’n week. Ek wil eers jou foto sien. En as jy teleurgest­eld is? In my voorkoms?

Ek sal nie wees nie, Pretmaker. Ek weet dit net.

Wat as ek op jou verlief raak? Wat maklik kan gebeur.

Dit sal wonderlik wees om te weet iemand is weer verlief op my. En as jy my hart breek? Dit sal jammer wees. Dis hoekom ek eerlik op my profiel is: dat ek getroud is en net opwinding soek.

As jy van my foto hou, sal jy met my liefde maak?

Nee, nie liefde maak nie; stout wees wel. Daar’s ’n verskil. En jy hoef nie jou foto te stuur nie. Ek weet sommer ons twee sal lekker kliek. En baie pret hê.

Goed, tyd vir aksie. Wat van ons twee gaan hierdie naweek iewers heen?

Hierdie naweek al? Wow, Pretmaker, ja, dit sal lekker wees. Waarheen?

Ek sal laat weet. Maar wat van jou man? Sal hy nie iets agterkom nie?

Ek sê mos hy sien my skaars raak. Ja, kom ons gaan weg vir die naweek. Ek sal sê dis ’n tennistoer­nooi. Buitendien sal hy en die seuns seker weer heelnaweek rugby op TV kyk.

DIE res van die week verdiep die koma waarin Leon leef. Hy kom saans ál later tuis en sukkel dan om Mitzi in die oë te kyk omdat hy besef dat Stouterd reg is.

Sy het inderdaad ’n meubelstuk geword, ’n pragstuk wat hy hoeveel jare al miskyk. Hoe kon dit gebeur het? Boonop is hy nou vir die heel eerste keer jaloers – op Pretmaker wat besig is om sy vrou blatant af te vry.

Die volgende aand staan Mitzi voor die stoof en Leon staan agter haar. Skielik kan hy homself nie inhou nie en sit sy arms van agter om haar. Hy skrik toe hy al die vroulikhei­d teen hom voel. Kurwes en lyne, sag en sierlik. Maar toe voel hy hoe haar lyf teen syne verstyf.

Liewe hemel, wanneer laas het hy haar vasgehou? Ja, dit wat nou tussen Pretmaker en sy vrou gebeur, is sy, Leon, se verdiende loon.

“Kom ons gaan weg vir die naweek, Mitzi,” hoor hy homself sê.

Sy draai om na hom, groen oë in verbasing gerek. “Hierdie naweek? Weg? Waarheen?”

“Maak nie saak nie, enige plek, solank ons net saam kan wees.”

Sy staar na hom, groen oë onseker, amper agterdogti­g. Toe kom die woorde wat hy gevrees het: “Nie hierdie naweek nie, Leon. Ek het ’n tennistoer­nooi. Buitendien, wat van jou rugby? Speel die Bulle nie teen die Valke nie?”

Hy neem by die kombuistaf­el plaas. Hy wil uitbulder dat hy weet sy lieg. Sy is besig om hom, haar wettige man, te verneuk. Toe tref dit hom. Wettige man? Ja, natuurlik, wat anders? Hy was in jare geen ander man vir haar nie.

Later sit hy by sy rekenaar in die studeerkam­er. Mitzi is oudergewoo­nte vroeg bed toe met daai ewige tablet van haar. Tablet? Nee, dis eintlik saam met Pretmaker dat sy bed toe is.

’n Pasmaatboo­dskap klingel in sy inmandjie van Stouterd af.

Slegte nuus, Pretmaker, ek dink my man vermoed iets. Hy’t my pasmaatpro­fiel op my tablet gesien. Wat! Hoe? Was jy agtelosig? Nee, ek het dit met opset gedoen. Ek wou hom voorberei. Anders sou alles te veel van ’n skok vir hom gewees het. Hy moes veral weet hoekom ek dit doen. Dat ek nie langer gaan toelaat dat ek so verwaarloo­s word nie. Verstaan jy? Ja, Stouterd, ek verstaan. Uiteindeli­k. Ek’s bly, Pretmaker. En weet jy wat? Ek wil nie wag tot dit naweek is nie. Hoekom nie? Ek wil jou arms om my voel, Pretmaker. Ek wil voel hoe jy my begeer. En ja, ons gaan stout wees én liefde maak. Wanneer? Vanaand nog. Vanaand nog? Waarvan praat jy, Stouterd? Waar gaan ons liefde maak?

Hier in ons slaapkamer, Leon. Ja, kom weg daar uit die studeerkam­er. Jou vrou, Mitzi, wag vir jou. Hier in ons huweliksbe­d. En maak gou, voor Pretmaker jou voorspring.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa